Op my tagtigste verjaarsdag

Ek sit in die onthaalarea van my dogter se argitekontwerpte huis. Die geleentheid is my tagtigste verjaarsdag. My drie kinders en hulle gades en natuurlik ook ander vriende is hier vir die geleentheid. Kleinkinders ook, maar net enkeles want deesdae is die meeste kindskinders in ander lande.

My gedagtes loop wye draaie na wat was en wat nou is. Iets wat my pla, is wat gaan ons kindskinders eendag onthou van hulle kleintyd? Die “onthou jy nog?” wat ons geslag mense aan mekaar vra as daar so ’n geleentheid is soos vandag? Daar is ook ander vrae: Met kinders wat vandag eers trou na dertig, gaan daar ’n geleentheid wees vir hulle ouers om ouma- en oupabederfies uit te deel? Van agterkleinkinders nie eens te praat nie.

Met die alleenwees wat weduweeskap meegebring het, het ek baie tyd om te dink. Hier sit ek in my rystoel in die lentesonnetjie en luister na die kinders en die vriende se geselskap. Alles draai om wêreldse welvaart en geld – die prioriteit in hulle lewens. Daar is lang ritse grade en geleerdheid maar dit ontbreek aan samehorigheid en deernis.

Af en toe probeer een van die kinders my betrek by die geselskap maar my gedagtes is nie by hulle of die geleentheid nie. Ons het in ons saamweestye gelag en partykeer trane weggepink as ons onthou het van wat wie nou weer aangevang het. Die gelag en rumoer wat met so ’n geleentheid saamgegaan het, is iets om te onthou.

Waaroor praat my kleinkinders met mekaar? Hoeveel playstation-speletjies het jy nou al baasgeraak? By watter gym oefen jy? Hoeveel meisies het jy al “gedate”? Oorweeg jy en jou geliefde om saam in te trek?

Nee wat, ek mag baie oudmodies klink, maar ek verlang na die ou dae. In my verbeelding dink ek terug aan die outydse hofmakery waar daar nog vir die ouers gevra is of jy hulle dogter kon sien; nie die toeter voor die deur om te laat weet: ek is hier, kom ons ry, of “Ontmoet my by die pub om sewe uur” nie.

Waar is die pa-en-kind-verhouding? Pa is altyd op pad iewers heen, hetsy hier of oorsee; ’n nuwe projek wat afgehandel moet word. Ma in haar eie professionele werk, te besig met haar eie dinge sodat sy nie gepla kan wees met kinderbehoeftes nie. Spertye staan in die pad van alles, selfs tyd om ’n behoorlike gesprek met manlief te voer.

In ons meer as 50 saamweesjare het dinge anders verloop. Daar was miskien nie tyd om altyd aandag aan almal se behoeftes te gee nie, maar toe die tyd aangebreek het dat ons rustiger kon raak, het ons probeer om na almal se behoeftes om te sien.

Kleinkinders veral het Oupa se spesiale aandag geniet. Van elkeen se geliefkoosde gereg is daar vir hom of haar spesiaal voorberei. Chrisjan het van slap tjips gehou. Wanneer hy kom kuier het, het Oupa vir hom ’n groot bak gemaak. Hy kon eet soveel as wat hy wou. Partykeer tot naarwordens toe. Allie het gehou van spaghetti bolognaise. Oupa het sommer vir hom ’n hele blikkie oopgemaak. Ma het geraas, maar Oupa het bederf.

Pannekoekbakdag het die kleinkinders veral geniet want hulle kon al die floppies verorber nog voordat die pannekoek klaar gebak is. Pannekoek was Oupa se idee van bederf en hy het sommer tjoef-tjaf dosyne gebak. Die kleintjies het gewedywer om te sien wie die meeste pannekoeke kon eet.

Nee wat, ek moet nou ophou terugdink aan vervloë dae en dankbaar wees vir die tyd wat nog oorbly saam met my kinders. God se genade is groot en vir tagtig jaar was dit vir my ’n voorreg om die soet en suur van my en my kinders se lewens te kon geniet en beleef. Al die oppe en die affe. Daar is net die gemis aan hulle wat weens omstandighede die dag nie saam met my kan vier nie. Sommige is te ver en te sieklik om hier te wees en ander sal ons eers weer in die hiernamaals ontmoet.

So klink saam met my ’n glasie en miskien is ek nog hier om ’n volgende verjaarsdag saam met julle te vier. Ek is dankbaar teenoor die Skepper vir die liefde van my familie en die herinneringe wat hulle my help skep het. So, prosit!

This entry was posted in Herinneringe and tagged . Bookmark the permalink.

14 Responses to Op my tagtigste verjaarsdag

  1. toortsie sê:

    Mag ek maar sê: “Tannie Klippie”? Want ek is nog uit die ou skool waar ons mense uit respek tannie of oom noem.
    Hartlik hartlik geluk met tannie se 80e verjaarsdag! Wat ‘n wonderlike ouderdom! Mag daar nog baie jare van vreugde en gesondheid wees!
    Ek bewonder iemand van 80 wat nog haar eie blog bestuur. Dis voorwaar ‘n prestasie!
    Mooi dag vorentoe!

    • klippie sê:

      Baie dankie vir die gelukwense. Ek hou ook van die ou gewoontes van “tannie” en “oom” maar aan die ander kant het ek al gewoond geraak daaraan dat jong mense my sommer op die naam noem. In die ou dae was ons mos geleer dat mens nie iemand wat 10 jaar ouer as jy was sommer kon “jy” en “jou” nie, maar tye verander. Partykeer dink ek dat die jong mense makliker met my praat juis omdat hulle nie vir my hoef “tannie” te se nie.

  2. Jen sê:

    Sjoe! Baie Geluk! Hoop dat die nuwe lewensjaar sal oorloop van vreugde!

    Ek is nog effens ver van 80 af, maar voel ook nogals dat ek die ‘ou dae’ mis! die lewe is deesdae so anders as toe ek ‘n kind was. Ek raak sommer omge-ellie as ek daaroor dink dat ons kinders niks van die ‘onthou-jy-nog’s gaan hê wat ons het nie, net omdat die lewe dit nie toelaat nie.

    Baie mooi post, dankie vir die memories!

  3. Anna F sê:

    Sjoe ouma Klippie, watter WONDERLIKE voorreg om onverwags op hierdie saterdagoggend op hierdie blog af te kom! Ek stem saam Toortsie dat iemand op hierdie mooi ‘jong’ ouderdom nog lus kan wees om ‘n blog te hê.. Baie geluk, en ook geluk met die mooi ouderdom! My ma word ook 80 vanjaar en ek wonder wat sy oor ons sou geskryf het as sy die pen moes opneem. Dankie vir die uit die hart woorde. Ons is nou op die ouderdom waar gesprek maar baie keer draai na materiële welvaart en die kinders spog oor prestasie op playstation gebied. Ek wens ek kon vir ‘n teetjie oorkom en sommer gesels oor alles en nog wat , maar ek glo ek sal maar tee op Klippie se blog kom drink…

  4. Erica sê:

    Baie dankie hiervoor, Klippie. Dit het my ook laat nadink oor baie goed. My skoonma het ook onlangs verjaar en dit het maar gegaan soos in die beskrywing hierbo. Nou dink ek aan alles wat ek vir haar wou vertel en al sal sy waarskynlik nooit lees wat ek hier skryf, kom dit uit my hart.
    Dankie, Ma vir alles wat Ma is en doen. Dankie dat Ma my geleer het wat ware Christenskap is, sonder om ooit vir my te preek. Ek het so baie geleer by Ma, veral dat die oordeel ons nie toekom nie. Dankie dat Ma bereid was om op ‘n gevorderde ouderdom al die kleinkinders se skete te aanvaar en my daardeur gehelp het. Daar is min oumas wat ‘n kleinkind het wat ‘n verhouding oor die kleurgrens het en dan ‘n ongehude ma word en wat dan kleertjies koop vir die kleinding en opgewonde raak oor die geboorte. Daar is min oumas wat ‘n ou aanneem kleinkind het wat HIV positief is en wat dit aanvaar en liefde uitstort op die kleinding. Min jonger mense kan dit hanteer, tot ek met my liberale sienings sukkel party keer daamee. Tog verstaan Ma altyd en kan ek altyd by Ma kla sonder dat ek verwyt word, dan se Ma net, “Solank hulle lief is vir mekaar, dis al wat saak maak”. Dankie, Ma, ek is ‘n beter ma en veral ‘n beter ouma deur Ma se voorbeeld. Ek is lief vir Ma.
    Dankie, Klippie dat ek jou blog kon kaap om my hart uit te stort. Gods rykste seen en mag jy nog lank vir ons en jou familie gespaar bly.

    • klippie sê:

      Dankie, Erica dat jy my blog geleen het vir hierdie pragtige boodskap. Ek is seker jou skoonma sal hierdie woorde waardeer want ek weet dit kom uit jou hart. Sterkte met jou kleinkinders. Op die ou end dink ek is liefde die grootste gawe wat ons aan hulle kan gee.

  5. seegogga sê:

    Baie geluk, tannie Klippie! Sjoe, watter mooi voorbeeld stel u vir ons: ‘n Mens kan 80 wees, en baie herinneringe he, maar ‘n mens hoef nie te verouder nie. Dis wonderlik dat u nog so by is met die nuwe tegnologie , en blog! Ek sien uit na die voorreg om nog van tannie se blogs te lees.

  6. BB sê:

    Wat kan ek tog nog sê? Behalwe om vir jou iets aan te heg wat ek op versoek vir ‘n ander merkwaardige tannie vir haar 80ste geskryf het?

    Derduisend jaar gelede
    Toe God die aarde skep
    Was Hy alreeds tevrede
    Met Sy mensekind-konsep

    Die vrou was toe reeds spesiaal
    Maar Hy sou deur eeue heen
    Sy skeppingskrag fenomenaal
    Laat geld in juis dié een:

    Sterk soos staal – en sag soos sy
    Het Hy haar moeiteloos voorberei
    Gevorm tot ’n meesterstuk
    Haar liefderyk teen Hom vasgedruk
    En sagkens met één asemteug
    Haar voor- en nageslag verheug.

    ‘ma Klippie is al vir 80 jaar
    vir haar familie en geliefdes gespaar
    As dank, dus, aan God vir hierdie vrou
    Vir haar handel en wandel in weë getrou
    Wil ons Hom loof vir dié grootste geskenk
    Dat ons haar geboortedag steeds kan herdenk!

    Happy Birthday Klippie! En baie baie blessings!!
    Ek sien uit na nog baie lekker-lese hier by jou!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s