Reise

Toe ek nog reisvaardig was, het ek dit die meeste geniet as ons vroegoggend in die pad gespring het. Die uur voor sonsopkoms waar alles so in ’n mistige waas gehul was, was vir my die mooiste. Dan het die berge ’n kleur, amper pers, amper donkerblou, van hulle eie gehad. Dit was onbeskryfbaar. Dit was soos heiligskennis om tussen die berge op die kronkelpaaie deur te ry.

In my lewe het ons duisende kilometers per motor afgelê en tot vandag toe bly die herinnerings aan die ry in die vroegoggend vir my die helderste. Dan kleur die wolkies en die son steek sy kop bo die berge uit. Die kleure wat verander van goud na oranje en geel kan geen verfkwas nadoen nie. Dan gee die skaduwees pad voor die strale van die son en die donker kolle verdwyn.

Die oggend ruik ook anders. Of verbeel ek my?

Hoe verder jy ry, klim die son al hoe hoër en die omgewing verander. As jy in ’n vreemde omgewing ry, verwonder jy jou aan al die vreemde rotsformasies van die berge, die bome wat eie is aan ’n streek of aalwyne wat soos oranje kandelare teen die vaalte van die omgewing uitsteek. Dan wens mens sommer so in jou enigheid dat jy kan skilder en die toneel op ’n doek kan verewig.

Ag, hoe verlang ek nou. Ek sien in my geestesoog die Karoo met sy uitgestrekte verlatenheid, plat met klippe wat eintlik swart lyk, windpompe ver op die gesigseinder, skape wat tussen die karoobossies wei en dan weer kilometers van verlatenheid.

Uiteindelik kom ons in Meiringspoort. Wat ’n wonderlike gesig waar mens vir ’n tydjie kan verwyl en jou vergaap aan die mooiste rotse en riwwe. Verder aan kry mens die Swartbergpas op pad Oudtshoorn toe. Ek kan nie op papier beskryf hoe ek my verwonder het aan die uitsig nie en hoe hoër die pad klim, hoe meer asemrowend is die uitsig.

So het elke streek sy eie bekoring.

In Natal is alles so groen dat mens jou verwonder dat ’n paar kilometers so ’n ander landskap voor jou laat ontvou. Waar mens nou net deur ’n vaal landskap gery het, is daar nou die lieflike groen landskap wat soos ’n lafenis vir die siel is. Alles lyk soos ’n pragtige prentjie.

Met my man se liefde vir hengel het ons baie die pad Natal toe gevat. En ons het vroeg oggend begin want Pa was haastig om sy eerste vis van die jaar te gaan vang. Na die droë Vrystaatse vlaktes volg die groen van Natal, die paaie wat tussen suikerrietplantasies deurkronkel en daarmee saam die uitsien na die eerste blik op die see en wonder wie gaan hierdie jaar die see eerste raaksien. Die beloning vir daardie eerste sien is ’n roomys.

Eindelik is ons by die blou watermassa met die wit branders wat breek. Dan sien mens baljarende kinders en die sonlig wat weerkaats op hengelaars se lyne. Nou volg ’n hele maand van rondry en besigtiging van omliggende strande waar ons kan rondbaljaar terwyl Pa hengel. Ek het later kennis gehad van al die strande aan die kus, geweet waar die vis loop en waar dit nie die moeite werd was om eers jou hengelgereedskap uit te haal nie.

Maar eintlik gaan dit ook nie eers om visvang nie, dit gaan om die reis om by jou bestemming uit te kom, die landskap waardeur jy ry om daar uit te kom wat alles deel vorm van die genot. Vir my is alles nou net herinneringe.

This entry was posted in Herinneringe, Reise and tagged , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Reise

  1. Krista sê:

    Die ry oppad met vakansie is altyd vir my ene avontuur, die terugkomslag is minder lekker.

  2. Ek het een oggend met dagbreek ‘n koedoebul langs die pad sien staan. Gebad in die son, ek het eers die skadu gesien en gewonder wie verkoop so vroeg al. Toe is dit ‘n lewendige bul. Laaste wat my kamera in die kattebak gery het.

    Deesdae sorg ek dat my kamera altyd voor is as ek iewers heen ry.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s