Komkommers

Gister het ek oor die radio gehoor van die komkommers uit Spanje wat met die een of ander bakterie besmet is.

Dit laat my toe dink aan die dae toe ons die jong komkommers sommer so van die plant afgepluk en geëet het. Met ’n titseltjie sout daarby is dit lekker verby. Ons het graag vir Ma die komkommers wat sy vir die slaai nodig gehad het gaan pluk. Dan gaps jy sommer ’n vars jong komkommertjie, vryf die grondjies af en eet dit sommer skil en al op.

Nou is dit ’n gewoonte wat nie meer gevolg word nie, maar in daardie dae het die oumense die gedeelte van die komkommer waar dit aan die stingel geheg was, afgesny en oor die res van die komkommer gevryf. Dit was glo om die bitterheid van die komkommer te vermy. Het ons dan nou ’n nuwe soort komkommer, want alhoewel ons dit nie meer doen nie, proe mens nie dat die komkommers bitter is nie.

Engelse komkommers wat in tonnels gekweek word, sien mens nou algemeen en is baie gewild. Ons het nog die gewone boerekomkommer geplant en sweer nou nog dat dit beter as die sogenaamde Engelse eweknie smaak.

Ek is nie lief vir slaaiblare nie, maar is baie lief vir komkommers. Sonder komkommer is my slaai nooit volledig nie. Dit is seker iets wat ek uit my kinderdae saamgebring het toe komkommers vir my so ’n groot lekkerny was.

As hulle sê dat die Spaanse komkommers deur besoedelde water besmet is, wonder ek wat een van die dae met al ons groente gaan gebeur. As ’n mens so na die nuusberigte kyk en sien hoe benard omstandighede met watersuiwering en -voorsiening hier is, gaan ons ook binnekort in dieselfde bootjie ry.

Hoe weet mens nou wat jy by die groentewinkel koop? Is dit onbesmet en eetbaar? Wat van die winkeliers wat groente verkoop en jy weet nie eens van die feit dat dit ingevoer is nie? Hulle moet vir jou sê sodat jy ’n ingeligte keuse kan maak.

As ek so skryf, dink ek altyd aan ’n spreekwoord of twee. Daar is die een wat lui: So koel soos ’n komkommer. Dit het blykbaar te doen met die feit dat komkommers ’n hoë waterinhoud het en daarom kwansuis koeler is as die omgewing. Die spreekwoord beteken natuurlik dat iemand nie sommer gesteurd raak oor iets nie.

Daar spring my gedagtes nou sommer weer na kos toe: wat van komkommersop? Glo ’n heerlike dis vir somermaande. Self het ek nog nie my hand (of mond) daaraan gewaag nie, maar die sjefs wat hulle sout werd is, bedien dit gereeld, so dit moet seker nie te sleg wees nie.

Daar is ook die gesegde wat lui: Liefde is soos ’n jong komkommer, pluk dit dan verlep hy sommer. Dit is baie tekenend van sommige verhoudings wat nie enige druk kan weerstaan nie. Dit is in elk geval hoe ek dit vertolk.

Mens lees ook in die Bybel van ’n komkommerplant. Jona, wat ontevrede was oor God Nineve gespaar het, het buite die stad gaan sit. Toe het God ’n komkommerplant laat opkom en oor Jona se skerm laat rank om vir hom skaduwee te gee. Ons lees ook dat Jona baie bly was oor die komkommerplant. Maar toe het ’n wurm aan die komkommerplant gevreet en ’n warm wind het dit verdroog. (Jona 4:6-10).

Agurkies is ook maar vir my komkommers. Dis ’n lekkerny saam met enige soutigheid. En dan gebruik ons dit soms as ’n slaaibestanddeel wanneer ons nie vars komkommer het nie.

Eet maar komkommers, maar maak net seker dis nie uit Spanje ingevoer nie. Of, indien jy versigtig is, gebruik ’n agurkie of twee.

This entry was posted in Kos and tagged , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s