Op moedersdag

Die weer steek op en die wolke lyk maar dreigend. My gedagtes is weer hard aan die werk, het soveel dinge om te doen. Die kinders speel buite en die wasgoed is nog aan die draad. Boel, die Rottweiler, staan aan lyn. Ek roep vir Nelis: “Gaan hang op die hond en maak vas die wasgoed!” Hy vra: “Wat wil Ma hê moet ek doen?” en herhaal wat ek gesê het. Die kinders krul van die lag. Tot hede vandag toe word ek oor daardie woorde gespot.

My ma was altyd so geneig om haar woorde te verdraai wat natuurlik baie pret vir ons as kinders besorg het. Sy kon die snaakste stories vertel. Toe ons kinders was, was ons skaam as sy eers begin het want ons het nie geweet hoe sy nou weer ’n storie gaan verdraai nie. Noudat ek ouer word doen ek dieselfde. Die “moral of the story” is natuurlik dat mens nie moet oordeel nie, want een of ander tyd gaan jy dieselfde doen.

Vanne of name kon my ma glad nie onthou nie. Waldo het Waldeck geword. Sybrand het Siebrits geword en tot vandag toe praat almal van Siebrits want ons kan nie eens sy regte naam onthou nie. Wanda was Banda en Albrecht het sy sommer Harold genoem want sy regte naam was te moeilik om uit te spreek.

Niekie van den Berg se “Sê wie” was haar gunstelingprogram op die radio. Saans het sy by my broer se huis geslaap want hulle wou nie gehad het dat sy snags alleen moes bly nie. Dan het sy hulle vergas met al die stories wat aan Niekie vertel is, maar natuurlik alles op haar eie manier.

My ma was enig in haar soort. Daar was geen pretensie, net “what you see is what you get”. Sy was plat op die aarde, die regte sout-van-die-aarde soort. Met haar eiesoortige aanbied van ’n storie het ons eers geluister en haar agterna daaroor geterg. Sy het nie kwaad geword nie, net lekker saamgelag. Ma, ons mis jou.

My ma het vroeg in 1940 leer bestuur. Toe ons kinders was het ons natuurlik dikwels saam met haar dorp toe gery. Sy het maar teen ’n lae spoed aangekruie en as ons oor ’n brug moes ry, het sy ons eers afgelaai sodat ons oor die brug kon stap. Dan het sy ons weer aan die anderkant opgelaai. So is die proses oor elke brug op pad dorp toe herhaal. Waarom sy dit gedoen het, weet ek nie, maar later jare het ons haar baie daaroor geterg.

Voor my pa se dood het sy nog af en toe motor bestuur maar na sy dood het ons besluit sy kan nie meer bestuur nie. Die paaie het net te besig geword en ons kinders het gemeen dat sy nie die spoed waarteen mense toe al reeds bestuur het, sou kon handhaaf nie.

Na my pa se dood  het sy my suster wat ’n speelskool bedryf het, gehelp. Dit was ’n wonderlike terapie vir haar want die kinders was baie lief vir haar. Sy was die een wat spoegies aangesmeer het op die nerfaf knie, die handjies help touwys maak om tussen die lyne met die vetkryt in te kleur. Sy het hulle ook gehelp kinderrympies opsê, rympies soos:

Trippe trappe trone,
varkies in die bone,
koeitjies in die klawer,
perdjies in die hawer,
eendjies op die waterplas,
gansies op die groene gras,
ek wens dat kindjie groter was
om al die diertjies op te pas.

Of:

I’m a little teapot,
Short and stout,
Here is my handle (een hand op die heup),
Here is my spout (ander arm met geboë elmboog en pols),
When I get all steamed up,
Hear me shout,
Tip me over and pour me out! (kind leun oor in die rigting van die tuit)

Vandag is die trane naby. Dis al tien jaar sedert sy nie meer by ons is nie. Gelukkig is daar soveel waaroor ons kan lag wanneer ons broer en susters bymekaar kuier. My suster wat jonger was as ek en my ma se volle name gehad het, is presies drie maande na haar oorlede. So word die twee saam-saam onthou.

Sondag, 8 Mei, is moedersdag. Al is ek self nou al bejaard, voel dit asof sy hier tussen ons is wanneer ons oor haar praat en asof sy besig is om iets te maak waaraan ons kan peusel.

Ma, jou waarde vir ons was ver bo dié van korale. Die afdruk wat jy vir ons nagelaat het, sal ons vir geen ander verruil. Dit was besonders en enig in sy soort.

This entry was posted in Familie, Moedersdag and tagged , . Bookmark the permalink.

6 Responses to Op moedersdag

  1. BB sê:

    Mooi glimlag-met-‘n-traan onthou dié… Hoe ongelooflik bevoorreg is ons wat ‘n warm gevoelente in ons harte kry deur net 2 woordjies te uiter: “My Ma…”

  2. Dries sê:

    ja dar is net een woord vir moeders : wonderlik. Maar ouma groot was n ander entjie mens sal nooit vergeet hoe sy my om die huis geja het met die besem en wanneer moontlik n hou op die kop, of so het sy probeer. want dis waar die stout uitbroei.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s