His master’s voice

Glo julle aan spoke of goëlery? Ons het met sulke stories groot geword en almal wat dit vir ons vertel het, het geglo dat dit die waarheid was. Die gedagte daaraan het my met vrees vervul en nooit in my wildste drome sou ek kon dink dat ek self soiets sou ondervind nie.

Een skoolvakansie het ek by Ouma en Oupa gekuier. Ek was omtrent nege jaar oud en baie lief vir Ouma want sy het altyd ’n ekstra bederfie na my kant toe laat kom. Saans na aandete het ek op haar skoot gesit-lê en sy het my met haar groot voorskoot toegerol. Ek het dan gou-gou so onder die geselsery aan die slaap geraak.

Ouma het vir my ’n bedjie in die sitkamer opgemaak. Daar was ek nie so ver van hulle slaapkamer af nie. Oupa was ’n kwaai oubaas en kon dit nie verdra as enigiemand hom pla as hy slaap nie. Ouma, daarenteen, was die lieftalligheid self. Sy het my juis daar laat slaap sodat as ek bang sou word, kon ek haar net roep.

Op daardie stadium was daar nie honde op Oupa en Ouma se werf nie.

Ouma het my daardie aand bed toe gestuur en nadat sy na my gebedjie geluister het, het sy my toegemaak en ek kon lekker aan die slaap raak.

Later die nag, ek weet nie hoe laat dit was nie, het ek wakker geword van iets wat my voet gekielie het. Eers was ek bietjie deurmekaar maar toe ek behoorlik wakker word, sien ek ’n klein hond by my op die bed wat my voet met sy poot kielie. Die hondjie het vir my kompleet gelyk soos die hondjie wat op “His Master’s Voice” vinielplate van destyds was.

His Master's Voice

Ek het een gil gegee maar ook geweet dat Oupa nie gelukkig gaan wees as ek hom die storie vertel van die hond wat by my op die bed was nie. Ouma het dadelik uit die kamer gekom om te hoor wat aangaan, maar al waaraan ek kon dink, was om te sê dat ek na my ma verlang en dat ek wou huis toe gaan.

Die hond was toe nie meer daar nie, en ek kon vir niemand vertel wat ek ondervind het nie. Niemand sou my in elk geval geglo het nie.  Ouma het my ma laat weet dat sy my maar moes kom haal want ek het te veel verlang. Ek het van beter geweet maar kon nie daaroor praat nie.

Ek was so seker van die “gesig” en tot vandag toe kan ek die gevoel van my voete wat gekielie word voel en die skuinsgedraaide gesiggie van die goëlhondjie in my geestesoog sien. Miskien sal iemand vandag wel ’n geleerde siening van my ondervinding hê of dit op ’n ander manier probeer verklaar, maar ek weet wat ek gesien en gevoel het. En op daardie jong ouderdom het dit ’n verskriklike groot indruk op my gemaak.

 

This entry was posted in Spoke and tagged , . Bookmark the permalink.

One Response to His master’s voice

  1. Pingback: Spoke en ander stories | Klip in die bos

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s