Pap en wors

Saterdagaande eet ons pap en wors. Die wors hoef nie noodwendig oor die kole gebraai te word nie, selfs op die stoof gaargemaak is dit lekker. Al vereiste is dat daar stywe pap met ’n lekker tamatiesous daarby bedien moet word. Nou maak ons die pap met ’n groot klont botter en heelmieliepitte in. Koningskos.

My broer wat in ’n ouetehuis bly, dring selfs daar aan dat hy Saterdagaande sy pap en wors moet kry. Ons is so ingestel dat ons, as ons nie ons pap op Saterdag geëet het nie, ons voel asof ons aan onttrekkingsimptome ly.

Van die aangetroude familie wat van die Kaap afkomstig is, kan hulle nie met ons beheptheid met mieliepap versoen nie. Trek hulle neuse op en eet eerder ’n broodrolletjie. Ons het vrede daarmee en eet smaaklik aan die mieliepap en sous.

Stywe pap word ook poetoepap genoem. Krummelpap is ook baie lekker, maar ek kon dit nie regkry om dit te maak nie. Ek noem couscous sommer “designer” krummelpap. Net baie makliker om te maak en net so lekker.

As jy nou regtig grênd wil wees, maak jy ’n paptert met biltong, sampioene, kaas en ’n romerige witsous. Lekker bruin gebraaide wors en tamatiesous smaak net so lekker daarmee saam. Selfs die ou wat neus optrek vir die nederige pap, sê nie nee dankie vir die paptert nie.

Ons gooi nie die papaanbrandsel weg nie. Nee, dit is weer ’n ander soort lekkerny. Daar word ’n bietjie melk in die pot gegooi en vir ’n rukkie laat staan totdat die skilletjie sag genoeg is om van die pot se bodem weggetrek te word. Dit is lipafleklekker. Toe my seuns jonger was, het hulle altyd lootjies getrek om te sien wie die aanbrandsel gaan kry.

Slappap vroeg in die oggend vir ontbyt is vir ons ’n lekkerny wat ons so af en toe geniet. Angel, ons huishulp, kan die lekkerste slappap maak. Dit word met botter en stroop geëet, en dan smaak dit amper soos poeding.

Die nederige mieliemeeldis is vir baie van ons landgenote ’n stapelvoedsel en dan maak dit ook nie saak wat as touleier gebruik word nie: hoenderkop en -pote (walkie talkies), marog of ’n konkoksie van afvalvleis en tamaties. Rooivis (sardyne in tamatiesous) is ook goed. Baie mense in ons land is maar te dankbaar dat daar darem ’n bord pap is wat geëet kan word.

My bord mieliepap en wors laat my dink aan die dae toe ek nog ’n kind was en ons om die kombuistafel geëet het met Pa aan die hoof van die tafel en ons wat smul aan ons pap. Pa het altyd iets snaaks gehad om te vertel en ons het oopmond gesit en luister na al sy opgemaakte stories. Pa het nie van braaivleis gehou nie, en Ma het die vleis maar in die oond gaargemaak.

Ja-nee, die nederige dis van mieliepap en wors is by ons voorwaar koningskos.

This entry was posted in Kos and tagged , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Pap en wors

  1. Ek is skuldig aan my neus optrek vir pap. As ‘n gebore Vaalpens moet ek dit eet, maar ek sal altyd verkies om dit nie te eet nie. Ek is wel stout vir ‘n lekker worsrolletjie.

  2. Olga sê:

    Ek het as ‘n bruid uit die Kaap, hier in Tvl met pap kennis gemaak. Nou kyk, my wyse ou moedertjie was ‘n voorslag kok. Ek het ook die vaalwit kleierigheid aangekyk en gedink: “aikona.” Maar nes my wyse ou Moedertjie, kon ek dit ook nie net afmaak as andermens se kos sonder om dit ten minste te proe nie. Ek is ‘n convert. Ek geniet my pap nes dit kom. Slappap met botter, melk en suiker, stywepap, putu sakie makie. Die beste touleier (Hoe ploeg ek nou sommer met jou kallertjie) is egter heerlike souserige maalvleis.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s