Wie ly aan ipekonders?

Toe ons nog kinders was, het my ma ons gereeld daaraan herinner dat ’n hoofpyn of enige ander pyn sommer net ipekonders was. Natuurlik kon ons nie verstaan wat die woord beteken nie.

Met die aanstap van die jare dink ek party van my pyne en skete sou my ma oneindig geïrriteer het. Sy het, as ’n kind gesê het hy voel naar, hom summier sou stilmaak met die woorde: “Dis sommer net iepies. Gaan drink ’n groot glas water.” As die kind teen die aand nog gekla het, is hy ’n groot dosis bossiemedisyne ingejaag.

Sy het glad nie simpatie gehad met klagtes nie want sy het gedink ’n kind wat kla wou maar net sy werk ontduik. Of dalk skoolsiekte ontwikkel. Ons het regtig nie die eer gehad om die oggend voor skool te sê dat ons sleg voel nie. Haar woorde was: “Trek aan en gaan skool toe. As jy later nog sleg voel sal die juffrou jou wel siekekamer toe stuur.” So het ons ook geweet dat ons op geen manier dit sou regkry om stokkies te draai nie.

Dis vir my vreemd dat so baie mense “af siek” is. Baie word gediagnoseer met stres en, ek dink, baie dokters kan nie regtig fout vind nie en diagnoseer dan maar stres. So ’n persoon word dan op stresverlof geplaas: veertien of meer dae van die werk af. Dan wonder ek by myself wat my ma sou gesê het. Sommer ipekonders!

Kinders is gedokter met kasterolie om hulle mae skoon te kry. Volgens haar is hoofpyne dan ook sommer reggedokter. Pyn in die bene is summier groeipyne genoem en daarvoor kon jy darem ’n Aspro kry.

Ek was 13 jaar oud toe ek vir die eerste keer ’n dokter gesien het. Nie omdat ek graag wou nie, maar omdat my ma se rate nie gewerk het nie. Sy was altyd byderhand met ’n nuwe konkoksie of brousel van kruie wat getrek moes word. Dit was gewoonlik so bitter soos gal en jy het maar jou oë toegeknyp en die brousel so vinnig as moontlik afgesluk. Nou glo ek ons het maar min gekla oor pyne sodat ons nie die slegte medisyne hoef te gedrink het nie.

As ek so na die doktersrekeninge kyk, wonder ek hoe die dokters in die ou dae oorleef het. Al die mense wat ek toentertyd geken het, het maar net op Aspro’s, tuisgemaakte hoesmedisyne, Lennon se medisyne en Vicks staat gemaak. Julle sal nou lag maar ek gebruik steeds Vicks om al my rumatiekpyne te dokter. Daarby glo ek volstrek daaraan dat mens Vicks onder jou voete moet smeer as jy verkoue het – dit laat jou lekkerder slaap.

Ek moet darem erken dat mense deesdae baie ouer word as in die verlede. So iewers het my ma se rate en brousels van die wa afgeval. En deesdae gaan ek ook gereeld dokter toe, al is dit net om nuwe voorskrifte te kry vir my chroniese medisyne.

Ek ken mense wat so gereeld siek word en soveel kere van die werk af is dat die mense agter sy of haar rug sê: “Regte ipekonders.” Dan is hulle ook glad nie meer simpatiek as daardie persoon weer oor een of ander skeet kla nie. Ek dink daar is baie mense wat graag kla want so kry hulle aandag. Ek wonder of dit nie is wat my ma as “iepies” wou afmaak nie.

This entry was posted in Ipekonders and tagged , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Wie ly aan ipekonders?

  1. Olga sê:

    uit die hart uit, sowaar. Ek stem saam. My dr het my vanjaar tot datum meer gesien as die vorige 6 jr dat ek in die omgewing woon saam. My ma het ons gedokter kleintyd met bayer’s junior aspirine. Toe ons groter was, disprin, m algemene hoestroop en kasterolie. O, ja, en vicks, op die bors, rug, voorkop en onder die voete. Toe ons puberteit ingegaan het, 1 disprin in die verpakking met duidelike instruksies oor wat om daarmee te maak as n man in n amoreuse naby ons gekom het.

  2. Olga sê:

    vergeet ek nou die lennos waarvan rooi laventel die makste was en lewensessens n kwaar straf. Lepeltjie suiker of te not.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s