Die lafenis van reën

Dit reën vanoggend, na ’n lang droë tydperk. Die druppels op die dak en dankbare plante en grasperk laat my ook sommer voel asof ek wil bokspring soos ’n jong kalf.

Ek dink terug aan die kere wat ek kaalvoet in die reën gaan stap het. Die water het tussen my tone deur gespoel en my voete gelawe. Daar het stroompies padlangs gevloei en klein kinders het met hulle papierbootjies op die water gespeel. Van die groter seuns het ’n resies met hulle kontrepsies gehou.

Nou dink ons grootmense aan ’n heerlike bord sop en ’n glasie rooiwyn voor die kaggel. Iemand bied aan om die pannekoek te bak want dis mos pannekoekweer.

In my jonger dae moes ons in reënweer babadoeke oor elke denkbare hangplek drapeer om genoeg droë doeke vir die volgende dag te hê. Nou het die ma’s met babas nie meer ’n bekommernis oor doeke wat nie wil droog word nie. Daar is mos weggooidoeke en tuimeldroërs.

Die lekkerste van reënweer is dat mens nie ’n verskoning nodig het om onder die duvet in te kruip met ’n lekker boek of voor die TV te sit en na ’n lekker riller te kyk nie. Dis natuurlik nou as jy kan wakker bly want die reëndruppels op die dak klink vir my nes ’n slaapdeuntjie.

Vir die ouens wat in die buitelug moet werk is reënweer natuurlik nie so lekker nie. Reëndruppels op brillense waardeur jy jou oë moet inspan om te sien waar jy werk is nie baie aangenaam nie. Ek is net dankbaar dat dit nie ek is wat daar in die koue nattigheid moet staan en werk nie.

Ma’s met kleuters wat nie daaraan gewoond is om in die huis gekluister te wees nie, wens seker ook dat die son maar eerder moet skyn. En ons oues weet nou presies waar elke pyn erger is as gevolg van die nattigheid.

Die dak lek want in die droë weer het ons al weer vergeet om die lek te laat regmaak. Die liedjie lui nie verniet: “As die son skyn, dan lek hy mos nie.” Nou moet skottels maar doen totdat die son weer skyn. Dan sal ons na daardie probleem omsien.

“Reën, reën, lieflike reën,” sing een van ons sangeresse en ek beaam elke woord met groot dankbaarheid. Die plante is skoon gewas en lyk sommer of daar nuwe lewe is, so asof dit al is waarop hulle gewag het.

Nie te lank gelede nie het Beaufort-Wes nie drinkwater gehad nie en is daar gevra dat mense wat daardeur ry net vyf liter water daar moet aflaai. Nou besef al hoe meer mense hoe nodig ons reën het. Ek het ook onlangs gehoor dat die droogte in die Port Elizabeth omgewing gebreek is alhoewel die stand van damme nog steeds onrusbarend laag is.

Ek wonder wat ons met al die tegniese kennis wat ons tot ons beskikking het sal maak as daar nie ’n Goddelike Wese was wat die reën op sy tyd vir ons gegee het nie?

Wat is my storie, vra jy? Ons moet dankbaar wees en op ons knieë gaan en sê: “Dankie, Heer, vir elke druppel.” Het jy ’n tuinete beplan en die reën het nou juis vandag besluit om dit uit te was, kan jy dit nou verskuif na die eetkamer. Lekker glühwein, rustige musiek en ’n warm poeding sal heerlik gesellig wees.

This entry was posted in Reën and tagged . Bookmark the permalink.

4 Responses to Die lafenis van reën

  1. net n ander iets sê:

    Ek onthou n gebeurtenis.
    Het gaan vakansie hou en toe sal dit mos die tyd wees dat dit dae en dae aan mekaar reen. Ongelukkig die kamer waar ons moes slaap het ook n bietjie gelek, Plan een skuif die bed sodat die druppels nie in die nag op die bed val nie, werk toe goed vir so paar uur maar word wakker met koue nat voete. aar rond meet en pas maar daar is nie n manier om die bed so geskuif te kry dat dit sal droog bly nie. Volgende oggend is dit toe tyd vir Plan 2 gelukkig het ek so n erenstige cowboy streep in my en is nie bang nie, krap bietjie rond tel goed op bekyk en wonder hoe gemaak om die nat probleem op te los. In die kombuis aan gekom val my oog op die rol swart plastvuilgoed sakke, en daar gaan die lampie in my kop aan, krap bietjie verder en kry een van daai masjienjies wat jy die plastiek sakke mee seel, so nou brand daai gloeilampie so helder soos die spotlights voor op die lorry se bullbar.
    gou al die sakke oop sny sodat dit een groot plat oppervlak is dan met n bietjie kreatiewe vou en buig al die sakke aanmekaar gesmelt met die kontrepsie. Nou nog net die afronding n paar lang stukke aan mekaar en dan aan die groot plastiese seil,
    die hele lot kamer toe geda. die seil word bo teen die plafon teen die muur aan die eenkant vas gemaak met n stapler, dan netjies met n redelike val oor die bed area, dan die langstukke is die geut gedeelte wat by die venster uit gevat word. en siedaar n heerlike droe bed vir die res van die reen dae.
    Maar dit was nogsteeds n heerlike vakansie tenspyte van daai eerst nat aand.

  2. net n ander iets sê:

    reen vir ons is altyd n droom wat bewaarheid word met die dat ons so min daarvan hier by ons kry.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s