Tieners

Daar kuier tans drie tieners by ons. Praat van verskillende geaardhede; probeer dan om elke dag saam met hulle te spandeer.

Twee is broer en suster, en die ander ’n stiefbroer. Die stiefbroer (my stiefkleinseun?) is eintlik 21 maar het ’n verstandelike gestremdheid. Volgens die dokters is hy onopleibaar en het die verstand van ’n agtjarige. Hy is baie emosioneel en by tye aggressief. En dit kan blitsomkeer verander omdat hy nie altyd verstaan wat jy sê of doen nie.

Hy is tans besig om ’n boek te skryf om hom besig te hou. En hy word verskriklik ongeduldig as jy nie direk vir hom kan raad gee of sê hoe ’n woord gespel word of wat die karakter se naam nou eintlik moet wees nie. Dit is immers wat op daardie oomblik vir hom die belangrikste ding op aarde is. As jy miskien besig is om iets anders te doen en nie direk aan hom aandag gee nie, is die vet behoorlik in die vuur.

Broer is baie tegnies aangelê en is altyd doenig met een of ander uitvinding. Soms ontvlam die humeur ook maar gou, maar gewoonlik is hy baie gelykmatig. Eintlik weet ek nie of hy presies so is by sy eie huis nie, maar dis nogal lekker om met hom te gesels. Toe hy kleiner was, was hy die een wat maklik ’n vloermoer kon gooi. Ek kan nie dink dat hy so baie verander het nie.

Broer het so pas ’n kursus gevolg om slange te kan vang. Hulle bly naby die Kruger Wildtuin en daar is nogal baie slange, selfs ’n luislang in hulle nabye omgewing. Hy het ook foto’s van al die verskillende soorte slange op sy rekenaar en wanneer hy dié vir my wys, gril ek my dood net by aanskoue van die prentjies.

Hy is ook besig om te leer bestuur en meer vaardig te word in die verkeer want waar hulle bly, is daar maar min verkeer. Hy moet ook nog leer parkeer. Gelukkig is dit nie ek wat hom hoef te leer nie.

Suster is baie vinnig met die tong, so daar is nogal heelwat woorde te ruil met broer. Ek weet nie hoekom broers en susters so liggeraak is wanneer een net iets sê waarvan die ander een nie hou nie.

Suster is bang vir alles van kruipende aard, maar veral vir spinnekoppe. Sy sal eers die kamer en die badkamer van hoek tot kant deursoek om seker te maak daar is nie ’n spinnekop in die omgewing nie. Ons bly in ’n landelike omgewing, so spinnekoppe is hier nogal ’n alledaagse verskynsel. Ongelukkig het niemand eintlik simpatie met haar  nie want ons almal sê jy hoef nie vir iets wat soveel kleiner as jy is bang te wees nie.

Honde is haar ander groot vrees. Sy kan nie eens in die straat loop sonder om te dink dat een van die bure se honde haar enige oomblik gaan bespring nie. Nou is dit ook so dat daar geen honde in ons straat rondloop nie, almal word agter geslote hekke en hoë heinings aangehou. Maar die geringste hondegeluidjie, selfs van ’n klein keffertjie, is genoeg om haar ’n hartaanval te gee.

Omdat hulle naby die Wildtuin bly, gaan hulle gereeld vir ’n dag of naweek soontoe. Dit veroorsaak weer ’n stryd van ’n ander aard. Sy is bang vir olifante maar haar stiefma is juis gefassineer met die ou grotes. Sy kan vir ’n lang tyd vir die olifante sit en kyk, is byna vreesloos, al loop hulle sommer hier neffens die kar. Suster, aan die ander kant, wil net verder ry want sê nou maar net oom Olifant raak kwaad en bestorm die kar of trap met sy groot poot op die kar? Mens sterf mos ’n duisend dode as jy so bang is vir iets.

Nou ja, met die drie het ons nogal pret, ook met die geaardheidsverskille. Die verskeidenheid is mos wat die lewe interessant maak. Al die gelag en soms kwaad word maak van die lewe ’n regte mengelmoeskardoes.

This entry was posted in Familie, Tieners and tagged , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s