Wanneer die skoen druk

Dit is die dag voor my dogter, Elize, se troue. Alles moet perfek wees, want dit is ons meisiekind se droomdag.

Aangesien die trouplegtigheid beplan is vir tien uur in die oggend en die onthaal daarna in die tuin gehou word, is alles des te meer gejaag. Almal weet dat tien uur op ’n Saterdagoggend baie vroeg is en kinders is maar traag om vroeg op ’n Saterdagoggend op te staan. Daarom is almal wat kan help nader getrek om te kom help met die voorbereidings.

Ons doen reeds al die dinge wat ons vandag, Vrydag, kan afhandel. Soos ek my familie ken, is almal daar om raad te gee en ’n handjie by te sit.

Blomme moet by die mark gaan haal word, trouruiker moet by die bloemiste gekry word. Drinkgoed, glase en ys moet gehaal word. Houers om die ys in te hou moet bymekaar gemaak word.

Kos soos hoenderboudjies en frikadelle moet heel laaste gemaak word sodat daar nie ’n gevaar van voedselvergigtiging sal wees nie. Almal wat help met die bak van vingerhappies is hard besig om hulle deel te doen. My ou man het self die troukoek gebak en versier. Gelukkig is dit nie nodig om nog ’n draai te ry om dit te gaan haal nie.

’n Bakkie word georganiseer om tuinstoele en -tafels van almal wat tuinstelle het se huise af aan te ry. Ons het nie die nodige fondse om al die tafels en stoele wat nodig is te huur nie. Maar dis geen probleem nie; almal is bereid om te help om van die dag ’n sukses te maak.

My suster, wat op ’n naburige dorp bly, is aan die hoof van die blommerangskikkings in die kerk. Sy kom ook alreeds vandag en bring sommer die nodige blompotte, houers en standers saam. Sy sal sommer ook die blomme by die blommemark gaan oplaai. En terwyl sy soontoe ry, dink sy sy sal sommer, na die blomme gekry is, ook by die bank aangaan om geld te trek.

By die blommemark aangekom, voel sy daar is iets verkeerd met haar voete. Die skoene wat altyd so gemaklik gepas het, druk nou baie erg. Sy doen nietemin haar inkopies by die mark, klim in die kar en ry bank toe. Klim by die bank uit die kar en loop kruppel-kruppel om die geld te trek. Mense kyk haar skeef aan, maar sy dink dis omdat sy so hinke-pinke loop. Die skoene druk iets allervreesliks. Maar sy moet aangaan, want die blomme gaan nie vanself gerangskik kom nie. Sy trek die geld en ry huis toe.

Sy stop voor die deur en kom aangestap huis toe. My ma staan, soos gewoonlik, op die stoep om die aankomelinge welkom te heet. My ma staan haar so en kyk, want sy loop nou erg kruppel.

Dan sê my ma: “Wilmien, hoekom het jy jou skoene verkeerd om aan?”

Wilmien kyk af. Jou wrintiewaar, haar regterskoen sit aan die linkervoet en andersom. Sy sê: “Dis natuurlik hoekom my voete so seer is!”

My ma lag so dat ons ander naderkom om te kyk wat aan die gang is. Toe, al is ons so besig met die voorbereidings, laat ons haar eers demonstreer hoe sy gesukkel het om te loop met die skoene so verkeerd om aan. Met die probleem van seer voete opgelos, kon sy haar rangskikkings doen sonder enige pyn en lyding.

Die troue is ’n  reusesukses. Die Aprilweer speel saam en dis ’n volmaakte herfsdag; nie te warm of te koud nie, die hemel is potblou en die son stippel deur die blare se bome. Die blomme in die kerk is pragtig. By die huis is die tuintafels pragtig onder die bome gedek, die eetgoed is smaaklik en al die gaste is tevrede.

Nou, 33 jaar later dink ons weer terug aan daardie dag en lag oor die verkeerdom skoene. Wilmien is al lank oorlede maar dis ’n staaltjie wat keer op keer oorvertel word.

This entry was posted in Troue and tagged , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Wanneer die skoen druk

  1. BB sê:

    Lekker gegiggel!! Ek is ook die een wat met ‘n swart en ‘n donkerblou skoen die huis uit piekel😳

    • klippie sê:

      En dan was daar die vriendin van my dogter wat een oggend met twee identiese swart skoene die huis uit is, net om later die dag agter te kom die hakkies is nie ewe hoog nie. Almal was baie besorg oor haar seer been die dag.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s