Nature or nurture?

Ek wonder: Werk dit in gesinne so dat, as daar meer as een kind is, die een kind definitief na sy pa en die ander na sy ma aard? Of is daar sommige gesinne waar al die kinders net na een ouer aard? Aan die ander kant, kan ouers deur hulle grootmaakmetodes kinders se geaardhede bepaal?

As een van ses kinders het ek altyd gedink dat Pa en Ma darem baie regverdig was met die aartjie-na-die-vaartjie storie. Die drie van ons wat na Pa aard was lank, maer en sieklik en die drie wat na Ma aard was mollig, vrolik en gewild. Ons drie maeres was gelukkig in die sin dat ons kon eet wat ons wou en geen gewig aangesit het nie. Die ander drie moes altyd oppas wat hulle eet want alles het op die heupe saamgepak.

Op partytjies was Ma se drie die gewildste en ons ander het bietjie in hulle skaduwee gestaan. Maar die een ding wat ons in gemeen gehad het, was dat ons almal ekstroverte was. Ons kon so lekker saamkuier dat vreemdelinge dikwels gesê het dat hulle nie weet hoe ons mekaar kan hoor nie, want almal praat gelyktydig.

As een van ons by iemand gaan kuier het, is al die ander in kennis gestel van waar ons sou wees. Kort voor lank het hulle een vir een daar aangekom met ’n bordjie eetgoed en iets te drinke. Dit het dan ontaard in ’n partytjie wat mense verstom laat vra het: “Gaan dit altyd so by julle?” Dan was al die stoute en goeie stories van almal vertel en is daar gelag dat die trane gerol het. So ’n partytjie het aangehou totdat die vaak ons oorval het.

My man wat uit ’n streng en konserwatiewe huis gekom het, kon eers nie maklik begryp wat almal gelyktydig vir mekaar wou vertel nie. Gelukkig het hy later net so hard saamgesels as ons.

My pa was tot met sy dood altyd die gees van elke byeenkoms, partytjie of politieke vergadering. Ma was altyd aan die prakseer om die mae vol te hou. Ma se drie, soos ek hulle maar noem, het almal die goeie-kokgawe van haar geërf. Hulle het altyd gespog met die lekker disse hulle voorberei het.

Ma, wat self uit ’n groot gesin van ’n menigte dogters gekom het, kon altyd spog dat daar by hulle geen egskeidings was nie; inteendeel hulle mans het die grond waarop hulle geloop het, aanbid. Hulle hande het vir niks verkeerd gestaan nie, hulle was altyd besig om die een of ander onthaal met baie eetgoed te reël of besig met een of ander taak wat die Bybel aan ’n deugsame vrou voorskryf.

Pa se drie, aan die ander kant, was maar onhandig, altyd met ’n pyn of skeet iewers. Die drie gesondes kon nooit verstaan as jy sê dat jy sleg voel nie.

Maar ten spyte van ons verskille was ons baie geheg aan mekaar. Nooit was daar ’n familietwis nie. By elke bymekaarkomgeleentheid was elke oomblik ’n fees. En  ons was gelukkig in die sin dat die aangetroudes nooit gevoel het asof hulle nie behoort nie. Hulle het by ons aangepas en ons het soos een familie geword.

Dit is met groot dankbaarheid dat ek terugdink aan ’n tyd wat nou onherroeplik verby is. Gelukkig is daar al die mooi herinneringe wat ek nou nog kan koester.

This entry was posted in Familie and tagged , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Nature or nurture?

  1. seegogga sê:

    U skryf pragtig en ek hoop u gaan nog baie mooi herinnering hier neekryf. U kinders en kleinkinders gaan dit baie waardeer!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s