Inkopies

Toe ek nou die oggend deur ons plaaslike koerantjie blaai, kon ek nie help om terug te dink aan die manier waarop ons in my jonger dae inkopies gedoen het nie.

’n Lysie is gemaak van al die kruideniersware wat deur die maand benodig sou word. Die lysie is ’n notisie genoem. Die lysie word by die kruidenierswinkel naaste aan jou ingehandig. Jy ken die eienaars by name en gewoonlik word daar eers ’n koppie tee saam gedrink voordat jy ’n draai by die slaghuis gaan maak. Daar hou jy en die slagter ook eers ’n lang geselssessie. Daar word oor en weer verneem na die welstand van ’n ieder en elk wat aan julle albei bekend is. En natuurlik word daar ook ’n paar sappige skinderstories uitgeruil.

Daarna ry jy na die garage waar die petrol nog met die hand gepomp word om die tenk vol te maak. Sover as jy gaan, loop jy mense raak wat jy ken, swart en wit, en met almal word daar ’n geselsie aangeknoop.

Dan is dit tyd om terug te ry na die kruidenierswinkel waar iemand al die goed op die lysie bymekaar gekry het. Gewoonlik word daar ’n kardoesie met suiglekkers of vrypepermente gratis ingepak. Ons het dit ’n pasella genoem. Die items wat jy deur die maand nodig sal kry, word sommer op die boek geskryf (of soos mens nou sê, op rekening gekoop). As die einde van die maand aanbreek, word die boekskuld eerste betaal. Want, onthou, jou naam moet skoon gehou word en so is jy ook daarvan verseker dat die eienaar nie sou skroom om vir jou skuld te gee nie.

Pa, wat ’n pyproker was, se tabak is ook so saam met die kruideniersware ingepak. Eendag kon my oudste seun, wat toe so ’n peuter van drie jaar oud was, nie wag om te help om die pakkies uit die boks te pak nie. Ons was seker te stadig na sy smaak, of wat hy ook al toe gedink het, en hy haal die pak met rys (verpak in ’n bruin papiersak) uit en meng sommer Pa se tabak saam met die rys in ’n hopie voor sy voete. Pa, wat maar kort van draad was, blaas eintlik van kwaadgeit. Daar gaan sy rookgoed en die rys is ook onbruikbaar. Seun se boudjies het behoorlik gebrand na Pa se paar klappe.

Toe die eerste supermarkte geopen het, het die kruidenierswinkels op die hoeke ook so stadigaan verdwyn en plek gemaak vir selfhelpwinkels. Dit was natuurlik ’n aardigheid om so self te kon uitkies wat mens wou hê.

Deesdae kry mens blaaie en blaaie vol advertensies van kruideniersware, groente, vleis en vis. Weg is lojaliteit en nou tel net die beursie. Hier by ons is Woensdag koerantdag en ons vergelyk eers tussen die groot verskeidenheid supermarkte se pryse. Hulle is natuurlik slim genoeg om ’n paar items baie goedkoop aangebied: ’n bargain bly immers ’n bargain. Maar aan die ander kant, kom mens by die winkel, koop mens gewoonlik meer as wat jy nodig het.

En ek breek nie meer my kop om toentertyd se pryse te probeer vergelyk met vandag s’n nie. Nou stap mens met ’n klein plastieksakkie vol goed uit die winkel vir R100 en daardie tyd kon mens met R100 ’n kattebak vol kruideniersware koop. Ai, waar’s daai dae!

This entry was posted in Herinneringe, Inkopies and tagged . Bookmark the permalink.

One Response to Inkopies

  1. Dit was nou ‘n interessante kykie.

    Nou die dag is ek in Graskop in ‘n winkel. Ek praat met die slagter en sien die kind wat langs my kom staan het. Ek dog nogal sy ma het hom gestuur om iets te kom kry. Tot my verbasing draai die slagter om en kry vir die kind ‘n paar afvalstukkies biltong. Blykbaar ‘n ou laai van hom. Al die kinders, wit en swart, kom haal vir hulle ‘n stukkie biltong as hulle in die winkels kom.

    Dit was nogal vir my NICE.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s