Lewe of dood

Wanneer iemand gevra word om te kies tussen ’n langer lewe en ’n verkorte lewensverwagting, sal jy kan glo dat daardie persoon eerder die korter lewe sal kies? Byvoorbeeld, as ’n persoon sou sê: “Ek sterf eerder as om chemoterapie te ondergaan” of “Ek weier om ’n kolostomie te kry.”

Ek stap uit die dokter se spreekkamer en dink aan die nuus wat ek so pas ontvang het. Dit gaan ’n hele omwenteling in my lewe veroorsaak. Die dokter het my na al die nodige spesialiste gestuur om sy vermoede te bevestig. Ek moet besluit wat ek gaan doen en daarmee saam ook die pad vorentoe. Daar is soveel dinge wat ek in ag sal moet neem.

Ek is nou al vyf jaar alleen, nadat my man oorlede is en al die kinders is alreeds uit die huis. My huwelik was stormagtig en daarby het ek my man deur sy siekte bygestaan. Hy was vir sestien jaar siek en het veral in die laaste paar jaar baie aandag nodig gehad.

Ek was baie alleen na sy dood maar daar is nou iemand wat belangstel om meer as vriende te wees. Wat gaan Willie sê as hy hoor dat die dokter kanker gediagnoseer het en dat die dokter gesê het dat as ek my kolon laat verwyder daar ’n groot kans op herstel sal wees?

Willie is so gesteld op my voorkoms. Hy spog altyd daarmee dat ek baie goed lyk vir my ouderdom en nog so ’n  vietse lyfie het. En ek moet sê, ek hou self van wat ek sien as ek in die spieël kyk. My hare is nog nie grys nie, my vel is nog glad (sonder enige botoks of ander kosmetiese prosedures) en, hoewel daar ’n paar ekstra sentimeters om my heupe is, is ek nog lank nie eers mollig nie.

Daarby geniet Willie dit om my uit te neem en met my te spog want op partytjies is ek die voordanser en paartiegirl. Kan gewoonlik aanhou totdat al die ander al lankal poegaai is. Nee, ek sien nie kans vir die prosedure wat die dokter aanbeveel nie. Nie net gaan dit inbreuk maak op my leefstyl nie, wat sal die mense sê?

So, al uitweg is om stil te bly. Ek vertel vir niemand nie. Selfs die kinders weet nie wat aangaan nie. By die werk hou ek my steeds so fluks soos altyd maar ek kan voel dat my kragte afneem.

Nou begin ek verskriklik rugprobleme ondervind, moet selfs vir ’n rugoperasie gaan. Dit is egter nie die einde van die probleme nie, want die rugpyn bly knaag en word al hoe erger. Om die pyn te probeer verlig, stem ek selfs toe tot ’n tweede operasie. Hulle diagnoseer ’n verstopping in die nier. Die dokter lyk maar bekommerd toe hy my inlig dat die kanker versprei het.

Dit tref my hard, veral omdat ek skielik besef dat ek dalk nie my jongste kleinkind sal sien grootword nie. Ek het almal in die duister gehou maar besef nou dat ek nie langer sal kan stilbly nie.

Almal verwyt my oor ek hulle nie lankal al vertel het nie. Hulle probeer vergoed met liefde en aandag. Maar die pyn is ondraaglik.

Willie vind ook nou uit dat ek al lankal bewus was van wat met my verkeerd is. Hy is onsteld en oorreed my om vir chemoterapie te gaan. Ek het immers uitgevind dat ek nou hoogstens drie maande het om te lewe.

Nou kom die selfverwyt. Het ek nie die verkeerde keuse gemaak nie? Ter wille van ’n mooi voorkoms het ek gekies om korter te leef. As ek die kolostomie gehad het, sou ek wel met ’n sakkie moes regkom, maar ek sou meer tyd gehad het om met my geliefdes te spandeer. Maar ek weet dit is te laat. Te laat vir omdraai.

Nou is daar nie meer gedagtes aan ’n vietse lyfie of stylvolle haarstyl nie. Ek dink ook nie eers meer aan wat Willie dink nie. My hare val uit. Ek is naar en in konstante pyn.

Die familie kom kuier sodat ek nie alleen moet wees nie. Ek moet vrede maak met die omstandighede en met myself. Hand in eie boesem steek en bely dat dit wat vir my vantevore saak gemaak het net ’n gejaag na wind was. Nou sou ek anders kies. Maar, helaas, met die waters wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie.

This entry was posted in Kanker and tagged , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Lewe of dood

  1. seegogga sê:

    Ai, ek is so jammer om te hoor! Toe my mammie siek word, het sy ook besluit om nie vir verdee toetse te gaan of behandeling te kry nie, wel om ‘n ander rede as u. Sy was reeds 83 en dalk moeg gelewe. Hoe sal ‘n mesn ooit weet of ‘n mens die regte besluit geneem het? Moenie uself verwyt nie, asb. Baie sterkte met die pyn.

    • klippie sê:

      Ek moes seker ‘n voetnoot geplaas het want ek het hierdie stuk vanuit my jonger suster se oogpunt geskryf. Sy is alreeds 11 jaar gelede oorlede en was toe maar net 58 jaar oud. Ek het steeds nie haar besluit verwerk nie en ons almal het so magteloos gevoel om haar te sien ly.

  2. BB sê:

    Ek het onlangs ‘n doodgewone breuk operasie gehad (kolon) – was redelik vinnig weer op die been – my dokter wou beroerte kry oor ek ‘n week later terug is werk toe…. ek moet oor ‘n paar dae teruggaan – dinge lyk nie te lekker nie. Ek beklaag nie my lot hier by jou nie Klippie, ek sê maar net dankie vir jou inskrywing hierbo… dit het my ‘n klein bietjie van ‘n mindshift gegee.

    • klippie sê:

      Sterkte en beterskap. Ek het self ‘n baie groot operasie ondergaan – maar dis nou al 30 jaar terug – en dit het my hele lewe ten goede verander.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s