Vertoonlokale

Ek kom terug van ’n kuier by een van my vriendinne en kan nie help om te wonder nie of so ’n vertoonlokaal vir ’n huis ooit enige warmte uitstraal.

Alles is op hulle plek, klinies netjies. Ek wonder by myselwers: Is daar ’n plekkie waar ek my boek kan neersit sonder om haar komposisie van ornamente te versteur? Nee wat, gee maar vir my my eie deurmekaar orde. Ek weet waar alles is, weet net waar om te soek vir ’n bepaalde item.

Dit is miskien mooi om, soos wat ek nou die dag raakgelees het, in jou eie “Garden and Home”-omgewing jou meubeluitstalling te hê, maar is dit huislik? Volgens my smaak en gemoedsrus verkies ek ’n mensliker aanslag en nie ’n uitstalvenster vir my meubels nie.

Hoekom kuier party kinders eerder by tant San laer af in die straat waar hulle sommer om die kombuistafel kan sit en hulle beskuit in ’n beker koffie kan doop. Daar is nie die stywe pinkie-in-die-lug tee- en koffiedrinktye soos by die huis nie waar tee net bedien word in die allerdunste porseleinkoppies en beskuitdoop in jou koffie definitief verbied word. Dit is ongemaklike rugregop-geleenthede.

Van maats wat sommer inval, is daar geen sprake nie. Almal moet eers ’n afspraak maak. Dit het ek nie geken nie. By my was almal enige tyd van die dag welkom. Ons het altyd gedink, hoe meer siele, hoe meer vreugde.

Kyk net na die huise wat hulle vir ons op TV wys. Dit laat my wonder hoe mense in sulke huise leef. Dan is dit nie vir my onverstaanbaar dat so baie kinders eerder mall toe gaan om hulle maats te ontmoet nie. Daar is dan mos nie ’n gevaar dat iemand iets sal versteur, of al die simmetriese lyne sal ontsier, en Ma sal ontstel nie. Liewers uiteet by restaurante want dan bly die kombuis skoon. Manlief bly saans liewer laat op kantoor want lankal voel hy nie meer welkom om sy skoene uit te trek en sy voete op die teetafeltjie te sit net om te ontspan nie. Vroulief kyk meestal teen haar neus af net om te sien wat hy nou weer verkeerd gaan doen.

Gaan kyk bietjie by hierdie mooi huise in die slaapkamers. Bly hier robotte of mense? Alles so netjies en op hulle plek dat ’n  mens wonder of die inwoners nie te bang is om asem te haal nie. Nie ’n skoen of ’n sokkie wat aandui dat hier ’n kind bly nie. My pa het altyd gesê ’n huis moenie sy baas wees nie, hy wil ontspan en die tyd daar geniet want dit is sy domein.

Verstaan my mooi, natuurlik wil ek my huis skoon hê, maar dit moet ’n plek wees wat LEWE uitstraal, waar mense welkom voel en kan ontspan terwyl hulle daar is, of hulle nou daar bly of net by jou kuier.

Nee wat, ek skink sommer ’n dubbele dop Jack Daniels om te ontspan.

This entry was posted in Huislewe and tagged , . Bookmark the permalink.

6 Responses to Vertoonlokale

  1. seegogga sê:

    Ek stem, Klippie, ek stem. Audrey Blignault het eenkeer geskryf van almal se ontwerpershuise en sitkamers en hoe hulle sulke vriende besoek het. Toe hulle tuiskom, strek haar broer hom so behaaglik uit en se:” Ag hoe lekker is di om weer hier by julle te kuier- hier waar alles so lekker lelik is” Of so iets, bedoelende: hier, waatr alles nie so perfek is nie, kan mens ontspan!!!

  2. Pikkelik sê:

    My huis is my hawe. Dis hier waar elkeen wat inkom veilig moet voel. Natuurlik sorg ek dat alles altyd skoon is maar van netjies is hier weinig sprake. Dis in alle geval so goed jy probeer ‘n straat vee terwyl daar ‘n tornado aan die gang is met twee kleuters in die huis! 😀

    • klippie sê:

      Jou twee warrelwindjies hou jou seker baie besig. Ek stem saam skoon en netjies moenie verwar word nie en met klein kindertjies maak mens jouself onnodig moeg om alles aanhoudend op hulle plekke terug te sit.

  3. Annemarie sê:

    Gee vir my asb liewer n dubbele Jackie Lee :mrgreen:

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s