Winskopiejag

Ek lees nou die anderdag van ’n vrou wat kla dat haar man nie by ’n winskopie kan verbyloop nie. Nou moet ek bieg dat ek aan dieselfde siekte ly. ’n Bargain bly immers ’n bargain. Ek glo my ou man het menige dag gewens hy het nie verby die winkel gery waar daar ’n uitverkoping gehou was nie.

My susters het geweet dat hulle net op my knoppie kon druk as hulle ’n nuwe rok, trui of baadjie nodig gehad het. Hulle het buite die stad gewerk en sou my bel omdat hulle dringend ’n nuwe partytjierok nodig gehad het om saam met die nuwe outjie te gaan dans of fliek of so iets. In daardie dae het mense mos nog aangetrek as hulle gaan fliek het. Omdat ek al wat ’n koerant was bestudeer het vir uitverkopings is ek gebel: “Jy ken my grootte en smaak. Gaan koop asseblief gou iets.”

Dan het ek in etenstyd gou-gou na die winkel gedraf, te bly om ’n verskoning te hê om te delf en te grawe op soek na ’n bargain. Hierdie keer darem met iemand anders se beursie. Dan hoef ek mos nie die pakkie in te smokkel of vir my ou man te sê: “Ag nee, jy kan net nie onthou nie. Ek het dit al aangehad.”

Ek moes altyd eers die etikette afsny en die nuwe aankoop diep agter in die kas bêre. Maar by die ander het ek altyd gespog oor die groot bargain wat ek nou weer raakgeloop het. My man het mettertyd maar verlief geneem met al die nodige en onnodige aankope.

Na ons aftrede het ons na my dogter toe getrek wat genadiglik ’n groot huis en baie pakplek het. Hier is ’n tak van die DBV en elke Maandag moes my ou man my soontoe vat sodat ek bietjie bargains kon gaan soek. Kyk, ek kan mos nie ’n help-my-kraplaai verbyloop nie. En by die DBV was dit al te lekker want daar was orals iets om in te krap.

Eers het ek begin Barbiepoppe, teddiebere en trolle versamel. Die helpers by die DBV het my naderhand goed geken en as daar ’n item ingekom het waarin ek sou belangstel, het hulle dit vir my gehou. Op daardie stadium was van die kleinkinders nog klein en ek het na hartelus winskoopspeelgoed vir hulle aangeskaf.

Toe het my ou man by my aangesteek. Nou het hy begin krap vir dinge wat hy moontlik kon nodig kry as hy die grassnyer moes regdokter of ’n waterpyp moes las. Toe het die speletjie lekker begin word want hy het nie meer so baie vrae gevra nie. Skielik het hy dieselfde drang ontwikkel en koekblikke en houers vir al die kinders en vriende gekoop waarin hy die beskuit en koekies wat hy so graag vir hulle gebak het, kon pak.

Die items wat by die DBV aangebied word is gewoonlik van ouer mense wat begin afskaal. So kan mens wol en hekelgaring teen ’n goedkoop prys daar kry wat weer in truie of kombersies verwerk kan word. Daar is outydse strykysters, houtbakke en beelde wat die mense wat na kleiner plekke toe trek nie meer kan gebruik of ten toon stel nie. Die goed kry nou weer ’n staanplekkie in iemand anders se huis en daardie persoon raak miskien net so lief daarvoor.

Tweedehandse boeke is net so ’n groot lokmiddel. Afrikaanse boeke kan jy vir ’n appel en ei optel want die meeste mense lees Engels. So het ek ’n hele Langenhoven-versameling vir ’n skamele R12 aangekoop. Daar pryk baie boeke op my rak wat ek daar gekoop het.

Nou kan ek ongelukkig nie meer so maklik beweeg nie en is my stokperdjie daarmee heen. Daarby is my dogter net te ongeduldig om te help my krap vir winskope. Maar vir die wat nog kan en wil winskopies soek, geniet dit!

This entry was posted in Winskopies and tagged , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Winskopiejag

  1. Ek is nie mal oor inkopies doen nie, maar ‘n boekverkoping? Ek het juis weer gister sommer 3 boeke gekoop, net omdat dit classics is en goedkoop was. Ek het Pieternella van die Kaap destyds vir net R10 gekoop. Nuut. Winskoop van die eeu.

    Ek is ook stout vir CD’s en DVD’s

  2. BB sê:

    My meisiekind was so in die vroeë tienerstadium toe sy by die huis aankom met ‘n stukkie lap-lel (het ek dit genoem, want dit was letterlik net ‘n lel). Dis ‘n toppie, Ma!🙄 En disse bargain, Ma!😕 ‘n Bargain, my baby?? Jip! minder as halfprys!! Hoeveel? Ehhhhmmmm… Ma moet onthou disse boetiek-toppie! Ja, hoeveel?? Ehhhmmm R50. R50?? Virre lel??? Ag, Ma sallie verstaan nie!! My kind, waarheen gaan jy die ding aantrek? Nee, ek weet nog nie Ma… maar ek het R75 gespáár!!! Gespaar my baby??? Jy kon R125 gespaar het as jy hom nie gekoop het nie!! Dán sou dit ‘n ware bargain gewees het.😉 Ag, Ma, man!!!
    Toe nooit gedra nie – nie in 10 jaar nie! Maar hy was ‘n bargain afterall!:mrgreen:
    (ek het hom nou die dag agter uit ‘n kas gegrawe… hom so gekyk… nie té onaardig nie – bietjie baie ‘bling’ en baie min lap. Maar nou wonder ek – as ek my vriendin vra om vir my ‘n behoorlike toppie daarvan te maak – sy is só handig… dalk kan ek dit eendag na my enigste mooiste meisiekind se troue dra?? Ek dink sy val agteroor as sy die bargain-lel herken!!!:mrgreen:

    • klippie sê:

      Wonderlike storie. Ek dink daar is menige winskopiejagters, natuurlik nie ek nie, wat eerder nie van daardie winskopies wil vertel nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s