Gewoontes

Iets van mense wat my fassineer is hulle gewoontes en geite. Partykeer is die gewoontes irriterend en ander kere is dit net iets wat eie is aan ’n bepaalde persoon.

My dogter, byvoorbeeld, sal byvoorbeeld saans saam met ons TV kyk. Dan strek sy haarself uit op die rusbank en raak kort voor lank aan die slaap met die afstandbeheer, of soos ons dit noem, die klikker, op haar bors. Sy slaap lekker vas en ons wil graag ’n ander program kyk en van kanaal verander. Dan sluip iemand saggies nader, vat die klikker en skakel oor. Sy skrik wawyd wakker en sê: “Wat maak julle nou?” Hoe sy geweet het ons verander van kanaal weet net sy.

My seun weer meet die toiletpapier vanaf die rol tot op die vloer om seker te maak dat hy die regte lengte papier afskeur.

Ek het nagmerries as ons iewers heen ry. Ek sweer vas ek het vergeet om die badkamerkraan toe te draai. Dan sien ek in my verbeelding alles onder water wanneer ons by die huis terugkom. Gewoonlik was dit onnodig om daaroor te bekommer want wanneer ons terug is by die huis is alles nog droog en die kraan styf toe.

My kleindogter glo daaraan om eers haar kasdeure in haar kamer styf toe voordat sy in die bed klim. So asof sy glo dis nie goed genoeg om die deure net een keer toe te maak nie.

Iemand anders weer kyk elke aand onder die bed om seker te maak daar lê nie ’n slang nie voordat sy rustig kan slaap.

My ma het, die kere wat ek haar sien ’n tydskrif lees het, altyd van agter na voor geblaai. Sy het ons geen verklaring daarvoor gegee nie.

My kleinseun kan nie skottelgoed was sonder om alles eers uit te sorteer nie. Dis ’n hele ritueel. Eers pak hy die skottelgoed in rye langs die wasbak: klein glasies, groot glase, koppies, pierings, klein bordjies, groot borde, bakke, messe en vurke en dan potte en panne. Dan word elke ry goed eers uitgespoel en teruggeplaas in die ry. Daarna word elke ry gewas en gespoel waarna hy skoon water intap en met die volgende ry begin. Sy vrou sê dit freak haar uit om hom te sien skottelgoed was. Daarom het hulle nou die werk mooi verdeel: hy maak kos en sy was skottelgoed.

My vriendin kan nooit water drink voordat sy die skoon glas weer gewas het nie. Dan spoel sy dit ’n paar keer uit voordat sy water daarin tap en begin drink. ’n Regte pyn in die jis. Dis ook ’n skouspel om haar te sien kleinkoekies bak. Eers pak sy al die bestanddele uit en meng dan die deeg. Die deeg word uitgerol en die koekies in presiese rye uitgedruk. Dan pak sy die koekies in presiese rye op die bakplaat. Daarby sit sy ook net een bakplaat op ’n keer in die oond al is daar plek vir meer. Wanneer die bakplaat uitgehaal is, lig sy ewe netjies die koekies een vir een van die bakplaat af en pak dit weer in rye om af te koel. Daarna pak sy die koekies een vir een in ’n blik. Teen daardie tyd brand ek al van die ongeduld en wens ek kan meer woema in haar inblaas.

Iemand anders meng nie soet en sout kos nie. Alles word apart geëet. Hy gaan so ver as om sy pampoen apart in ’n klein bordjie in te skep.

Archie weer kan nie verdra dat sy goed rondgeskuif word nie. Hy het sommer die huishulp die trekpas gegee net omdat sy die drinkglase in ’n ander deel van die kas gepak het. Die items op sy teetafel staan alles mooi haaks en reguit en wee die persoon wat durf waag om iets uit sy plek te verskuif.

So het almal seker een of ander gewoontetjie wat eie aan hom of haar is. Is daar gewoontes wat jou teen die mure uitdryf of wat jy graag sou wou verander?

 

This entry was posted in Gewoontes. Bookmark the permalink.

2 Responses to Gewoontes

  1. Baksteen sê:

    Dit maak perfectly sin om alles eers uit te sorteer en af te spoel. Dit vat my dalk ‘n uur en ‘n half om skottelgoed te was wat my vrou in 15min was. (Wie s’n dink julle is die skoonste?)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s