St Lucia

Na my man se aftrede, het ons besluit om, vir die eerste keer in jare, sonder kinders of familie ’n bietjie op ons eie te gaan vakansie hou. Na baie redekaweling besluit op ons St Lucia. Ons was voorheen daar maar saam met ander mense. Nou wil ons op ons tyd alles verken en geniet – amper soos ’n wittebrood.

Ons vat die pad vroegoggend, my geliefkoosde tyd om te ry. Min het ons gedink aan die groot vragmotors wat hout en steenkool vervoer. Dit is ook baie mistig, so ons vorder maar teen ’n slakkepas tussen die vragmotors se uitlaatgasdampe en rookwalms deur. Ons kou maar so kort-kort ’n stukkie biltong om die senuwees te kalmeer.

Eindelik breek die son deur die newels en is ons darem deur die ergste. Alles is nou duideliker sigbaar en ons kan nou vinniger beweeg sonder om in ’n botsing met een van die gevaartes te beland.

Later beland ons op die reguit pad en kan ons dink aan ’n verposing langs die pad. Ons geniet ’n Wimpy brekfis en ’n welkome koppie koffie. Pa is soos gewoonlik op hete kole want die vis roep.

Die sonnetjie skyn nou lekker en ons het meeste van die verkeer agter gelaat. Ons voel ook weer gelawe na die brekfis en koffie. By die padstalverkopers langs die pad kan mens avokado’s en pynappels by die skottels vol teen ’n minimale prys koop. Ons koop sommer genoeg om vir die duur van die vakansie te gebruik.

By die vakansiechalet aangekom sien ons dis ’n bietjie primitief, maar darem skoon en netjies. Pa raak nou baie haastig want die viswaters roep. Ons bêre net gou die nodigste en drink ’n koeldrankie om die ergste dors te les. Ek pak ’n mandjie met eetgoed en daar gaan ons!

Ons gaan by die jettie uitspan met ’n sambreel en seilstoele en natuurlik het ek ’n boek saamgebring. Ek lees terwyl Pa visvang. Die sonnetjie skyn heerlik en die meer se water is spieëlglad, sonder enige kabbeling. Kort-kort hoor mens ’n seekoei brom. (Of wat doen ’n seekoei? Brom? Bulk?)

Na ons piekniekete gaan ons see toe. Daar aangekom, is daar al heelwat hengelaars. Voëls soos pelikane drom saam in die vlak water. Seemeeue swiep heen en weer laag oor die water. Pa gooi sy lyn in maar is nie gelukkig om ’n vis te haak nie.

Laat middag gaan ons weer terug na die meer. Ons sit en bewonder die uitsig. Die son sak en die meer verander in ’n goue poel. As die sonnetjie finaal verdwyn, verander die goue poel in ’n poel van silwer. Ek kan dit nie beskryf nie, dis te pragtig vir woorde.

Daarna stap ons na die chalet. Langs die pad kom mens nog verkopers tee wat probeer om gekerfde houtbeeldjies aan jou te verkoop.

Na ’n vinnige stort berei ons ’n braaivleisie voor en eet dit met van die vrugte wat ons langs die pad gekoop het. Dis salig, net die twee van ons, niemand anders om in ag te neem nie. Ons sit buite en geniet die tydjie saam.

So verloop ons dae. Stap, kibbel met die smouse, vang vis. Heerlike luilekker dae.

Dan breek die einde van die 14 geluksalige dae aan en moet ons terug na die werklikheid. In my gedagtes bly net die herinnering van ’n poel gedoop in goud wat later in silwer verander; ’n plesierboot wat stadig verby vaar en mense wat plesierig drankies in die skemer geniet. Dis soos ’n prentjiesboek waardeur ek blaai, terug in die verlede in.

This entry was posted in St Lucia, Vakansie and tagged . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s