Fiemies

Nou die ander dag aan etenstafel het ek geweier om slaai te eet. My dogter vra toe: “Wat se fiemies is dit nou?” My antwoord aan haar was: “Hoekom moet ek blare eet? Ek is nie ’n bok nie.” Toe begin ons om elkeen se fiemies uit te pluis en toe wonder ek of mens gebore word met fiemies en of jy dit maar aanleer.

My oudste seun eet glad en geheel en al nie iets waarin rosyne is nie. Hy sê dit lyk te veel na dooie vlieë. As hy ’n broodrolletjie kry met rosyne in, haal hy eers al die rosyne een vir een uit en eet dan net die broodgedeelte. Toe hy nog ’n kind was, het hy verseg om ertjies te eet maar my man was baie kwaai en het gesê dat die kinders alles moet eet. Hy het dan vir Frans verbied om van die tafel af op te staan voordat al die ertjies op sy bord nie opgeëet was nie. Sodra Pa dan van die tafel af opgestaan het en buite hoorafstand was, het ek gou-gou al die ertjies geëet sodat Frans nie verder raas moes kry nie. Hy eet steeds nie ertjies nie en moet ook nie, wat hy warm tamaties noem, vir hom opdis nie. So enige tamatie wat gekook, gebak, gebraai is, sal hy nie aanraak nie.

Vis, varkvleis en sop is weer op Archie se fiemieslys. As jy sop bedien, sê hy dit lyk vir hom nes vuil skottelgoedwater. Ek dink die vis-fiemies is net ’n aanwendsel maar varkvleis in enige vorm gee hom glo die horries.

Retha, my dogter, het van babadae af geweier om haar mond aan melk te sit. Nadat ek haar ophou borsvoed het, kon ek nie op enige manier beesmelk in haar lyf indwing nie. Die dokter het met my geraas en ek het probeer om haar melk met rooibostee te verbloem, maar sy het net haar kop weggedraai. Nou, vyftig jaar later, drink sy steeds nie melk nie: dit ruik kwansuis nie lekker nie.

My jongste seun eet nie wortels in gekookte vorm nie, maar kan vrek oor wortelslaai. Nou vra ek jou met trane in my oë, hoe werk dit?

My ma het geen garnale of calamari geëet nie. Sy het gesê die garnale lyk te veel na goggas. Ek het selfs by iemand gehoor dat garnale die kakkerlakke van die see is, so miskien het sy iets beet gehad daar. Die kleinkinders het toe besluit om vir Ouma calamari te laat eet. Hulle het gebraaide calamari aan haar voorgesit en vertel dat dit uieringe was. Sy het heerlik aan die “uieringe” gesmul en wou nog gehad het. Lateraan het hulle haar vertel dat sy calamari geëet het. Ek wonder wat sy sou sê van sushi?

Allie eet van babadae af niks met pitte in nie: grenadillas, druiwe, lemoene. Ons moet hom eers verseker dat daar geen pitte in is nie.

So is daar mense wat weier om pampoen te eet, wat gril vir hoendervleis, enige vleis met bene in of vir skaapboud, wat hou van groente net op ’n bepaalde manier gaargemaak en nog soveel ander nukke dat mens jou daaroor kan verwonder.

Ek het so met die geselsery by ’n paar verklarings van waarom mense nou juis fiemies sou hê, uitgekom. Een daarvan is dat kinders hulle ouers se nukke en grille navolg. In Allie se geval is dit moontlik dat hy nie van pitte hou nie omdat sy ma eers elke pit uit ’n vrug sal uitgrawe voordat sy dit sal begin eet. Ook sal sy die fyn net van veseltjies wat aan nartjies is, eers versigtig aftrek voordat sy ’n skyfie in haar mond sal sit.

’n Ander verklaring vir fiemies is dat kinders nie van vreemde goed hou nie. So byvoorbeeld het Archie toe hy klein was geweier om spinasie te eet. Sy ma het egter gesê dat hy dit nie hoef te eet nie, maar dat hy nie so iets kan besluit voordat hy nie ten minste daaraan geproe het nie. En na die proesel het hy gedink dat die spinasie eintlik lekker was.

En dan is daar die verklaring dat fiemies eintlik daarop dui dat ’n mens sekere kossoorte nie lekker kan verteer nie. Veral mense wat weier om suiwel- of graanprodukte te eet het miskien ’n instinktiewe aanvoeling dat daardie kossoorte nie met hulle akkordeer nie.

Wat beteken die woord “fiemies”? Google dit, sê iemand aan die tafel, wat hy toe doen en ons uitvind dat dit beteken om vol grille en giere, kieskeurig of aanstellerig te wees. Die woord “fiemies” is van die Latyns wat “drek” beteken, afkomstig. So, volgende keer as jy sê iemand is vol fiemies moet jy maar nie te letterlik dink nie.

This entry was posted in Fiemies. Bookmark the permalink.

2 Responses to Fiemies

  1. BB sê:

    Ek eet NIKS van die tong tot annerkant die gedierte se daar-waarie-sonnie-skyn-nie uit😳 Verder het ek nie fiemies nie. Behalwe brussels sprouts! OMW! En sushi… nee regtig!! Jy gesien hoe die mense wat dit vir jarre eet se ogies so skeef trek??:mrgreen: Watch die spulletjie hier in diep donker Afrika!! 100 jaar van nou, loop almal so skrefiesoog deur die lewe!

    • klippie sê:

      Ja-nee, ek het vergeet van die tong en ander binnegoed. En hoe kan mense van afval hou? Brussels sprouts hoort definitief in Brussels! Daar is ook nog ander goed wat my laat gril, maar ek kan dit nie hardop se nie want dan se my dogter sy’t altyd geweet ek is vol fiemies.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s