Huis, paleis

Toe ons kinders was, het ons altyd ons knope getel: huis, paleis, pandok, varkhok. Waar ook al die teller opgehou het, het ons vir mekaar gesê: “Jy’s gelukkig, jy gaan in ’n paleis bly” of “Arme jy, jy gaan heeldag jou varkhok moet skoonmaak.”

Watter wonderlike tye was dit nie. Ons was onbesorg en het glad nie voorsien of kon dink dat daar hartseer of moeilike tye in ons lewens sou wees nie. Niks van die teleurstellings  wat op ons pad sou kom, was toe sigbaar nie. Maar ook niks van die blydskap en vreugdes wat ons sou smaak nie.

So baie van my herinneringe is gebonde aan die plek waar ek gebly het, maar ek wonder  of dit die hele omgewing eerder as net die huis was? Is die huis net die dop waarin ons herinneringe gestalte kry?

 

Advertisements
Posted in Afrikaanse taal, Herinneringe | Tagged , , | 2 Kommentaar

Persketyd

Rooiwangperskes, kaalgatperskes en ons ou staatmaker, die geelperske. Hoe verlang ’n mens terug na die dae toe jy onder die boom gestaan het om ’n perske sommer so van die boom af te eet.

Ma was in die kombuis besig om perskes in te lê. Rye en rye bottels wat daar pryk met die perskes oordek met stroop. Vir my was dit die lekkerste om die oorskietsous te drink. Dan word die rakke gelaai sodra die perskes afgekoel het.

Die laaste pluksels van die boom word dan geskil om gedroog te word. Ma is heeldag besig en as jy niks anders het om te doen nie, help jy om die perskes in die son op die sifdraadnette uit te pak. Dan moet jy ook vining speel wanneer ’n onverwagte storm oor die Hoëveld broei want as die perskes nat word, word hulle swart en onbruikbaar. Daardie perskes is vir die winter gedroog wanneer ons om die kombuistafel gekuier het. Ma het dan ’n slopie perskes gaan haal en dit was ons versnaperings vir die aand.

Konfyt is van die laat perskes gekook en mens kon die pot uitlek wanneer sy klaar was. Wat sal ek nou gee vir ’n dik sny varsgebakte brood met botter en Ma se eie konfyt!

Posted in Herinneringe, Kos | Tagged , , | 4 Kommentaar

Hare

Toe ons kinders was het ons ouers altyd vertel dat as mens pampoen eet, kry jy krulhare. Ek was baie lief vir pampoen, maar ongelukkig het die storie nie waar geword nie. Ek het steeds perdestert vir hare. Maar ek kla nie want ek is geseën dat my hare nie uitval nie. So het ek steeds ’n digte boskaas.

As kind het ek ook maar gebrom as dit vlegtyd was, want Ma het nie sagkens met my lang, dik hare gewerk nie. Die kam is bo ingedruk en onder uitgetrek. Al die gewriemel en ge-eina het niks gehelp nie: “Juffie, staan sal jy staan totdat ek tevrede is met jou hare.” Dan is daar twee yslike strikke onder aan die vlegsels gebind. Smiddae moes ons ons sakdoeke en linte was. Dan het ons die nat sakdoeke en linte teen die bad se kant vasgeplak sodat dit nie nodig was om dit te stryk wanneer dit droog geword het nie.

Op Saterdae is ons hare gewas. Ons hare is met groen Sunlight seep gewas en daarna met asyn afgespoel. Ja, ek weet deesdae was mense omtrent elke dag hare, maar vir ons was dit ’n ritueel. Ons haredroër was die son. Terwyl ons op die klippe gesit het om ons hare te laat droog word, het ons dit soveel kere as moontlik geborsel. Want sien, na die harewas, kom Saterdagaand se opskop.

Elke Saterdagaand was soos ’n bring en braai. Elkeen het gebring wat hy in die huis gehad het. Maar die kos was vir ons van minder belang: ons kon nie wag om die konsertina se eeerste note te hoor nie. Twaalfuur is daar opgepak en het ons lam van moegheid huis toe gegaan. Net om weer na volgende Saterdag se opskop uit te sien.

Posted in Gewoontes, Herinneringe, Mense en hul dinge | Tagged , , | 4 Kommentaar

Verjaarsdag

Nou die dag het my meisiekind verjaar. Iets om na uit te sien, want nie alleen is dit ’n spesiale dag nie, maar die dag was onbeskryflik mooi. En ons het op die strandfront geëet. Die see was so glad soos ’n spieël en daar was net ’n ligte briesie wat gewaai het. Durban strand is ook rolstoelvriendelik wat ’n bonus is want ons kan vir ’n ver ent langs die see stap.

Ons gaan ook uit op die pier en dan voel mens of jy in die middel van die see is wanneer jy na die deining van die branders kyk. Die skepe op pad na die hawe is pragtig en die seilbote met hul gespande seile vertoon pragtig teen die helder blou lug.

Ag, ek verlang na die dae lank verby toe ek op my eie voete langs die see kon stap, in die sand kon vroetel met my tone en tussen die branders induik. Die jonges het my aangepor want ek was altyd eerste in die branders.

Dan is ons by die restaurant. Dit kyk uit op die see met vensters wat wyd oopmaak sodat mens een met die omgewing voel. Ek geniet my steak met die heerlikste kaaskoek as nagereg.

Wat ’n voorreg om saam met my dogter haar spesiale dag te geniet.

Posted in Familie, Vakansie | Tagged , , | 4 Kommentaar

Vergeet en vergewe

Het jy dalk ook ’n wrok teen iemand omdat hy of sy jou op een of ander stadium ’n onreg aangedoen het? Kon jy die persoon onvoorwaardelik vergewe of sê jy dalk ook: “Nooit kan ek vergewe nie, want sy of haar optrede het my integriteit oneindig aangetas. Ek wil daardie persoon ook laat voel soos ek nou voel.”

Sondagaand se preek het gesê: Vergewe die persoon wat dit jou aangedoen het en vergeet van die onreg. Indien jy dit nie doen nie, skaad jy net jou eie siel. Dan pleit ek skuldig omdat ek dit al soveel kere gehoor het.

Ons is almal die een of ander tyd die slagoffer van iemand se los tong wat soms dinge gesê het sonder om te dink. En soms is dit uiters moeilik om daarvan te vergeet. Net by die noem van daardie persoon se naam, voel ’n mens wrokkig en wens jy dat hy of sy ook so sleg kan voel as wat jy gevoel het toe hy so onoorwoë gepraat het.

Hoeveel geskeide ouers sê voor die kinders dat hulle die ander party nooit sal vergewe nie. Die kind sal die slegte beeld vir altyd onthou en nooit ’n verhouding met daardie party probeer kweek nie.

Ons mense moet onthou dat seerkry gewoonlik van twee kante kom. En daarom is dit belangrik om te vergewe. Soms is dit moeilik en amper onmoontlik maar, komende van iemand wat die dood in die oë kyk, ons lewe op hierdie aarde is soos die gras van die veld, vandag hier en môre weg.

Posted in Gewoontes, Keuses | Tagged , | 3 Kommentaar

Vanmelewe

Vammelewe se dae, so begin baie van ons oues se vertellings. Dit is wanneer ons herinneringe uit die verlede opdiep. Die kinders en kleinkinders kritiseer ons gereeld oor die ewigdurende terugkeer na die verlede. Maar wanneer ons alleen is en wanneer ons wakker lê en wag vir die dag om te begin, gaan ons gedagtes onwillekeurig terug na die ou dae.

Baie oues is alleen in ’n ouetehuis of versorgingsoord. Die kinders is ver, in ’n ander stad of selfs die buiteland. Wanneer die verlange kom, kan mens vir ’n paar minute oor die foon praat of selfs Skype. Maar partykeer wil mens mos ’n geliefde met ’n vel om naby jou hê, nie ’n beeld op die rekenaar nie. Dit is net nie dieselfde nie.

So vanmelewe se dae is voortdurend op die voorgrond. Vir die jonges is dit nie so lekker om na die stories te luister nie. Vir hulle is dit soms vervelig en afgesaag en, buitendien, die lewe gaan aan. Hulle is besig om vir hulleself ’n lewe te bou, nuwe dinge te ontdek en die tegnologie laat ons oues agter.

Wanneer jy alleen is en afhanklik is van ander se arms en bene, dan is vanmelewe se dae nie net ’n herinnering aan gelukkiger tye nie, maar ook ’n vertroosting. Dan onthou jy vriende en familie en die geborgenheid wat jou ouerhuis jou gebied het. So, wanneer ons weer die verlede opdiep, wees maar geduldig.

Posted in Afrikaanse taal, Herinneringe | Tagged , , , | 6 Kommentaar

Waterwysers

In die ou dae op die plaas moes ons boor vir water. Soms het ’n boorgat droog geraak en nuwe gate moes geboor word of soms het mens net meer water nodig gehad omdat jy jou landerye vergroot het.

Wanneer daar besluit is om te boor, het ons ’n persoon wat as ’n waterwyser bekend was, genader. Omdat geld skaars was, kon ons nie bekostig dat ’n droë boorgat geslaan word nie. Die persoon wat jy genader het, moes die naam van waterwyser gestand kon doen. ’n Afspraak is gemaak om seker te maak dat hy op ’n bepaalde dag beskikbaar sou wees.

Op die ooreengekome dag, het sy mikstok of ’n mik wat hy met bloudraad aanmekaar geslaan het, saamgebring. Hy het dan ewe plegtig die mikstok in sy hande geneem. Natuurlik het ons, uit pure nuuskierigheid, saamgeloop. Terwyl hy die betrokke stuk veld deurgeloop het, het hy die mikstok in albei hande vasgehou.

Dan het die ritueel in alle erns begin. Soos hy gestap het, sou die stok hier en daar afdraai. Dan het hy geweet dat daar ’n aanduiding van water onder die oppervlak van die grond was. Daar waar die stok afgedraai het, word ’n hopie klippe gepak sodat mens die plek later weer maklik sou kry. Dan loop hy weer oor die area met sy mikstok om seker te maak dat dit die regte plek is om te boor.

Daarna kom die boorman en word hy gewys waar geboor moet word. Elke dag is die vordering angstig dopgehou want die waterbron het die sleutel tot die toekoms gehou.

Uiteindelik breek die dag aan wat jy met ’n spieël in jou hand die water onder in die boorgat kan sien borrel. Dan sê jy sommer daar en dan dankie vir die genadegawe van die water wat raakgeboor is.

Water is regtig die bron waarsonder geen lewe op aarde kan klaarkom nie.

Posted in Herinneringe | Tagged , , | 4 Kommentaar

Die wit broek

Die wit broek sit nie mooi nie
want die wit broek het nie ’n plooi nie.
Die wit broek sit nie nice nie
want hy’s nie regte size nie.

Vroegoggend en die deuntjie bly maal in my kop. Dit laat my dink aan die ou dae toe daar nog ’n opsitkers gebrand is wanneer die jongetjie vir die meisie kom kuier het. Daardie tyd het ’n meisie nog uitgesien na haar kêrel se kuier. Jy het gewonder wat het hy vir jou saamgebring. Dalk ’n pakkie vryerspepermente of gekleurde boodskaplekkers.

In die ou dae was dit ’n vereiste vir ’n jong man om ’n wit broek te besit. Die wit broek was ’n statussimbool en moes daarom baie goed opgepas word. Die wit broek is spesiaal “gepress” sodat die plooi vlymskerp kon wees. Baie jong mans was arm en moes ’n plan maak vir die aankoop van ’n wit broek. Onthou nou die winkel in die omgewing het nie altyd kon voorsien in die regte grootte van die broek nie en moes dit nog georder word. Maar ’n wit broek moes ’n jong man hê om die meisie te beïndruk.

Spesiale aandag is ook aan die hare gegee. Kort aan die kante en agter met ’n regte pierewaaier kuif. Brylcreme en Vitalis is in alle jong manne se badkamers aangehou om die kuif die heel dag mooi te laat lyk.

Baie jong mans het net ’n fiets as ’n ryding gehad en die broek se pype is met wasgoedpennetjies vasgeknyp om dit uit die pedale te hou. Maar niks het die die jongman weggehou van sy meisie op ’n Saterdag nie. Dan is daar opgesit of gedans tot stiptelik om middernag. Maar ’n jong man het nie kaalhand by die meisie opgedaag nie. ’n Bossie blomme is sommer uit sy ma se tuin gepluk om vir die aanstaande skoonma te gee.

Dis so anders as deesdae. Nou lyk die jongetjies of hulle geskrik het vir iets met die aardigste haarstyle of sommer kaal geskeerde koppe. Van opsit weet hulle niks – kort voor lank hoor jy dat hulle nou saambly. Ag ja, waar is die dae?

Posted in Herinneringe, Leefstyl | Tagged , , | 3 Kommentaar

Mallemeule

Ons lewe in ’n era waar alles vinnig moet gebeur. Kitskos moet binne ’n kits afgesluk word, want daar is ’n saak wat binne ’n kits besleg moet word.

Waar is die dae toe ons as gesinne nog al ons etes saam aan ’n tafel geëet het? Nou gebeur dit al hoe minder. Ontbyt word so staan-staan geniet. Reg om, sodra die laaste happie gesluk is, uit te hardloop na die kar om darem betyds by die werk aan te kom.

In die kantoor aangekom, moet daar direk aan die werk gespring word om al die e-posse te beantwoord. Mense soek antwoorde in ’n kits en dis slegte werketiket om e-posse nie so gou moontlik te antwoord nie.

So haas jy voort tot middagete. Jy kan dalk vir ’n uur ontspan as daar nie iets dringens op jou wag om gou-gou uit te klaar nie. Wat sou jy wou gee om net so ’n wyle ’n uiltjie te knip. Maar dan moet jy terugjaag kantoor toe waar die stapel lêers maar net nie minder wil word nie.

Dan is dit huistoe-gaan-tyd. Nou moet jy gou-gou die lysie van goed wat by die huis benodig word in jou kop agtermekaaar kry. Miskien was jy slim en het ’n lysie op jou selfoon gemaak. Moet tog nie vergeet van die kind wie se taak môre ingehandig moet word nie. Daar is spesiale papier vir die drukker nodig daarvoor. Maar daar is ’n gemors op die paaie. Dit lyk of almal vandag op hierdie oomblik iewers moet wees.

Wanneer jy by die huis kom, is jy so moeg dat jy opsien om nog te dink aan aandete. Almal neul oor alles wat hulle nog moet doen. “Kan Ma nie net gou-gou hier help nie? Waar moet die prentjie kom?” vra die kind wie se taak nog nie klaar is nie.

Dan is aandete uiteindelik afgehandel en nou kan jy ook rus, net so bietjie TV kyk. Maar, nee, Pa dink dis nou tyd dat jy aan hom aandag gee.

Voordat jy jou oë kan uitvee, lui die wekker en begin die dag. Gou-gou ontbyt afsluk …..

Posted in Familie, Gewoontes, Leefstyl | Tagged , | 1 Kommentaar

Wasdag

Maandag was wasdag, seker soos in alle huise in Suid-Afrika. Vroeg-vroeg was Johanna daar om haar waswater reg te kry. Een bad was vir was langs die wasklip en die ander vir spoel. En dan nog ’n bad water met blousel om die wit wasgoed nog witter te laat bleik.

Harde werk was dit beslis, want na al die water wat sy moes aandra, moes sy op haar knieë staan en die wasgoed met ’n groot steen boerseep insmeer. Daarna moes al die vuil merke uit die wasgoed gevryf word.

Jong dogters wat ons was, het ons baie keer aangebied om te help maar ek is seker ons was meer ’n oorlas as ’n hulp. Die wasgoed is ingesmeer en gevryf en daarna in die spoelwater gegooi. Die wit wasgoed moes nog ’n keer in die blouselwater gespoel word. Lakens was nie van sagte katoen gemaak nie, maar van harde linne. Dit was hard op enigeen se hande. As die water te vuil geword het, moes die hele storie van voor af herhaal word.

Al die wasgoed is op die wasgoeddraad gehang en voor sononder moes die droë wasgoed van die draad af wees. Klaar gevou en gereed vir môre se stryk. Want Dinsdag was mos strykdag.

Daar was wedywering onder die vrouens. As iemand op Maandag kom teedrink het, het hulle altyd gekyk of jou wit wasgoed so wit was as hulle s’n. Veral babadoeke was goed geïnspekteer.

Hoe dankbaar is ons nie deesdae vir outomatiese wasmasjiene en droërs nie. En nog ’n groter uitvindsel: weggooibabadoeke.

Posted in Gewoontes, Herinneringe | Tagged , , , | Lewer kommentaar