Konflik

Is konflik in ons lewens ’n alledaagse verskynsel? Is dit normaal dat daar altyd konflik van een of ander aard moet wees?

Ek is een van die mense wat baie opgestres raak as daar net ’n teken van konflik tussen die huismense is. Ek dink dan God sal my vergewe vir ’n witleuentjie of twee net sodat ons die vrede kan bewaar.

In my familie is daar ’n hele klomp heethoofde met die gevolg dat die vonke sommer gou spat indien daar nie sommer gou-gou ’n demper op die situasie geplaas word nie. Alles begin met ’n onskuldige opmerking wat net nie goed deurdag geuiter word nie. Dan is die vet in die vuur. Woorde word geruil en die een of ander neem eksepsie of hy het ’n ander mening oor dieselfde onderwerp.

Intussen sit ek op hete kole: gaan dit nou in ’n argument ontaard of kan ek die vuurtjie blus? Die dwarstrekker, wat gewoonlik die meeste te sê het, luister nie na die ander se mening nie. My senuwees trek sommer so op ’n knop. Ek bied koffie of tee aan en hoop maar dit sal help om die woordevloed te keer. Gewoonlik bedaar die storm gou en begin almal weer op ’n beskaafde manier gesels. Nou kan ons, of sal ek eerder sê ek, begin ontspan. Alles op daardie punt is nou uitgesorteer.

Gewoonlik besluit ons huismense wanneer So-en-so kom kuier om die gesprekke maar net bolangs te hou. Ons raak nie aan menings oor politiek, kerksake of familiekwessies nie. Want dit is alles ’n mynveld.

Hoekom kan alles nie sonder konflik verloop nie? Ek weet elke persoon het ’n eie mening en moenie in ’n blik gedruk word nie, maar vir my bly dit ’n turksvy en ek wil hê die kuiertjie moet deur almal geniet word. Is ek dan oneerlik as ek net praat as die gesprek nie te diep sny en miskien onenigheid kan veroorsaak nie?

Tieners het die gawe om konflik tussen ouers te veroorsaak wanneer hulle die agenda volg om Ma en Pa teen mekaar af te speel. Kort voor lank is die argument tussen die ouers oor die een wat toestemming gegee het vir die tiener om na ’n partytjie, uitstappie ens. te gaan waarvan die ander ouer nie geweet het nie. Hier sê ek vir die tieners: Asseblief, kinders, dink voordat julle praat. Daar is min dinge wat ’n mens so omkrap as om uit te vind dat ’n storie opsetlik vertel is net om te kyk wat die reaksie gaan wees.

Daarby is dit glad nie vir my snaaks dat daar baie ouers is wat voel hulle kan nie meer met hulle kinders kommunikeer nie. Die konflikvlak is net te hoog, dinge word gesê wat eerder ongesê kon gebly het. Pa en kind dink lankal nie meer op dieselfde vlak oor dinge nie.

Dink maar aan die seksstorie. Ons is groot gemaak met die idee dat kuisheid ’n deug is en nou praat tieners harder as jy oor die voor- en nadele van die saak. Nog ’n konfliksituasie. Nou is dit makliker vir die ouer om te maak of hy nie sien of hoor nie en vir die kind om stil te bly, ’n geval van Gods water wat oor Gods akker spoel.

Hoe inspireer ’n ouer sy kind om sy godgegewe talente te beoefen sonder om baasspelerig te klink en terselfdertyd konflik te vermy? Die kind sê en doen dalk nie soos die ouer dit sou doen nie. Wanneer die ouer redeneer en sy siening probeer verduidelik raak die kind net meer weerbarstig. Dan probeer die ouer paaiwoorde en vleitaal, maar alles is verniet. Dan moet die ouer maar handdoek ingooi, want die atmosfeer raak gespanne. Weer ’n geval waar die ouer hom kan onttrek en die kind maar kan laat voortploeter. Is dit die antwoord?

In alle situasies moet mens onthou dat woorde wat gespreek is, nooit weer teruggetrek kan word nie. Daardie rympie: Sticks and stones may break my bones, but words will never hurt me, is nie waar nie. Woorde wat seer gemaak het word lank onthou en die rofie oor daardie seer word maklik weer afgekrap. Daarom, byt op jou tong en sê liewer niks. Of soos my een kleinseun sê: ’n Stil bek, is ’n heel bek.

This entry was posted in Familie, Konflik and tagged . Bookmark the permalink.

7 Responses to Konflik

  1. My persoonlik opinie is dat konflik hopeloos te veel vermy word. Die 10 gebooie is mos vervang van moet tog net nie aanstoot gee nie. Dit is ‘n mynveld van ‘n heel ander aard.

    Ek dwaal af. Konflik laat ‘n mens weet presies waar jy met ‘n ander staan. Die mense wat konflik vermy stem saam met jou en steek jou dan later in die rug. Iewers waar jy hulle nie kan sien kom nie.

  2. net n ander iets sê:

    dalk is die geheim om eers te luister dit te deurdink en dan te praat. maar elkeen wil mos eerder sy eie stem hoor as om te luister na iemand anders sin.

    • klippie sê:

      Miskien is dit wat ek probeer se. Ook dat mens nie hardnekkig moet vasklou aan jou eie vooropgestelde idees nie, maar ‘n ander se sienswyse moet probeer verstaan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s