Uittelrympies

Olke bolke riebetjie stolke
Olke bolke knol
Errie tjerrie tjiekerie tjerrie
Errie tjerrie tjorts!

Wie onthou nog uittelrympies? Leer ons kinders dit nog en gebruik hulle dit om speletjies te speel soos ons van ouds gespeel het? Of is alles nou gerekenariseer; speletjies op die rekenaar, Playstation of Wii?

Daar is soveel uittelrympies wat ek nou in herinnering roep:

Op die klavier
staan ’n bottel bier
Die een wat daarvan drink
sal stink.

Of wat van:

Eina deina dana das
Skotla weina wana was
Ietsie pietsie muskadel
Tweela tweela twenty-one!

My gunsteling uittelrympie is:

In die donker donker bos
is ’n donker donker huis.
In die donker donker huis
is ’n donker donker kamer.
In die donker donker kamer
is ’n donker donker kas.
In die donker donker kas
is ’n donker donker laai.
In die donker donker laai
is ’n donker donker brief.
In die donker donker brief
staan: Jan Makkepan, jou hoenderdief!

Die uittelrympies is gebruik by verskillende speletjies om te bepaal wie die leier is van ’n speletjie of wie eerste aan die beurt is. So het ons dit byvoorbeeld gebruik om te bepaal wie moet eerste begin spring wanneer ons hopscotch gespeel het. Ek sien van tyd tot tyd hopscotch-raampies wat getrek word by kleuterskole. So miskien speel die kinders nog hopscotch, ten minste terwyl hulle by die kleuterskool is.

Dan het ons ook sulke rympies gebruik wanneer ons wegkruipertjie of blikaspaai gespeel het. Nie een van ons het daarvan gehou om eerste wag te hou nie, so die ou wat laaste uitgeval het, moes waghou en die ander se wegkruipplekke gaan soek. Dit was baie lekker om die soeker te uitoorlê en triomfantelik te skree: Blok myself! Dit het ook beteken dat jy nie in die volgende rondte hoef wag te hou nie.

Ek hoop die kleuterskole gebruik nog die rympies. Maar vandat rekenaars en TVs die nommer een speelmaats is, vrees ek dat sulke uittelrympies in die vergetelheid sal verdwyn.

This entry was posted in Kinderspeletjies, Uittelrympies and tagged , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Uittelrympies

  1. Ek dink wat ‘n mens hiermee saam kan noem is van die volksliedjies. Moet my nie verkeerd verstaan nie, daar is ‘n plek vir moderne musiek. Die voordeel van volksliedjies is dat dit iets is wat almal saam kan sing. Hoeveel kinders ken vandag nog Bobbejaan Klim die Berg of Suikerbossie? Maar almal ken “Jy soen my nie meer nie”.

    Eenie Meenie Mynie Moo – ek het dit altyd geken as “Catch a tigger by his toe”. Ek het eers jare later gehoor dat dit ‘n nigger wat aan die toe gevang was. 😆

    • klippie sê:

      Ek stem saam oor die musiek. Toe my kleindogter geemigreer het, het sy, behalwe haar Chris Chemeleon en Coenie de Villiers cd’s, ook cd’s met tradisionele Afrikaanse musiek saamgevat. En nou sing my dogter vir haar kleinkind van Bobbejaar klim die berg tot Sarie Marais oor skype. Dan is daar natuurlik ook die Doris Brasch kinderliedjies wat ook nie meer baie bekend is by die kleingoed nie.
      Ja, ons het ook Eenie Meenie gesê, maar jy weet, as mens ouer word, vergeet mens somtyds. Ek kan nie eens onthou of ons “tigger” gese het nie.

  2. Olga sê:

    😆 ons het tiger gese. Was net meer polities korrek en neem meer moed.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s