My lewe in ’n lappieskombers

Vir my is die lewe soos ’n lappieskombers. Elke blokkie verteenwoordig die gemoedstoestand waarin jy op ’n bepaalde stadium van jou lewe verkeer het.

Ek begin met die mooi helderkleurige blokkies wat my jongmeisiejare uitbeeld. Alles was maklik en moeitevry. Ek het uitgesien na die dag wanneer my drome waar sou word.

Dan kom die verliefdheidsfase. Nou kan ek nie wag vir elke nuwe dag nie en my hart bokspring by die gedagte dat ek hom nou-nou gaan sien. ’n Sagte pienk lap met fyn blommetjies sal daarby pas.  Dit is lappies met vrolike motiewe want dit verteenwoordig probleemvrye dae.

Verlief, verloof en nou word die lappies gesoek met kant en blommotiewe want ons sien uit na die groot dag. Ek is droomverlore en kan nie wag om voor die kansel te staan nie. En, alhoewel daar in ons dae nie veel gemaak is van ’n tema en kleurskema vir ’n troue nie, was blomme tog belangrik. Daarom word daar nou lappies ingewerk met rose, magrietjies en groen loof. Met elke vierkantjie wat sorgvuldig uitgesoek word en aanmekaar gelas word, dink ek: Hoe sal dit wees? Sal sy familie my aanvaar as een van hulle? Sal ons so gelukkig wees soos my ouers? Daar is soveel vrae maar mens droom en glo dat alles sal reg wees want met die genade van Bo kan dit nie anders nie.

Dan kom die eerste baba. Ek voel soos die eerste mamma wat ’n baba gaan kry. Blou en pienk lappies word bygewerk en almal gee hulle mening. Party sê jy dra voor, dit is ’n dogter. Ander bekyk jou van die kant en sê, nee, jy dra agter, dis definitief ’n seun. Toe is dit ’n dogter; die mooiste, soetste baba wat nog ooit die lig gesien het. Dis natuurlik nou volgens my en my man. Daarom soek ek nou pienk lappies met babaprentjies op.

Nou volg die kleuter- en peuterdae wat gelukkig baie glad verloop. Veelkleurige lappies, sagte kleure, reg vir ’n dogtertjie, word bygewerk.

Twee jaar daarna volg die volgende swangerskap. Weer dieselfde vraag, blou of pienk? Onthou, daar was nie sonarfoto’s in daardie tyd nie. Hierdie keer is dit ’n seun, ’n knieserige mannetjie wat heeltyd skree. Wat se kleur sal daarby pas? Seker ’n donkerblou. Die outjie laat hom nie sus of paai nie, hy het net een meganisme: hy skree en drink en basta met die res. Gelukkig hou dit net vir drie maande so aan. Nou kan ek ’n ligter skakering van blou bywerk. Maar hy is baie besig en aan die gang, so ’n mengelmoes van kleure sal beter daarby pas.

Drie jaar later is die volgende een op pad. Nou wag ek maar voordat ek op die volgende kleure vir die kombers besluit. Pa wil graag nog ’n dogter hê maar ek sal tevrede wees met ’n seun ook. Dis toe weer ’n seun, ’n yslike 8 pond (3,8 kg). Toe besluit ek op ’n skakering tussen lig- en donkerblou met seunsmotiewe. En so gaan daardie tydperk ook verby.

Nou volg die kinders se grootwordjare wat met verskillende lappies bygewerk word. Gemoedskommelings word met geel of oranje vir die opgewekte tye en meer neutrale kleure vir teleurstellings wat die lewe mens toedien, uitgebeeld. Definitief groen vir ouboet wat so belangstel in die natuur. Suster is meer akademies ingestel, so wit of swart. Kleinboet is meer tegnologies ingestel, dus is silwer sy kleur. Nou word lappies bygewerk wat hulle elkeen verteenwoordig.

Pa is ons rooi en donkerblou man. Hy vorm die rand en hou ons lappe bymekaar. Hy is vol lewe en baie vasberade. Ek, daarenteen, hou van pastelkleure.

So het die verskeidenheid lappies wat aanmekaar gewerk is ons familielaslapkombers gevorm. Warm en snoesig wanneer mens ’n ekstra bietjie versekering nodig gehad het. Partykeer te warm as die verskillende persoonlikhede bots. Maar noudat al die kinders besig is om hulle eie lappieskomberse met hulle eie kleurskemas aanmekaar te werk, kan ek myne opvou en in my onthoulaai bêre.

This entry was posted in Familie, Herinneringe and tagged . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s