Geure

My nooi is in ’n nartjie
My ouma is in kaneel
Daar’s iemand in anys
’n Vrou in elke geur.

DJ Opperman word herinner aan sekere vroue wanneer hy bepaalde geure ruik. Maar vir my roep geure herinneringe op, selfs herinneringe wat soms ver weg gebêre is.

Ruik ’n waatlemoen vir jou lekker? Elke keer as die gras gesny word, word ek herinner aan die geur van ’n vars gesnyde waatlemoen. Dan gaan my gedagtes weer op ’n pad van hulle eie. Die groot vet waatlemoen wat geklop word om te hoor of dit al ryp genoeg is om geëet te word, die kinders wat afwagtend reg staan vir ’n dik skyf, pitjies wat uitgespoeg word en ’n wedstryd om te sien wie kan die verste spoeg of die tergende woorde: “Moenie die pitte insluk nie, netnou kom ’n waatlemoen in jou maag op. En dan kom die ranke deur jou ore uit.” Die eerste byt en die hemelse soet smaak, wat veral op ’n warm somersdag sommer jou dors ook les, bly lank daarna nog by jou.

Naeltjies is ’n spesery wat selde gebruik word, maar as die varkboud daarmee gestop word, kan mens die kos van ver af al ruik gaar word. Dit maak sommer jou mond water. Heerlik bedien saam met goudbruin aartappels vir ’n Sondagmiddagete.

Kaneel. Wie ken nie die geur van pannekoek met kaneelsuiker op ’n reëndag nie? En nou word mens herinner aan jou kinderdae toe Ouma pannekoek gebak het wanneer die eerste lentereën geval het.

Gemmer. Bakdag, almal wil gemmerkoekies hê en vir die kleuters word spesiaal gemmerkoekmannetjies gemaak. Die gemmergeur trek dwarsdeur die huis. Ek wonder of on kinders nog kennis dra van die spesiale geure en al die rituele wat daarmee saamgegaan het. Vandag koop hulle sommer gemmerkoekies in ’n pakkie by Checkers of Pick ’n Pay.

Varsgemaakte koffie. Nie die kitskoffie wat sommer so vinnig uit ’n blik of ’n bottel aangemaak word nie, maar regte egte boeretroos. Daar is niks wat so lekker as dit ruik nie. My man wat ’n koffiedrinker van formaat was het altyd gesê dat daar ’n parfuum met die geur van koffie gemaak moet word.

Tuisgebakte brood. Ek word sommer honger as ek net daaroor skryf en ek sien in my verbeelding hoe ek ’n warm korsie met botter beplak en heuning of stroop daaroor drup en sommer so staan-staan in die kombuis eet.

Braaivleis. Dis natuurlik vir geen Suid-Afrikaner ’n vreemde reuk nie. Waar kan ’n storie so lekker vertel word as om ’n braaivleisvuur? Al die landsprobleme, rugbyflaters en dies meer word sommer so tjoef-tjaf met ’n glasie bier in die hand opgelos. Die manne is gewoonlik die braaiers en die vrouens sorg vir slaaie en ander bygeregte. Die mans het vrede wat saam met die vleis geëet word want vleis is vir hulle die hoofgereg. Bogger die res. As daardie eerste walms van die braaiende vleis of wors mens omgewe, vergeet jy sommer jou probleme.

Die geur van gebraaide uie maak jou honger of jy nou net geëet het of nie. Party mense beveel selfs aan dat jy uie braai wanneer jy jou huis op skou sit vir verkoop, want dan lyk die huis kwansuis huisliker.

Die eerste reëndruppels op ’n stowwerige stuk aarde. Dit sit sommer ’n huppel in jou stap. Die sorge van die dreigende waterkrisis verdwyn ook sommer daarmee saam. Die skoongewaste plante en bome laat alles om jou nuut en vars lyk. Al was dit ’n droë jaar lyk alles nou weer hunky-dory. Ek sal vanaand lekker slaap met die klank van druppels op die dak want dit klink soos ’n melodie of simfonie.

Almal het natuurlik ander geure wat vir hulle besonderse herinneringe oproep. Vertel ons van jou eie besonderse geure.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

6 Responses to Geure

  1. seegogga sê:

    Ai, al hiedie goed ruik baie lekker! Gee vir myu die geur van die see. Sommige sal se dat hy stink, as hy die da so sterk ruik, maar vir my is dit so ‘n wonderlike sout seereuk wat se: jy’s nou op ‘n wonderlike plek: die see!!!

    • klippie sê:

      Die geur van die see is wonderlik en omdat ek vir die grootste deel van my lewe ver van die see af gebly het, kry ek nog steeds ‘n vakansiegevoel as ek die branders sien.

  2. toortsie sê:

    Reën. Julle sal dit nie glo nie, maar … kerrie-afval!! boontjiesop

  3. Dries sê:

    Vars gesnyde gras en waaatlemoen laat my aink aan kersfees toe ek n kind was. Groen appels is definitief my vrou, en die klank van water wat val aan die plaas seker darem dat ek soveel “water features” in die tuin het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s