Met groot verlange

My man, Oupa hier genoem, was ’n man wat jy nie op sy baadjie kon takseer nie. Soos die spreekwoord sê, jy kan nie ’n boek volgens sy omslag beoordeel nie.

Oupa was ’n korrelkop, kort van statuur en ook kort van draad. Maar net so gou as wat hy kwaad geword het, het hy weer goed geword. By hom was alles óf swart óf wit. Daar was geen grys gebied nie. Wat hy besluit het is reg, was die enigste regte manier van dinge doen.

Maar ’n meer lojale man as hy sou jy nêrens kry nie. Hy het die winkeleienaar wat die tuinman met R5 verneuk het, geboikot en eerder vyf kilometer verder gery om sy inkopies te gaan doen.

By die kettingwinkel waar hy brood en melk gekoop het, het hy hulle sommer gou laat verstaan dat hy nie tevrede is met die brood wat hulle bak nie. Die bakker het toe spesiaal vir hom twee brode met uitgeryste bokante laat bak. Hy was ook toegelaat om sy eie brode sommer self in die kombuis te gaan haal. Wanneer hy teruggekom het van vakansie het almal in die winkel hom so verwelkom dat jy kon sweer hy was een van die personeellede. Net so het dit ook by die groentewinkel gegaan.

Vir ons het hy met een van sy vele belangstellings bederf. Die beskuitblikke was altyd vol: anys- en karringmelkbeskuit. Die geure wat uit die kombuis gekom het, het jou daaraan herinner dat daar ’n spesiale pannetjie was wat eenkant gehou is vir die bakdag. Dit was beskuit wat nie uitgedroog is nie, nat beskuit, en sy spesiale bederfie vir my en die kleinkinders.

Hy het graag brood geknie en gebak. Kan jy onthou hoe ruik vars brood? Dan sal jy jou kan voorstel hoe ons uitgesien het na die oomblik dat die brood uit die oond kom en die korsie, met dik botter gesmeer, verorber kon word.

Hy het ons ook bederf met koesisters. Die koesisters was heerlik met stroop deurdrenk en het gesmelt in die mond. En moenie dink daar kon gehou word vir die naweek wanneer mense kom kuier nie; een van die kinders het dit gewoonlik uit die vrieskas opgediep en sommer so koud verslind.

Sondae na kerk het hy die Weber-braai aangesteek om vir ons ’n lamsboud of hoender te braai. En partykeer het hy sommer ook ’n brood daarop gebak, net om die ete nog meer spesiaal te maak.

Met potjiekos het hy altyd een of ander resep uitgetoets. Agterna sou hy dan vir iemand wat nie genoeg daarvan kon kry nie, vra of hy geweet het hy het nou net volstruis geëet. En daardie persoon het gesweer hy sal nooit sy mond aan volstruis sit nie.

Ek kan ure uitbrei oor al die kos wat hy gemaak het en alles wat hy in die kombuis getoets het. Niks was ooit vir hom te veel moeite nie. Vir die kinders is daar spesiaal vis en slap tjips gemaak. Kerrievis was een van sy spesialiteite waarvoor my skoonsuster hom altyd sal onthou.

Na sy aftrede het hy sy pensioengeld aangevul met die maak van allerhande konfyte: appelkoos, aarbei en groenvye. Alles wat uit ons eie tuin gekom het.

By dit alles het hy omtrent 850 roosbome gehad om te versorg. Hy het natuurlik baie gespog met die langsteelrose wat hy uitgedeel het. Die ryk aroma van die rooi rose het daardie tyd ons huis oorspoel. Kan jy jou voorstel hoe so ’n  tuin lyk vroeg in September wanneer al die rose in blom staan? Die kinders en kleinkinders praat nou nog van die blommeprag van daardie tuin.

Maar moet nou ook nie vergeet van die donkiebyte wat hy uitgedeel het as die seuns drooggemaak het nie. Archie kan jou nou nog in detail vertel hoe seer dit was. En later het dit ’n speletjie tussen hulle geword: Oupa wat probeer om hom ongesiens beet te kry en Archie wat koes vir die donkiebyte.

Hy was ’n groot Blou Bul-ondersteuner wat sommer uit die kamer geloop het wanneer die Bulle nie gespeel het soos wat hy dit wou hê nie. (Ek wonder wat hy van hierdie seisoen se bulle sal sê.) Hy was sommer skoon siek wanneer hulle verloor het.

Sy kleinkinders was sy trots. Wanneer hulle bereik het wat hulle beoog het, was hy die eerste daar om hulle geluk te wens en hy het met elkeen van hulle gespog by almal wat wou luister.

Jill het gewoonlik styf agter sy rug weggekruip en mens moes mooi kyk om haar te sien. Wanneer jy haar uiteindelik opspoor, het sy gelag dat jy dit wie weet waar kon hoor. Dit was hulle twee se speletjie.

Krisjan het gewoonlik skoolvakansies kom kuier en hy en Oupa het so lekker gekuier dat wanneer hy moes terug, Oupa skoon ongedurig geword het.

Oupa kon alles wat stukkend was, regmaak. Ons het altyd gespot en gesê dat hy net ’n stuk bloudraad en ’n tang nodig gehad het om iets van niets te maak. Die spreekwoord, ’n boer maak ’n plan, was werklik op hom van toepassing.

Oupa, al is daar net herinneringe wat oorbly, is jy op ’n dag soos vandag steeds tussen ons. Jou teenwoordigheid word nou gesien in die tuin met die boomvarings wat jy by die DBV se plantetuin as klein boompies gekoop het. Hulle het nou al so groot gegroei dat hulle hoër as die huis se dak is en soos sambrele hulle skaduwees oor die patio gooi. So vir ons is jy maar steeds hier.

This entry was posted in Familie, Herinneringe. Bookmark the permalink.

10 Responses to Met groot verlange

  1. Pikkelik sê:

    Ai maar nou het ek vreeslik heimwee. Dis pragtig geskryf. Ek verlang nou verskriklik na my eie pa, gelukkig is hy net ‘n oproep of 400km ver. Dankie vir die deel hiervan. Dit het my hartsnare behoorlik getokkel.

  2. Nanetta sê:

    Ai, ek het sommer trans in my oë vir my Oupa. Dankie, dis regtig ragtag geskryf.

    • klippie sê:

      Welkom, Nanetta. Snaaks hoe baie kosherinneringe daar aan Oupa verbonde is. En ek het nie eens genoem van sy wonderlike pannekoek of die vis wat hy vars uit die see gebak het nie.

  3. toortsie sê:

    Dankie tog vir herinneringe. Dis hoekom dit vir my so belangrik is dat mens soms dinge moet saamdoen. Hoe bou mens dan anders herinneringe op om jou te dra in die alleenjare?
    Baie dankie, dis fantasties geskryf! Ek wonder nogals of jy ‘n skrywer in jou jongdae was?

    • klippie sê:

      Dankie, Toortsie. Nee, ek het nooit gedink dat ek ooit eendag iets sou skryf nie. Maar ek het altyd gelees: Patrys-hulle, die Maasdorp-reeks, PH Nortje, FA Venter van die ouer skrywers. En ek verlustig my deesdae in Marita van der Vyfer, Chanette Paul, Helene de Kock, PG du Plessis – ek kan nie die hele lys nou hier opnoem nie.

  4. attie sê:

    Mooi herinneringe aan iemand wat duidelik n besondere man was.

    • klippie sê:

      Ja, maar soos so baie goed in die lewe het ons dit as normaal beskou. Nou, agterna, besef ons ons het hom en dit wat hy gedoen het nie genoeg waardeer nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s