Brekfis met Derrich

Dis Saterdagoggend en ek vergun my die geleentheid om na Brekfis saam met Derrich op RSG in die bed te lê en luister. Hy kondig die Vat Vyf-program aan. Nou is my ore gespits want dis gewoonlik iemand se herinneringe wat deur middel van musiek opgeroep word. So onder deur die program dink ek wat ek sou kies om my te herinner aan die situasies wat vir my besonders was. Nou hoor ek skaars wat daar gesê word want my gedagtes loop hulle eie paaie.

“The Blue Skirt Waltz” – My eerste dans met die ou wat my man sou word. Verlief tot oor my ore, het ek gehoop dat dit sommer vir altyd sou aanhou. Hy het ’n goeie stem gehad en het gereeld as sanger by konserte opgetree.

“Keep the Home Fires Burning” was een van die liedjies wat hy graag vir my gesing het.

“Still wie die Nacht” wat die Duitser vir ons by ons troue gesing het. Die woorde is so mooi en gee my steeds hoendervleis.

Still wie die Nacht und tief wie das Meer, soll deine Liebe sein!
Wenn du mich liebst, so wie ich dich, will ich dein eigen sein.
Heiß wie der Stahl und fest wie der Stein soll deine Liebe sein!

So stil soos die nag en diep soos die see, moet die liefde wees!
As jy my liefhet soos ek jou liefhet, wil ek aan jou behoort.
So warm soos staal en stewig soos  ’n rots, moet die liefde wees!

“Boetie, sy’s ’n perskeblom” was my pa se lieflingslied. Nee wat, dink ek by myself, trane gaan nou loop as die gedagtes al in daardie rigting dwing.

“Die Elizabeth-serenade” – Wat ’n wonderlike geleentheid was dit nie om die Gunter Kallmann-koor in lewende lywe te sien optree in die Aula nie! Ons was gefassineer deur die klokkespel in die agtergrond.

Kort daarna het die operaseisoen begin en vir die eerste keer het ek besluit om my ou man te bederf en sy smaak te bevredig. Hy het immers nooit opgehou om ons daaraan te herinner dat opera sy voorkeur was wanneer dit by musiek gekom het nie. Eers was dit “Madame Butterfly” met Nellie du Toit en Gé Korsten. Ons het ook na “La Traviata” gaan kyk. Dit was een van my man se gunstelingoperas. Daar is die sagte meesleurende prelude, die lewenslustige “Drinking song”, die wonderlike duet tussen Alfredo en Violetta: Un dì, felice, eterea – “The day I met you” wat ek nou kan onthou. Pa was in die sewende hemel. Sy oë het geblik want nou kon hy sê dat dit wat hy nog altyd graag wou doen tot verwesenliking gekom het.

Snaaks, as mens begin terugdink, wonder jy of jy sal kan ophou dink aan al die geleenthede wat daar in jou lewe was wat deur ’n melodie herroep kan word. So is daar vir omtrent elke fase in my lewe een of ander stuk musiek wat aan daardie fase verbind kan word.

Musieksmake verskil so baie en selfs toe die kinders in hulle rock- en jazz-fases was, is daar musiek wat my aan daardie tyd herinner. André met sy Cat Stevens, Retha met haar Simon en Garfunkel en Nelus met sy Jethro Tull. Pa wat eerder na opera as enigiets anders geluister het, kon nie verstaan dat die kinders soms gedink het die sopraan klink na ’n kat wat gepynig word nie. Daarom was daar heelwat konfrontasies tussen Pa en die kinders oor die verskillende musieksmake. As Pa in die gang afgeloop het en een van die kinders se radio is op een of ander stasie wat rock- of popmusiek speel, het hy net twee woorde geken: “Sit af!” Dit het die kinders oneindig frustreer.

My persoonlike smaak was maar altyd aan die ligte kant. So het ek daarvan gehou om te draai en swaai ek op enigiets met ’n beat. Tans is ek ’n Trots Suid-Afrika musiekliefhebber en kan jy vir my enigiets van Theuns Jordaan, Koos du Plessis, Manie Jackson, Danie Niehaus en vele ander speel. Iets wat my egter dwars in die krop steek, is die woord “baby” wat elke tweede sanger in sy of haar liedjies inbring.

Noudat my kleinkinders al groot is, en sommige al hulle eie kinders het, sing ek net so graag saam met tannie Carike. En wat sal ons tog doen sonder Doris Brasch en Dawie Couzyn se “Almal dra ’n jas”, “In ’n land van sneeu, in ’n land van ys”, “Ek is ’n eensame krokodil” en “Die lappop”? Elkeen van hierdie liedjies vertel ’n storie waarmee ons kleintjies hulleself heerlik vermaak.

Daar is ook tieners in my familie en by hulle het ek geleer van die Parlotones, die Heuwels Fantasties en Foto na Dans. Ook ander groepe waarvan ek nie graag praat nie! En met die dat hulle nou ook hulle eie musieksmake ontwikkel, kom daar ’n knop in my keel want selfs hulle sprei nou hulle vlerke. Ag wat, miskien is daar nog tyd om ander herinneringe op te bou met al die nuwe musiek wat deesdae te hore is.

This entry was posted in Herinneringe, Musiek and tagged , , . Bookmark the permalink.

7 Responses to Brekfis met Derrich

  1. toortsie sê:

    Ag, dit was nou lekker om te lees!! Ek ken nie die eerste liedere nie, maar vanaf Boetie, sy’s ‘n perskeblom kon ek ook saamsing. Heerlik!

  2. seegogga sê:

    Ha, Toortsie, ek kan AL die liedere( behalwe Foto na Dans- ek gaan nou hule google)! Sjoe. tannie Klippie, u is selfs nog meer “Hip” as wat ek gedink het! Jethro Tull, en Heuwels Fantasties? U kinders en kleinkinders is sowaar bevoorreg!

    • klippie sê:

      Die tieners hou mens jonk en op hoogte van nuwe verwikkelinge. Ek is net jammer dat die liggaam nie meer kan bybly nie!

      • BB sê:

        Ek het nou die beendere verskoning nie, Klippie, maar ek is sooooooo nie ritmies aangelê nie (wie’t nou weer gesê: “White chicks can’t dance!” ?😳 maar ek riel op ‘n bar-chair! En die voordeel is dat enige voornemende danspartner se tone veilig is:mrgreen: probeer dit gerus – ek doen selfs die hokey-pokey op ‘n stoel!!

      • klippie sê:

        Ek sal beslis die dans op die stoel probeer!

  3. BB sê:

    Ich bin eine Deutsche:mrgreen: My Papa is ‘n wonderlike tenoor en ek het grootgeword met sy ryk stem wat die huis tydig en ontydig gevul het met arias et al…
    My ma se naam is Elisabeth – Papa het dus (vanselfsprekend) gereeld : “Hör mein Lied Elisabeth…♪♫”… Ahhh, those were the days…

    • klippie sê:

      Ons is nie Duits nie, maar het altyd Duitse vriende gehad en nou het ek ook ‘n Duitse skoondogter. My man het veral daarvan gehou om die kinders in die oggend wakker te sing. Natuurlik tot hulle groot frustrasie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s