Lewe saam met ’n depressielyer

Vandag wil ek regtig nie op mense se tone trap nie, net praat uit my eie ondervinding.

Toe ek getroud is, baie jare gelede, was my eggenoot ’n sterk, gesonde man wat altyd gereed was met ’n nuwe plan wat ons ander geïnspireer het. Altyd besig om ’n nuwe projek aan te pak. Hy was vol energie en aan die gang. Daarby was hy beginselvas en as hy standpunt ingeneem het, onwrikbaar. My persoonlike mening is nie om hom op ’n voetstuk te plaas nie, net om te verduidelik dat die onderwerp waaroor ek skryf nie ’n aanduiding is van wat in later jare sou gebeur nie.

Omdat hy so ’n voorslag was met alles wat hy aangepak het en enige ding kon regdokter, kon ek my glad nie indink hoe dit sou wees om met ’n man met depressie getroud te wees nie.

Persoonlik dink ek dat mens so lank as moontlik moet werk of dan betrokke moet wees by iets wat jou amper voltyds besig hou, soos ’n stokperdjie. So lank as hy nodig is en nodig voel, voel die persoon hy is waardig.

Na my man se aftrede het dig nog goed gegaan solank hy kon reis en die land kon verken. Toe slaan die siekte toe. Probleme met die kinders: egskeiding en aflegging by die werk. Pa wat alles probeer om so goed as wat hy kan dinge bymekaar te hou.

Maar dit alles het nagevolge. Pa begin al hoe meer in homself gekeerd raak. Hy praat nie, stap net rond met ’n bekommerde gesig. Daar is geen uitreiking na ander nie, hy onttrek hom en gaan nooit meer iewers heen nie, behalwe om brood te gaan koop.

Hy raak bedlêend en staan net op om te gaan eet en gaan lê dan weer. Volgens hom is die pyn onuithoudbaar. Ons bid en laat die dominee kom. Hy murmureer en bevraagteken God se genade. Ons probeer en redeneer, maar Pa raak net al hoe meer depressief. Hy staar net voor hom uit met nikssiende oë. Ek probeer om hom in iets te laat belangstel, maar niks help nie en daar is geen verandering in sy gemoed nie.

My dogter sê: “Ma, nou moet ons iets anders probeer. Ek kan nie verdra my pa moet so lyk nie.” Hulle trek na ’n huis met ’n tuin van 3 akker en swembad. Hulle sê: “Pa, julle moet nou hier kom bly en Pa moet help met die onderhoud van die tuin en die swembad.”

Alles verloop toe goed en Pa begin sommer weer beter lyk. Een middag laat kom hy by my aan en sê: “Jy weet, God het vandag met my gepraat terwyl ek op die trekker was en gesê: ‘Hoekom blameer jy My vir al jou probleme? Jou pyne en gemoedstoestand? Jy is self daarvoor verantwoordelik. Goeie raad het jy in die wind geslaan en jou eie kop gevolg. Maak vrede met jouself en dank God vir elke nuwe dag.’ “

Soos handomkeer het Pa verander. Sy tuin- en swembadwerk was ’n plesier. Alles was netjies en skoon en Pa was weer lus vir die lewe. Vir vyf jaar het alles goed gegaan en Pa was weer die man wat ons vroeër geken het. Toe slaan die depressie weer toe.

My bewering wat ek wil maak, is dit. Die persoon wat saam met die depressielyer moet leef, word dikwels blameer en kwalik geneem. Vandag kan ek net sê dat daar nie ’n maklike manier is om lewe in so ’n persoon se oë terug te kry nie. Niks maar niks kan weer die vonk terugbring nie. Sy dooie oë was wat my die meeste gepla het. Geen glimlag wat kon aandui dat vandag ’n beter dag sou wees nie. Hy was werklik siek maar ons sou dit beter kon verwerk het as hy nie so ontsettend depressief was nie. Alles was vir hom ’n berg.

Ek, daarenteen, was gelukkig altyd met die Genade van Bo ’n persoon wat ’n halfvol glas en nie ’n halfleë glas nie, gesien het. Dit was my behoud. Ook die feit dat ek nou elke dag my gedagtes met julle kan kommunikeer deur middel van die blog hou my gedagtes besig met positiewe idees.

My mening is dat die persoon wat saam met die depressielyer moet leef net soveel ondersteuning, indien nie meer nie, nodig het. Want probeer soveel jy wil, die newels wil net nie lig van sy of haar gemoed nie.

Pa is nou al agt jaar oorlede na ’n massiewe beroerte. Die laaste ses maande van sy lewe was hy so verskriklik depressief dat ons dit nie maklik kon hanteer nie en sy agteruitgang was nie vir ons lekker om te aanskou nie. Iets wat my egter lank sal bybly is dat ons, drie dae voor sy dood, almal saam met hom op die bed waar hy gelê het, gaan sit het en gelag, geskerts en grappies vertel het. En op daardie dag het ons hom sover gekry om vir ons te glimlag.

This entry was posted in Depressie, Herinneringe and tagged . Bookmark the permalink.

5 Responses to Lewe saam met ’n depressielyer

  1. BB sê:

    Groot en wye onderwerp dié, nê? Dink jy sommige mense is maar meer ontvanklik vir depressie as ander? Of dink jy dis regtig bloot net chemies? Dink jy dat dit mans erger tref as vrouens – siende dat vrouens meer geneig is om te praat – al is dit om skete en kwale te bejammer? Dink jy dis omdat mans oor die algemeen eintlik tog maar ‘n kleiner vriendekring het as vrouens soos hulle ouer word?
    Ek het ‘n liefie wat ek op die ‘brink of depresion’ ontmoet het. Ek het eers suutjies getrap en sensitief opgetree – en toe eendag my gewip en sonder veel simpatie my voet neergesit. op ‘n manier het dit gewerk. (Ek moet noem dat daar eksterne faktore was wat swaar geweeg het – en ek dink dat as mens dit nie ‘sien aankom’ nie – veral klein issues soos dood/werkverlies, geen stokperdjies, kinder/familie probleme en ag ook is liefie baie meer introvert met geen veel erg aan vriendskappe nie…).
    Soos reeds gesê – dis ‘n wye tema, ek weet – elkeen ervaar dit maar seker anders en ek verstaan ook dat dit soos ‘n dief in die nag kom – jy weet nie jy het dit voor jy dit het nie😕
    Ek dink ook ek is vreeslik blessed – met ‘n joyful positiewe geaardheid. Maar ek kan ook met sekerheid sê dat ondersteuners van depressielyers beslis ook geweldig baie ondersteuning nodig het. Nie raad nie. Net rustige, liefdevolle ek-is-daar ondersteuning. Ek persoonlik dink ek sou beslis vra daarvoor – want dis nou wragtig een van daardie ‘siektes’ wat nie ooglopend ‘daar’ is nie – hoe moet ander tog ook soms weet dat jy wel onderskraging nodig het, as jy nie vra nie?

    • klippie sê:

      Meeste mense meen, sover ek weet, dat vrouens meer geneig is tot depressie as mans. In my eie kringe weet ek van 4 vrouens en net een man, nl my man, wat aan depressie ly of gely het. Miskien juis omdat vrouens sal erken dat hulle aan depressie ly en mans dalk dink dit openbaar ‘n swakheid by hulle? Maar ek dink daar steek baie waarheid daarin dat mens moet praat oor dinge wat dalk kan verkeerd gaan. In ons geval, egter, het ek dit beleef dat my man naderhand glad nie eens wou praat nie, wat nog te se oor sy probleme of vrese praat. Hy het medikasie gekry maar omdat dit vir ons ‘n vreemde toestand was, het ons nie daaraan gedink om ‘n tweede of selfs ‘n derde dokter te gaan spreek nie. Eers nou, jare later, word ek vertel dat daar verskillende chemiese tekorte kan wees wat met ander tipes antidepressante behandel word. Ons het hom so liefdevol moontlik behandel en hom probeer betrek by alles wat ons gedoen het, maar alles was tevergeefs.

  2. seegogga sê:

    Ai, hartseer. Ek sal iets hieroor skryf op my eie blog. Maar ek weet nie hoe om die pingbacks te doen nie.

  3. net n ander iets sê:

    Hoe maklik is dit tog nie om dit n naam te gee neie, Depressie.
    hoeveel keer is dit n diep hunkering na iets meer onaantasbaar, n soeke na die waarheid, die sin van alles.
    Kyk ons nie dalk te maklik na moderne terme en opvattings nie en is die ware toedrag dalk nie soveel eenvoudiger nie?
    Met die gejaagde lewe en lys oplossings vir alles en nog wat het ons nie dalk die mens wees in die proses verloor nie?
    Uit eie ondervinding deur n baie lang en moeilike pad het dit vir my baie duidelik geword (nie dat ek nou altyd “vry” is nie), dat daar gewoonlik n groot behoefte is wat nie vervul word nie en dit dan die oorsaak is vir die sielsongelukkigheid.
    Reg of verkeerd sal dit sekerlik nooit bewys kan word nie, maar n bevrediging van die behoefte Geestelike behoefte en n behoefte om dit te deel met die mense wat vir jou belangrik is maak gewoonlik die paadjie na “herstel” soveel makliker, maar die probleem kom gewoonlik met die tyd saam, daar is nie nou tyd daarvoor nie, dit pas nie by die planne in nie, of allerhande ander redes.
    Dan ook van die kant van die “leier” hoe kan ek daaroor praat ek is die man/pa/oupa/toesighouer of watter ander titel ook, en ek moet gesien word as die sterkere en mag nie ook maar net mens wees nie.
    Wat dan die oplossing sou jy vra.
    Amper onmoontlik is die antwoord, want om die leier te kry om te volg mag dalk net die probleem vererger, as dit juis oor tyd geskied en subtiel gebeur, en tyd is dan juis ons hedendaagse kosbaarste besitting.
    Al wat ek dan kan se sterkte aan almal wat in die bootjie ry waar depressie n mede reisgenoot is, en vir die wat wil help daarmee ek hoop julle het meer as net hare op die tande.

    • klippie sê:

      Dit kan ‘n probleem wees waar veral die man nie as swak gesien wil word nie om vir hulp te vra. Iemand anders het ook gese dat mens die probleem moet bespreek met diegene wat vir jou omgee, maar dit kan ook gesien word as om ‘n las op ander te plaas.
      Ek stem saam dat daar soms ‘n onvervulde behoefte is, maar soms kan selfs die depressielyer dit nie verwoord nie.
      Hare op die tande, geduld, liefde en baie krag van Bo!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s