Saterdag, die veertiende

As jy hierdie inskrywing lees, beteken dit jy het Vrydag, die dertiende oorleef. As jy nie, soos vele ander wel het, die hele dag in die bed gebly het en net opgestaan het om badkamer toe te gaan of dalk ietsie te eet nie, het jy sekerlik goed voorsorg getref om hierdie dag heelhuids aan te durf.

Miskien het jy, soos mense van ouds, mosterdsaad op die dak gegooi om die bose geeste weg te hou. Ek dink nie dit sou in ons stede baie goed gelyk het as jy, soos sommige nasies, uie op jou dak gepak het teen die bose geeste nie. Wel dink ek dat die smeer van knoffel om sleutelgate om te keer dat ’n bose gees daardeur kom, nie soveel aandag sou trek nie. Dalk het jy, net om seker te maak dat alles veilig is, knoffel oorvloedig in al jou geregte gebruik want so kon jy verseker dat jy nie onverhoeds betrap sou word nie.

Vir my wat nie aan al hierdie goed glo nie, is al die bygelowe baie snaaks. My ma het wel daaraan geglo: moenie onderdeur ’n leer loop nie. Dit is mos logies dat daar enige dag van die week iets op jou kop kan beland as jy onderdeur ’n leer sou loop en daarvoor hoef mens nie eens Vrydag, die dertiende te blameer nie. Pasop vir ’n swart kat wat voor jou inspring as jy op pad is iewers heen. Ons sal permanent in ongeluk gedompel wees want ons bure se pikswart kat is ’n gereelde besoeker by ons huis. En sover het ek nie agtergekom dat ons ongelukkiger was as vantevore nie.

Ek kan ook nie heeldag in die bed sit soos sommige mense doen nie, want ek glo die bed is net vir slaap en vir baie siek mense.

Nog ’n bygeloof is dat mens nie sout moet mors nie. As teenvoeter moet jy dan ’n knippie sout oor jou regterskouer strooi om sodoende die ongeluk van jou af te weer. Maar, vra ek jou, wat kan die strooi van die sout nou verander?

Moet ook nie ’n lang reis op Vrydag, die dertiende, aanpak nie; iets gaan jou verhinder om jou eindbestemming te bereik. Miskien kry jy skade aan die kar of iemand sal nie te lekker voel nie. Ons moes al noodgedwonge op daardie dag die lang pad aandurf en het elke keer ons bestemming veilig bereik. Daar was wel een keer wat ons bietjie teëspoed gehad het. Ons moes ons dogter by die universiteit gaan haal, op pad het die Ford se verkoeler probleme gegee en ons moes halfpad oorslaap. Ek weet steeds nie of dit iets met die dertiende te doen gehad het nie.

Voornemende troupaartjies is al afgeraai om op Vrydag, die dertiende, te trou. Dan is daar ander wat al soveel jare gelukkig getroud is en dit was hulle groot dag. So wat bewys mens daarmee?

Ek is vas oortuig daarvan dat mens vir jouself baie dinge kan wysmaak. Byvoorbeeld, as jy ’n swart kat voor jou sien inspring en dan kort daarna val en jou been seermaak, kan jy dit op die swart kat blameer. Of jy kan sê dis ’n alledaagse ongeluk wat met enigiemand enige tyd kan gebeur. So vir my bly hierdie bygelofies maar onsinnige stories.

Daar is nou ’n nuwe bygeloof in wording. Alle syfers in datums word bymekaargetel en as dit uitwerk op 9/11, voorspel dit onheil. Daar is nou diegene wat sê dat Bin Laden dood is op 2/5/2011 (never mind dat hy alreeds op die eerste dood is!) en dit werk uit op 9/11. Dit is nou ’n aanduiding dat mens op al sulke datums een of ander onheil kan verwag.

Aardbewings en rampe word ook nou verwag op enige elfde dag van ’n maand: 11 Februarie was die aardbewing in Christchurch, 11 Maart en 11 April in Japan en op 11 Mei in Spanje. So word ’n nuwe mite geskep.

Al wat ek kan sê is: wees versigtig; hier kom moeilikheid!

This entry was posted in Bygelowe. Bookmark the permalink.

2 Responses to Saterdag, die veertiende

  1. seegogga sê:

    Wel. miskien het my ma ek pa ook gedink: Hier kom moeilikheid! toe ek gebore is. Ek verjaar op 11 Sept.( 9/11) Ek het altyd lekker verjaar tot op ‘n sekere jaar, toe ek op my verjaarsdag 2 begrafnisse van 2 goeie vriendinne moes bywoon., een die oggend en 1 so 2nm. Toe ek na die tweede begrafnis tuiskom, se ek: ‘Nou is ek klaar met hartseer, nou gaan ons party hou!” Net toe kom my oom-hulle( wat vir koek en tee genooi was) hier aan en se: “Sit dadelik aan jou TV! New York brand af!!!” Nou ja…….en sederdien…….

    • klippie sê:

      Wel, miskien is die goeie daarvan dat wanneer jou vriende of familie van 9/11 gebeurtenis praat hulle nie anders kan as om te onthou dis ook jou verjaarsdag nie. En min mense kan ‘n verskoning he om jou verjaarsdag te vergeet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s