Irritasies

Wat is die irriterendste ding waarmee julle daagliks te doen kry?

Vir my was dit, toe ek nog die huishouding waargeneem het, die kinders wat elke dag vra: “Ma, waar is my sokkies?” of “Ma, het Ma my skooltas gesien?” So kan ek aanhou opnoem wat alles deur my geweet moes gewees het. Ek was later so opgewerk want selfs as ek in die badkamer was, het hulle kom aanklop om te vra waar sus of so nou sou wees.

Pa kon nooit niks wat hy benodig in die kas opspoor nie. Ek moes vir hom presies sê waar om te kyk: in die linkerkantse kassie regoor die wasbak aan die regterkant agter. Anders kon hy dit nooit vind nie. Ek het later vir hom gesê dat alle mans aan tonnelvisie ly want hulle kan net iets kry wanneer dit reg voor hulle neuse is.

 Dan is daar my kleinseun van agtien wat sy pap in die oggend met ’n teelepel eet. Mens moet hom gewoonlik aanjaag want dit neem nou dubbel so lank om klaar te eet.

Ook nog mense wat tee of koffie vra en dan nie drink nie of halfpad drink en dan los. As mens die koppie wil wegvat, sê hulle gewoonlik: “Nee, wag, ek is nog nie klaar gedrink nie.” Maar wanneer jy ’n uur of wat later weer die koppie daar sien staan, is dit nog steeds nie gedrink nie.

Iemand wat iets vir jou wil sê en dan, net nadat hulle begin praat het, skielik sê: “Ag nee wat, dis nie belangrik nie.” Hoekom het hulle dan in die eerste instansie vir my begin vertel?

Ek het ook ’n kleintjie dood aan mense wat boeke of CDs leen en dit nooit terugbring nie. En dan, wanneer jy daarvoor vra, moet jy hoor hulle het dit weer vir Piet of Sannie geleen.

Tamatiesous- en blatjangbottels wat nie behoorlik toegedraai word nie. Tel jy dit dan op, glip dit uit jou hande. Fyn en flenters. En daarby moet die vloer ook nog skoon gemaak word. Dieselfde geld vir tandepastabuisies en sjampoebottels.

Mense wat net sit en in die niet instaar sonder om iets konstruktiefs te doen.

Vrouens wat, sodra jy jou teekoppie neersit, dit gryp en gou-gou gaan was. Dan is my lus vir kuier sommer kortgeknip. Die vuil koppie gaan nie weghardloop nie en is ook nie ’n teken van slordigheid nie. Geniet liewer die kuier terwyl jou kuiergas daar is.

My grootste irritasie ooit was my skoonsus se skoothondjie. Wanneer hulle kom kuier het, moes ons eerste na die hondjie se behoeftes omsien. Gereeld is aan my vertel dat die hondjie nie benevleis eet nie, hy moes die beste vleis kry. Daarby het hy sy kos in een van my kleinbordjies geëet terwyl sy nonna liefderik toegekyk het. Intussen wou ek die blou apiestuipe kry. Sy het nie kinders gehad nie en het al haar aandag op die hondjie toegespits.

My dogter sê wat haar irriteer is mense wat die kombuis inkom wanneer sy besig is om te kook en vra: “Wat eet ons vanaand?” Party is ook nog kontant genoeg om die potdeksels op te lig en in die potte in te loer. Dan word sy ook geïrriteer deur die kinders wat kort-kort vra wat hulle nou kan eet of wat hulle nou kan doen.

Ek het natuurlik ook maniertjies wat ander mense grief, maar ek is ’n mens mens. Ek geniet die kuier en koppies kan maar wag. So ook hondjies en terwyl ek nog gekook het, het ek van geselsies in die kombuis gehou. My leuse is: geniet die mense om jou terwyl jy kan. En daarby: Don’t worry, be happy.

This entry was posted in Irritasies. Bookmark the permalink.

2 Responses to Irritasies

  1. Sekere geluide maak my mal

    Kom ons begin by ‘n stofsuier en moenie van ‘n grassnyer vergeet nie. Die sms toon as dit ‘n paar keer na mekaar kom. Enige ding wat Beep. Iemand wat stront verkondig en dit nog self glo ook. Iemand wat draai as ‘n mens klaar laat is. Iemand wat almal drop omdat hy/sy nie gedoen het wat hy/sy moes nie.

    Hoe lank kan ek aangaan?

    • klippie sê:

      Wat van in ‘n ry staan en wag? En noudat ek in ‘n rystoel is, irriteer dit my grensloos dat mense my nie raaksien nie maar met die persoon saam met my praat so al asof ek blind, doof en onnosel is!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s