Bygelowe

Wanneer mens dink aan bygelowe, is dié wat eerste by my opkom: pasop vir Vrydag, die dertiende, moenie onder ’n leer deurloop nie, ’n swart kat is ’n voorteken van iets slegs wat gaan gebeur en dies meer. In my hedendaagse lewe speel bygelowe nie eintlik ’n rol nie. Maar is daar mense wat nog aan bygelowe glo, of dan waarde aan ’n spesifieke bygeloof heg?

My ma het so baie bygelowe gehad dat ons kinders altyd agter haar rug vir haar gelag het. Veral haar gelofies oor sout het my nogal gefassineer. As kind kon ek nie verstaan hoekom daar soveel geloof aan die alledaagse sout geheg is nie.

Ons kon nie vir ons gaste aan tafel die sout aangee nie want dit sou veroorsaak dat julle sou rusie maak. Die soutpot moes op die tafel na aan die gas neergesit word en hy of sy moes dit dan daarvandaan optel. Sout wat gemors is, het trane voorspel. So, wees versigtig met die soutpot, was altyd haar vermaning. En ’n soutpot wat gebreek het, het beteken dat daar sewe ongelukkige jare voorgelê het vir die persoon wat die soutpot laat val het.

Nou dink ek ook aan al die spreekwoorde wat met sout te doen het: Met ’n knippie sout neem – jy glo nie sy storie nie. ’n Sak sout saam met iemand opeet – saam swaarkry. Van geen sout of water weet nie – heeltemal niks weet nie. Hare is sout en peper – as hare grys word.

Ander bygelowe het sy natuurlik ook gehad. So kon ons nooit die vuilgoed na sononder saans by die deur uitvee nie, want dit sou veroorsaak dat al jou geluk by die deur uitgevee word. Ons kon nie ’n nuwe ding op ’n Vrydag aanpak nie want dan sou die item of taak nooit voltooi word nie. Sy het werksoekers aangeraai om nooit maar nooit op ’n Vrydag by ’n nuwe werk te begin nie want dit sou beteken hulle sou binnekort weer moes werk soek. Hare en naels moes nie gesny word as ’n persoon olik gevoel het nie, want dit sou net moeilikheid veroorsaak.

Ons moes altyd die spieëls in die huis toegooi wanneer die weer begin opsteek het. Hoekom dit nodig was, weet ek tot vandag toe nie. Ek meen dis omdat die ou mense dalk geglo het dat spieëls weerlig weerkaats en omdat dit ’n blink artikel is word die weerlig daardeur aangetrek. Dalk het die weerkaatsing die weerlig net nog skrikwekkender gemaak.

Oorkruisgroetery met die hand het beteken dat daar binnekort ’n bruilof gehou sou word. ’n Baba wat gebukkend staan en deur sy beentjies loer het beteken dat hy ’n nuwe boetie of sussie roep. Albei hierdie bygelofies kan maklik verklaar word, reken ek. Met die groot families van toentertyd was daar kort-kort ’n neef of niggie wat op troue gestaan het en ses of agt kinders in ’n gesin in die 1920’s of 1930’s was nie vreemd nie.

Wanneer jy ’n sambreel in die huis oopgemaak het, het dit beteken dat iemand gaan sterf. So is die kinders altyd verbied om ’n sambreel oop te maak voordat hulle buite die huis was. En ons moes sorg dat die sambreel toe was, voordat ons dit die huis ingebring het.  Net so het ’n uil wat op die dak sit en skree ook ’n sekere doodstyding voorspel.

Dan is daar natuurlik ook die bygelofies wat met eetgerei te doen het. ’n Mes wat val, dui daarop dat ’n honger man nou-nou aan die deur sal klop en ’n vurk wat val, beteken dat ’n vrou sal kom kuier. As mens vir iemand ’n mes (of ’n skêr) present sou gee, moes hy die present by jou koop vir ’n sent (of ’n pennie in die ou dae). As dit nie gebeur nie, beteken dit dat julle nie meer vir lank gaan vriende bly nie want die mes of die skêr knip dan die vriendskap.

As jy ’n kledingstuk verkeerdom aantrek, beteken dit dat jy ’n present gaan kry

As jou linkerhand jeuk, is daar ’n brief van iemand besonders op pad na jou. En as jou regterhand jeuk, beteken dit dat jy iewers uit ’n onverwagte oord geld gaan kry.

As jou linkerooglid spring, gaan jy bly word oor iets maar as jou regterooglid spring, gaan jy huil.

En dan is daar nog al die gelofies wat daarop gedui het dat ’n vrou nie ’n man sal kry nie: wanneer sy op die tafel sit, wanneer sy haar skoen op die tafel neersit of wanneer sy ’n deuntjie fluit eerder as neurie.

Wanneer ons voëls gesien vlieg het, het ons die volgende rympie opgesê:

One for sorrow
Two for joy
Three for disappointment
Four for a boy
Five for a wish
Six for a kiss
Seven for a letter
Eight for something better ….

Ek kan nie onthou hoe die rympie verder gegaan het nie, maar dit was groot pret. Maar as ons drie voëls gesien het voordat ons toets geskryf het, het ons geglo ons gaan sleg doen.

Ons het gedink al my ma se bygelowe is baie snaaks en het al die gelofies mettertyd aan al ons gades oorvertel. Party van die aangetroudes het nogal soms saam met my ma gestem, veral die geloof dat mens nie sout moet aangee nie.

My ma het ook aan spoke geglo  en sy het ons en ons kinders vir ure lank daarmee vermaak. Maar dis ’n storie vir ’n ander dag.

 

This entry was posted in Bygelowe and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

9 Responses to Bygelowe

  1. BB sê:

    Lekkerrrrrrrrrr gelees! Van sout gepraat: ek weet nie hoeveel sakke sout ek al oor my skouer gegooi het oor ek sout gemors het😳 (Ouma het maar so gemaak, jong).
    En ‘n swart kart, wel… gee my tog bietjie hoendervleis.
    Verder sal ek ook nie onderdeur ‘n leer loop nie. Vir geen ander rede as dat ek al dinders hard van ‘n leer afgewe…. ehhhhhhm val het!
    (moet sê ek het nou die dag amper simpel aapstuipe gekry toe Era die sambreel so ewe in die huis oopspan! Maar my!!😆 )
    Die bygelofies van die oumense maak hulle vir my nog sóveel meer deernisvol! Ek weet nie of ek regtig daarin ‘glo’ nie, maar ‘n paar van hulle hanteer ek of ek wel doen…

    • klippie sê:

      Ek dink ook iets bly vassteek. Nou nog as ‘n mes op die vloer val, vra ek of daar iemand is wat kom kuier. Ek weet ook van baie mense wat as hulle regterhande jeuk lottokaartjies gaan koop. Die Vrydagtrouery van Prins William laat my juis wonder, hoe lank gaan dit hou?

  2. Olga sê:

    klink tog so bekend. Wonder of ons ma’s uit dieselfde era gekom het. Eisj. Die spieelsding, naels, sker, ag, nee, ek ken die lot. 😆 mft toegee, dit was nou pret om te lees en te besef daar was ander as my wyse ou moedertjie wat befobie was.

    • klippie sê:

      Dis soveel makliker om deur die lewe te gaan sonder die bygelowe. Ek wonder wat in my ma se geslag gemaak het dat daar so baie bygelowe was.

  3. Susan Pretorius sê:

    Ek sal graag die bygeloof oor ‘n heuningby wil weet. As dit in ‘n vertrek inkom voor 12 uur in die dag gaan dit ‘n goeie dag wees. Of is dit na 12 uur in die dag! Laat weet bietjie
    .

  4. piet sê:

    Ok weird mense…Geniet die lewe

  5. Wonder manet sê:

    Hoop ma regterhand geloof is waar, myne jik al heel week

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s