Vammelee se lekkergoed

Ek lees nou die dag ’n rubriek in die Sunday Times oor ons outydse lekkergoed. Toe kom die onthou van al die lekkers wat ons toentertyd so graag gekoop het terug.

Daar was die marshmallow vissies en muise waarvan ons nie genoeg kon kry nie. Die niekerballs waarvan ons vier vir ’n pennie kon koop. Jy was maar suinig en het nie maklik gedeel met jou maatjies nie. Dit was rond gerol en kort-kort uitgehaal en bekyk want die kleur het mos verander na elke paar lae.

My persoonlike gunsteling was natuurlik Sunrise Toffees. Daarvan kon mens ook koop vier vir ’n pennie kry. Die groot nadeel van die toffies was dat dit nie so lank gehou nie. Omdat dit sag was, was hulle gou-gou klaar gekou en dan het jy gewonder of jy nie maar liewers jou pennie op iets anders moes spandeer nie, iets wat meer waarde vir jou geld sou wees.

Peanut Brittle is tot vandag toe iets wat ek moet hê as dit verkrygbaar is. Net jammer dit smaak nie meer dieselfde nie. Miskien lê die fout by my omdat wat ek onthou ook saam met sorgelose kinderdae gekoppel word. Maar ons oues vertel vir almal dat die smaak definitief nie meer dieselfde is nie.

XXX Strong peppermente en humbugs was ook toe al verkrygbaar en ons het dit gereeld gekoop. Die XXX Strong was goed as jou keel seer was en vir die padda in die keel.

Onthou die tiekie wat jy gekry het, moes vir alles betaal Dit het dus baie kopkrap gekos om goed te besluit oor jou keuse. Jy het geweet dat jy die hele week moes klaarkom met wat jy gehad het. Gelukkig was ek en my oudste suster op daardie stadium die enigste kinders en hoef ons nie ons lekkers met ander kinders te gedeel het nie.

Die vry pepermente wat die kruidenier as pasella ingepak het saam met die weeklikse aankope was vir ons twee soos ’n groot skat. Die boodskappies op die lekkers het ons baie lank besig gehou, al was dit bedoel vir vryers. Maar op daardie ouderdom was die boodskappe vir ons baie snaaks. Dit het eers later vir ons sin gemaak toe ons in die rooi hakskeenstadium was.

As die lekkergoedlus te erg geword het moes ons maar so skelm-skelm ma se suiker vaslê en tameletjie maak.

Suigstokkies was nooit een van my gunsteling lekkers nie, maar ek weet nie regtig hoekom nie. As daar nie ander was nie moes dit maar doen.

Ons kon ook nie genoeg kry van drop, die lang liquorice stringe nie.

Dis darem snaaks wat se herinneringe net een enkele woord in jou gedagtes kan loslaat. Ek sien myself daar in die Indiërwinkel op die hoek, so besluitloos oor wat ek moet vat en wat ek moet los. Niekkerbols het natuurlik loshande gewen want dit was nou waarde vir jou geld. Ek het nooit kougom gekoop nie en kon dus nie bubbles blaas nie.

My seunskinders het natuurlik elke denkbare sent op kougom gespandeer, tot hulle pa se ergenis want oral was daar kougom geplak.

So, met die geur van ’n outydse negosiewinkel met bottels vol lekkergoed op die toonbank in my gedagtes, wens ek julle ’n aangename naweek toe.

This entry was posted in Herinneringe and tagged , , . Bookmark the permalink.

8 Responses to Vammelee se lekkergoed

  1. MaanKind sê:

    Die vissies proe ook nie meer dieselfde nie. EK koop maar steeds, ek bly sioek vir die vissies se oorspronklike smaak.

  2. toortsie sê:

    Ek het altyd by tannie Mags en Willa gekom. Tannie Mags het Turkish Delight lekkers gemaak.Heerik!!
    Ek was nie mal oor klapper-ys nie.
    Oeee, en fudge!! mmmmmm

    • klippie sê:

      Turkish delight is ook een van my gunstelinge. Ek het ook van die appelkosies vergeet, rond en oranje soos appelkose maar net soeter. Ons het nooit baie van hulle gekoop nie omdat dit te gou opgeraak het.

  3. seegogga sê:

    Wat van Creamy toffee? As jy hom hard en vinnig kap, breek hy in stukke, maar moenie probeer om ‘n stuk af te breek nie- so hard soos klip, so taai soos gom en so soet soos stroop!

  4. seegogga sê:

    Oja, en Sugus! Sulke vierkantige lekkers, elkeen in sy eie papiertjie toegedraai, amper dieselfde grootte as chappies chewinggum, maar met ‘n heerlike vrugtesmaak en elke kleur lekkertjie proe anders

  5. Nolene sê:

    o wat van die tiger toffies (strawberry, koffie, banana, liquories)wat ook nie meer gmaak word nie. ook die sugus lekkers in pakkie.

  6. André sê:

    Haai. Ja, Jy kom uit my tyd uit. Ons het n lekker gehad, so half gedraai en langwerpig. Dit was ligbruin met donkerbruin strepe en dit het so n peperment smakie gehad. Ons het dié goed, “bulseyes” genoem. Dan was daar so n plat toffie met neute, in n rooi, wit en blou papiertjie, wat ons “Carnations” genoem het. Die “bullseyes” het gladnie na n oog gelyk nie. Het jy miskien die regte name vir dié goed? (Ons het van die beskawing af gebly en het sommer ons eie name vir die goed opgemaak)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s