Woorde

Ek hou van woorde, woorde wat lekker rondrol op jou tong. En woorde is belangrik want nie net kommunikeer ons daarmee nie, maar ons probeer ook daarmee beskryf – wat ons sien, hoor of dink. Dink net hoe baie woorde moet babas aanleer, weliswaar oor ’n hele paar jaar, maar nogtans.

My kleinseun, Allie, het maar sy eie woordelys gemaak. Vir ons was dit snaaks maar elke woord het die voorwerp waarvoor hy die woord gebruik het raak beskryf, byvoorbeeld:

klimmer vir ’n  leer
kapper vir ’n  byl
slaner vir ’n  hamer
trapper vir sy fiets
knyper vir die tang en
knipper vir ’n  skêr.

My kleindogter het weer gepraat van hobbeltjiesvleis vir die hoendervelletjie. Dit was haar lekkerste happie. Nou nog sê sy bommelakiesie in plaas van bollemakiesie.

Terimiaal in plaas van materiaal was weer Archie se verdraaiing.

My kleinkinders het ook hulle eie woorde gehad vir hulle gunstelingdis of vir sekere bestanddele in kos. So was daar:

wurmpies (spaghetti bolognaise)
rooivis (sardientjies)
rooiboontjies (baked beans)
katstert (vla of te wel custard)
padda-eiers (sagopoeding)
slops (maalvleisgereg met gemengde groente)
klipsop (groentesop)
hoender a la motors (hoendergereg met tamaties)
katjiebotter (grondboontjiebotter)
apiekos (grondboontjies of piesangs)
platvleis (steak)
kasaterwater (flou koffie)
stinkvoete (mengsel van parmesaan en knoffel).

Dan is daar heerlike woorde wat ek kan rondrol op my tong, soos:

los getjommel (gewoonlik deur rugbykommentators gebruik)
rof en tommel (iemand is so gemaak en so gelaat staan)
kafoefel (vry)
potjierol (lekker rond en gesond)
betjoins (dikbek of kwaad)
kotteljons (dans).

Hierdie woorde is vir my soos ’n getokkel op die tong.

Dan is daar nog ander beskrywende woorde, soos byvoorbeeld boomname:

kruidjie-roer-my-nie
drolpeer
haak-en-steek
witgatwortel
apiesdoring
sekelbos
lekkerbreek
dopperkiaat
papierbas.

So kan ek heeldag aangaan. Blaai maar net deur ’n boek of tydskrif en iewers sal jy ’n woord vind wat jy op jou tong kan rondrol.

Watter woorde is vir julle mooi of lekker om te sê?

This entry was posted in Afrikaanse taal, Woorde and tagged . Bookmark the permalink.

9 Responses to Woorde

  1. Lekker gewees om hierdie blog te lees.

    Daar is ook baie oulike Afrikaanse woorde vir voëls en diere. Soos byvoorbeeld, Trapsuutjies of verkleurmannetjie, en piet-my-vrou.

    Ek het hierdie artikel op http://veldbrand.com geskakel, sodat meer mense dit kan lees. Skakel gerus ook nuwe artikels daar in die toekoms!

    Groete

  2. meermin sê:

    Lekker gelees aan jou blog, sal meer male hier kom inloer😉

    My oorlede ouma het nooit gesê jou g@t nie, maar wel jou gert arbraham thyse … hoe duidelik hoor ek haar dit sê!!

  3. Dries sê:

    soos ek altyd se dis n saamoosa plisier ipv n groot plisier. en dis presies wat die blogs is n samoosa plisier om dit te lees

  4. Cathy Louw sê:

    Daar is ook ‘n fantastiese platvorm waar skrywers, digters, ens hulle eie werke kan publiseer…daar is ook ‘n afdeling vir nuwe woorde en grappies, rubrieke, kortverhale en al die lekker woorde wat so lekker op jou tong rol…

  5. Sparkle sê:

    Wat ‘n pragtige inskrywing. Ons taal is darm maar mooi. Ek praat ook van apiekos. My hondtjies noem ek “die sirkus” want hulle dink altyd alles is snaaks.🙂. Tarentale noem ek politiek, want dit lyk asof daar politiek aan die gang is onder hulle. Oe ja….na al die jare vind ek toe eers uit dis ‘n vatdoek en nie ‘n vaaaa’doek nie. Streekstaal kan mens ook lekker pooitjie.🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s