Oudword is nie vir sissies nie

Oudword is nie vir sissies nie. Dit kan ek nou beaam. As jy jonk en vol lewe is, lê dit vir jou soos iets in die ver verskiet. Toe my ma en pa in hulle dertigs was, was hulle vir ons as kinders stokoud. Nooit het ons gedink ons sal daar uitkom nie. Maar soos ’n dief in die nag bekruip die jare jou en voor jy kan sê, mes, is jy ’n senior burger.

Toe ek 55 jaar oud was, en ten spyte van vele operasies en gesondheidsprobleme, het ek nog gevoel asof ek berge kon versit. Nou gaan bly die mense in komplekse vir oor-vyftigs. Ek wonder baie keer by myself wat die mense besiel.

Jonger mense gebruik vitamienpille en allerhande smeergoed om die plooie weg te hou. Botox en allerhande goed waarvan ek nie eers die name weet nie word gebruik om teen veroudering te help. Dokterspreekkamers is vol mense wat pille vir die pyne en skete van die ouderdom kom soek. Ek het niks daarteen nie; inteendeel, ek sou ook graag so ’n tien jaar of wat jonger wou lyk en voel. Maar helaas, niks wat ek sou gebruik kan die verwering van die ou bene terughou nie. Die gees is so gewillig maar die vlees is swak.

Wat my die meeste grief is die gesukkel om op te staan uit ’n stoel, die geskuifel van voete om iewers heen te loop. Dan wens ek in my enigheid dat my ledemate soos my gemoed moet wees want in my gedagtes voel ek ’n hele 30 jaar jonger. Ek kan nog saam met die jonges gesels oor al hulle kaperjolles, saam met hulle hulle leesstof en musiek geniet, selfs af en toe saam met hulle fliek. Kan jy nou dink dat hierdie onwillige bene en voete op hulle tyd tot hanekraai gedans en rinkink het?

Dan kom mens by die eetslag. Mens mors op jou rok of bloes sonder dat jy kon keer want die bewerigheid van die hand wat die vurk of lepel vashou wat sorg dat die kos nie mooi by die mond kan uitkom nie. Dan dink ek aan die prentjie van die oumens wat eers ’n borslap aansit voordat hy kan eet.

Daar is ook geheues wat nie meer so lekker werk nie. Dit is darem nie een van my vele terkortkominge nie want ek kan nog almal se verjaarsdae en huweliksherdenkings onthou. Daarby kan ek ook al die kattekwaad wat hulle aangevang het onthou en ook hulle nonsies. Ek kan ook onthou waar ek gister ’n ding neergesit het en wat iemand nou net vir my gesê het.

My grootste afkeur in oumense is diegene wat altyd verwyte teenoor hulle kinders of naastes het. “Hy het alweer sus of so nie gedoen nie” of “Ek is sy ma, en hy het belowe om dit of dat te doen, en hier wag ek nog steeds”. Dan volg ’n lang gesug en gesig.

Of die oumense wat almal verdink van diefstal: “Die bediende het alweer haarself aan my toiletseep (of suiker, koffie of tee) gehelp. Ek kan nie een vertrou nie.” Om net môre of oormôre die ding op ’n heel ander plek as waar die oumens dit gesoek het, op te spoor. Ek het ’n kleintjie dood aan die idee van agterdog en naganigheid.

Maak vrede met jou jare en moenie ’n oorlas word nie. Ek probeer hard en is baie dankbaar vir diegene wat my help en wat ’n blinde oog draai vir al my foute.

This entry was posted in Familie, Oudword and tagged , . Bookmark the permalink.

5 Responses to Oudword is nie vir sissies nie

  1. Baie mense het die hart (en geduld) om met bejaardes te werk. Ek is nie een van hulle nie, juis oor die klagtes en verbittering wat so maklik as kenmerkend van ou mense gesien word.

    Aan die ander kant, die ooms en tannies wat nog met ‘n vonkel in hulle oog die lewe met altwee hande aangryp (sover hulle kan) is ‘n plesier. Hulle trek mense aan en word nooit ‘n verpligting nie.

  2. seegogga sê:

    Rage, Rage against the dying of the light!

  3. Olga sê:

    Kyk, ek kan beaam oudword is nie vir sissies nie. Daarom weier ek om oud te word. Maar dink julle Vader Tyd wil gehoor gee? Eisj!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s