Om die etenstafel

Wat is lekkerder as om saam met gaste om die etenstafel te kuier? Na ete en miskien ’n glasie wyn of twee is dit mos asof almal ontspanne en meer gemoedelik is.

Eers begin dit met resepte uitruil. As mens lekker eet, is dit mos natuurlik om te wil weet wat die gasvrou se pampoengereg, geroosterde hoender of skaapskenkels so besonders maak. En dan is daar nog die nagereg wat uitgepluis moet word. En elkeen vul dan die gesprek aan met herinneringe aan sy eie, sy ma of vrou se kos (en natuurlik andersom). Iemand vra: “Wanneer laas het julle asynpoeding geëet?” Almal sê dat hulle dit baie lanklaas geëet het en ongelukkig kan niemand die resep onthou of in ’n resepteboek opspoor nie.

Dan begin die storievertellery, elkeen meer fassinerend as die ander. Niemand wil opstaan om TV te gaan kyk of ’n lêplekkie gaan soek of dalk met ’n boek in ’n stil hoekie verdwyn nie. Mens is te bang jy hoor nie een van die staaltjies of, nog beter, een of ander “juicy” storie nie. Dit is ’n gelag en gesels tot laat in die aand.

Ek is natuurlik die een met die meeste stories en kan mense nog steeds laat skaterlag met een van die vele blapse wat my al oorgekom het. Gewoonlik kan die kleinkinders of jonger gaste nie glo dat daar met een persoon soveel verkeerd kon gaan nie. Maar niks wat ek vertel, is uit die duim gesuig nie, dit kan ek jou verseker.

Soos nou die aand, toe ek die gaste vertel het hoe skaam my kleindogter een dag vir my was. Sy was omtrent so 10 jaar oud en ons het by ’n groot winkelsentrum rondgestap. My kleindogter, Jill, het gefassineerd na iets in ’n winkelvenster gestaan en kyk. Die mense by die sentrum het my goed geken en ek het sommer met enigeen wat bereid was om te luister, ’n gesprek aangeknoop. Sien toe die man wat voor die reisburo staan en glimlag. Ek het hom gegroet en sommer oor iets begin gesels. Jill kom nader en vra: “Met wie praat Ouma nou?” Nee, sê ek, ek praat met die man maar hy is onvriendelik. Hy antwoord dan nie eens nie. “Ouma,” sê sy, “dis nie ’n man nie, dis ’n kartonman.” Sy was baie ontsteld dat ek sommer met ’n prent staan en gesels het, want, wat sal die mense daarvan sê?

Sodra die gelag bedaar, vertel iemand anders oor soortgelyke insidente waar hulle iets in hulle stupidgeit aangevang het.

Dan is dit weer my beurt. En ek vertel hulle van die keer wat ek ’n slang uit die huis verjaag het deur net my hande te klap. Of die keer toe ek vroeg die oggend die kamergordyne oopgetrek het en daar die groot, vet rinkhals heerlik in die môreson sien bak het. En dan word daar nog ’n slangstorie opgediep: van die slangvanger wat ’n slang uit die slaapkamer moes kom verwyder en die slang wat by die hortjiesgordyn afgeval het toe ons dit die aand toegetrek het. Van die kinders aan tafel se oë rek groot en hulle gril eintlik van banggeit. Ek weet wie gaan vanaand eers onder die bed kyk voor hulle gaan slaap!

Daar is ook die ander stories van ongediertes in die huis: ’n padda wat jy voel toe jy jou voet in die skoen insteek en van geitjies wat in die nag op jou kussing val.

Maar dan sê een van die kleinkinders: “Ouma, vertel vir hulle van jou laaste skande!” En ek moet vra, watter een, want daar is so baie. En sy sê: ” Van die toilet, Ouma!” En daar kom die jongste storie uit.

Ek het besluit om ’n lekkeruikkers in my badkamer te laat brand en dit staan gemaak op die toiletbak. Daar was niks daar naby wat aan die brand kon slaan nie, so ek het rustig in die sitkamer gaan sit en TV kyk. Ewe skielik hoor ek ’n gil en Angel wat skree: “Gogo! Gogo!” En sy kom skoon wit geskrik by die sitkamer ingehardloop – die toilet is aan die brand. Ek het nie geweet die watertenk van die toilet is van plastiek nie; die kers het deur sy houer gebrand en die watertenk het aan die brand geraak. Die hele badkamer is swart van die rook. Ek bel ons nutsman, want my dogter en skoonseun kuier oorsee en sê vir hom hy moet gou ’n plan maak want my dogter kom oor ’n paar dae terug en ek wil nie moeilikheid hê nie. Jill neem toe die petalje met haar selfoon af en tweet dit vir die hele wêreld. Archie, my kleinseun in Johannesburg bel sy vriend in Howick: hy moet kom kyk of alles by die huis OK is. Die vriend het aangejaag gekom net om uit te vind dat dit net die toilet is wat gebrand het, maar my kleinseun is gerusgestel. My kleindogter in Engeland se man het ook die nuus gekry en vir haar gevra, sonder om my dogter te ontstel, of ek dan skelm rook. Jill het natuurlik nie die volle verhaal getweet nie, net van die skade. So is my skande met die nuwe tegnologie die hele wêreld ingestuur.

Nou drink ons ’n tweede koppie koffie en word daar vir oulaas nog ’n spookstorie of twee opgedis. Net om die reaksie van die jonger kleinkinders te ervaar. Vir hulle is spookstories amper soos Harry Potter, “magic”.

So bly die saamwees om die etenstafel tydjies om te koester. Vir ’n uur of drie is daar nie TV gekyk nie en die jonger kinders se selfone was nie so besig nie. En vir ons ouer mense is daar herinneringe waarin ons in ons eensame tye kan dink en weer kan herkou.

This entry was posted in Herinneringe. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s