Yesterday, today and tomorrow

Die yesterday, today and tomorrow of die verbleikblom is een van my gunstelingplante en ook so tekenend van die mens se lewe.

Vandag pienk en sag soos dit elke dag vir ons belowe om te wees. Daar is geleenthede wat wink maar ons gryp dit nie altyd aan nie. Ons stel eerder uit tot môre – wat dalk nie mag kom nie. Ek aan die ander kant glo: doen dit nou en doen dit gou. Ek wil alles so gou as moontlik gedoen hê en word sommer ongeduldig as mense so effentjies werk, so asof daar net een ding op ’n dag gedoen moet word.

Môre se blomme is pers en helder. Dit is die uitsien na ’n nuwe dag, môre sal ons dit of dat doen. Dan is daar die spreekwoord wat sê van uitstel kom afstel. Tog so ’n waar woord. Môre breek aan en vergete is die voornemens van gister.

Gister se blomme is wit. Dit wys al die geleenthede wat opgeduik het en wat verspeel is en onbenut gelaat is. Daar was soveel kere dinge besluit wat nooit tot uitvoer gekom het nie. Hier is die spreekwoord: Met waters wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie, van pas.

Waaroor my skrywe vandag gaan, is dat mens die dag moet aangryp (carpe diem, soos ons ouer garde seker nog kan onthou uit Dead Poets Society). Doen wat jy moet doen na die beste van jou vermoë. Bitter trane het al gevolg oor opdragte wat nie direk uitgevoer is nie of belangrike boodskappe wat iemand vergeet het om oor te dra.

Baie van ons het maar die neiging om te sê dat môre nog ’n dag is en wat nie vandag gedoen word nie, kan maar wag. Partykeer het so ’n besluit baie nare gevolge.

Vra maar vir ’n skoolgaande kind: “Is jou opdrag/taak al gedoen?” Sy of haar antwoord is gewoonlik iets soos: “Ek hoef dit eers oor ’n week/maand in te handig. Ek sal later daaraan werk.” ’n Dag voor die tyd word dan geskarrel om die gegewens bymekaar te kry. Ma is ongeduldig want daar is so baie dinge waaraan sy moet dink en wat vandag nog gedoen moet word. Pa het ’n voorlegging wat môre ingehandig moet word; hy kan nie help nie. Dit sou alles makliker gewees het as die werk gedoen was en nie tot op nommer nege-en-negentig uitgestel was nie.

Dan is daar dié van ons wat ons bekommer oor wat môre gaan gebeur en dan was die bekommernis sommer pure verniet. My man se woorde was altyd: “Moenie die bobbejaan agter die berg gaan haal nie.” En dan as môre aanbreek sien jy die bobbejaan is glad nie so ’n bangmaker as wat jy gedink het hy sou wees nie. Dit was in my jonger jare my grootste sonde; het my altyd bekommer oor iets wat later geblyk het ’n kleinigheid te wees.

Dan kan ons ook nie gister se dinge nou meer regstel nie, soos woorde wat gesê is wat nie teruggetrek kan word nie. Spyt kom ongelukkig altyd te laat. Mens kan vra: Hoekom het ek nie gebel of gaan kuier nie? wanneer ons geweet het iemand is siek en ons het nooit weer die kans om hom of haar te sien nie. Dan is dit vir altyd te laat.

Luister na die radio of lees die koerant en daar word jy herinner aan die verganklikheid van die mens. Motorongelukke, kapings, moord is aan die orde van die dag. Vertel nou vir jou man, vrou of kind hoe lief jy hulle het en gee ’n klein blykie van waardering terwyl jy nog kan en leef elke dag met volle oorgawe.

This entry was posted in Familie and tagged , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s