Selfportret

Ek wil julle graag ’n ietsie van myself vertel. Teen die tyd weet julle ek is redelik bejaard, ’n weduwee en dat ek by my dogter bly.

Ek is nie meer so mobiel soos ek graag sou wou wees nie. In die huis kan ek nog met krukke loop, weliswaar stadig en sukkel-sukkel, maar as ons iewers heen gaan, moet ek van ’n rystoel gebruik maak. Ongelukkig word ek karsiek as ek te vinnig in die rystoel gestoot word of agteruit by ’n deur in of op- of afdraande gestoot word. Dis natuurlik vir die kleinkinders ’n groot snaaksigheid want hulle kan nie verstaan dat mens karsiek kan word in ’n rystoel nie.

Om myself besig te hou, lees ek baie, doen blokkiesraaisels, hekel kombersies vir die klein- en agterkleinkinders en kyk TV.

Ek is natuurlik in die bevoorregte posisie dat van die kleinkinders gereeld hulle hartsgeheime met my deel. So kan ons heerlik gesels, somtyds oor ’n glasie bier, maar afhangende van die erns van die situasie, kan ’n whiskey op ys mens partykeer beter laat verstaan. Vir my is die verhouding met my kleinkinders baie kosbaar.

Ek versamel orgideë. Ek kan net nie by blomstalletjies waar orgideë uitgestal word verbyloop sonder om elke een van hulle te begeer nie. Dis net jammer dat die pryse soms ver bo die bekostigbaarheidsvlak in my beursie is. Gelukkig is daar verjaarsdae, Kersfees en moedersdag. Miskien gaan iemand my met een of ander orgidee verras. My seun deel my liefde vir die eksotiese blomme en kan ons lekker daaroor gesels, ongelukkig net per telefoon. Wanneer hulle ’n kansie kry om te kom kuier, help hy my om my orgideë te verplant. Hy is net so gretig soos ek om ’n nuwe blom te sien verskyn en kan net so lekker met die grootte, kleur, skaarsheid en so meer van die pragtige blomme spog.

Blokkiesraaisels vul ek in sonder die gebruik van ’n woordeboek. Wanneer die woordeboek nader getrek word, hou dit nie vir my dieselfde bevrediging in as wanneer ek alles self doen nie.

Daarby is ek versot op spreekwoorde en probeer almal soveel moontlik te gebruik. Leon Ferreira sing ’n liedjie, “Dieselfde Son”, waarin hy baie spreekwoorde gebruik. Hy laat die spreekwoorde so mooi klink en dis een van my gunstelingliedjies. Ek speel dit tydig en ontydig.

Ek is nogal ’n baie groot taalliefhebber. Ek bly in ’n oorwegend Engelse gemeenskap en daarom ondersteun ek juis net ’n dokter of tandarts as hulle Afrikaans magtig is. Hier is sulke mense so skaars soos hoendertande. Ek moet darem sê dat my dokter Afrikaans praat en daarby ’n baie goeie dokter is. My kleindogter wat met ’n regte Engelsman getroud is en in Engeland bly, ver van ander Afrikaanssprekende mense af, sê: “Ouma, nou waardeer ek Afrikaans baie meer.”

My ou hekelwerkies is nou nog maar net iets om my besig te hou. Dink net aan die dae toe ek ragfyn gare kon gebruik om tafeldoeke en dekens te hekel. Nou wil my ou oë nie saamspeel nie en moet ek wol gebruik, dik genoeg dat ek die steke maklik kan raaksien.

Ek lees graag. Annelie Botes is een van my gunstelinge. Sy skryf so op die man af ek kan gewoonlik nie die boeke neersit as ek begin het nie. Op die oomblik lees ek Anna M Louw se “Kroniek van Perdepoort” en is net te haastig om te lees wat gaan gebeur. In ons biblioteek is daar maar min Afrikaanse boeke te kry. Gelukkig, omdat daar so min Afrikaanse lesers is, is dit nie ’n probleem om die nuuste boeke gou na publikasie te lene te kry nie.

Vir my is Afrikaans so pragtig beskrywend en kan ek myself lekker uitdruk. Ek maak sommer nuwe woorde as ek iets wil beskryf. Ek stem saam met CF Visser wat geskryf het:

O, moedertaal, o soetste taal,
jou het ek lief bo alles.
Van al die tale wat ek hoor,
niks kan my siel ooit so bekoor.
O, moedertaal, o soetste taal,
jou het ek lief bo alles.

So, in ’n neutedop het jy my ontmoet. As jy my in ’n vleismeul sou sit, sal ek presies dieselfde anderkant uitkom.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

5 Responses to Selfportret

  1. seegogga sê:

    Ek dink jou kleinkindes is baie bevoorreg om so ‘n moderne ouma e he! Blog, musiek, whiskey en baie hartsgeheime wat gedeel kan word!

  2. Krista sê:

    Cool!

  3. BB sê:

    Ich bin ein Afrikaner:mrgreen:

    • klippie sê:

      In murg en been. Maar ek het ‘n Duitse skoondogter en ‘n Engelse skoondogter, so selfs in my eie huis moet ek nou af en toe Engels praat!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s