Fotograwe

My jongste seun is ’n kranige fotograaf. Eintlik sy hele gesin. En natuurlik maak hulle altyd ’n plan om te gaan foto’s neem.

Op ’n stadium het ek gereeld saam met hulle wildtuin toe gegaan, altyd ’n groot belewenis. Alles wat kruip of vlieg of sluip of seil moet afgeneem word. So kort-kort moet daar gestop word. Wie ook al iets gesien het, korrel, mik en druk.

Iemand sê: “Pa, so bietjie agtertoe. Nee, so ’n bietjie meer skuins dat ek my foto mooi kan inpas.” Ek wat geen aardse benul het van al die sjirrende digitale kameras nie, koes maar as ek gevra word om so bietjie uit die pad van die lens te bly.

My skoondogter is versot op dooie boomkomposisies. Daarvan is daar nogal heelwat in die wildtuin. Dit is natuurlik ’n bonus as daar een of ander groot voël op ’n tak sit. Maar sy raak natuurlik ekstaties as daar olifante opgemerk word. Sy laat ons vir ure sit sodat sy alles op kamera kan vaslê.

Nou beweeg ons aan. Een van die kinders sien ’n troupant en moet opsluit ’n foto neem. Versigtig, want die voël vlieg weg sodra daar die geringste geluid van die kar se kant afkom. Intussen skarrel ’n wyfiefisant met haar kroos grondlangs en dan is daar twyfel: wat moet ek nou eerste afneem? Die gesin-fisant of die troupant?

So gaan dit die hele dag.

Iemand in ’n verbygaande motor het ’n luiperd gesien en ons is gesê om so vyf kilometer vorentoe maar stadig te ry en op die uitkyk te wees vir die luiperd wat so half onsigbaar van die pad af is. Ons moet baie fyn en mooi kyk.

Eindelik sien iemand iets. Gewoonlik nie ek nie want my oë is te sleg of ek dink hulle verbeel hulle maar net dat hulle ’n beweging gesien het. Dan word daar reggesit met die kameras gereed om alles te kiek. Ek kyk maar later na die foto want gesien het ek hom nie gesien nie. Daar stop ook so baie karre om te probeer sien wat jy sien. Dit lyk na ’n regte verkeersopeenhoping, amper soos in spitstyd in die stad. In die tussentyd brand ek natuurlik om te sê: “Ry maar aan.” Ek wil liewers by ’n plekkie kom waar ek die rumatiekbene bietjie kan rek. Maar ek bly stil, want ek wil nie nou ’n nat vadoek wees nie. Vir hulle is dit natuurlik ’n groot prestasie om te sê dat hulle darem vandag ’n luiperd gesien het.

Rooiboktroppe is baie maar so alledaags dat niemand dit meer ’n foto waardig ag nie. Die groot vyf is natuurlik die in-ding. Hoe meer foto’s jy aan jou vriende kan wys van die gesogte diere, hoe beter.

In my jonger dae toe ons nog gereelde besoekers aan die Wildtuin was, was dit my nie beskore om leeus te sien nie.  Met ’n nagrit nou saam met my seun en sy kliekende gesin was ons so gelukkig om ’n trop van sewe leeus te sien waar hulle hulle prooi verslind. Die fotograwe het geblom want dit was ’n belewenis. Ek, die enigste een sonder ’n kamera, kon dit geniet om hulle reaksies uit my stoel gade te slaan. Ek sal maar later al die foto’s bestudeer.

Die volgende oggend slaan ons weer ’n ander koers in. Daar sien ek vir die eerste keer ’n saalbekooievaar. Te pragtig. Gelukkig spits die vier persone in die kar wat foto’s neem hulle nie net toe op vierpotiges nie. Daar word ook opgelet na die groot verskeidenheid voëls en die droë bome in hulle menigte vorms.

Daar is renostervoëls wat ry op die buffels se rûe. Sandpatryse al skarrelende oor die pad. ’n  Visarend wat laag oor die water swiep met sy kenmerkende skreeu. Neushoringvoëls in die bome langs die pad. ’n Fees vir die mense wat alles op foto’s wil vaslê.

Middagete word by een van die kampe geniet voordat ons weer in die pad val om nog meer foto’s te neem.

Ai, wat ’n belewenis om so ’n uitstappie deur die oë van fotograwe van verskillende generasies mee te maak!

This entry was posted in Leefstyl, Reise, Wildtuin and tagged , , , . Bookmark the permalink.

3 Responses to Fotograwe

  1. Die meeste mense vind dit erg frustrerend om saam met ‘n “wannabe” fotograaf in die dieretuin te wees. Hulle het gewoonlik nie rooi miere soos die res nie.

    Iets wat ek nogal baie geniet is om ‘n mooi pad te vang, en elke paar kilometer te stop vir ‘n foto. Eendag as ek groot is, soek ek ‘n kamera met ‘n GROOT lens.

  2. klippie sê:

    Ek weet, jy neem pragtige foto’s. Van die fynere kunsies van foto’s neem, verstaan ek geen snars nie. Maar ek kan darem ‘n mooi foto waardeer.

  3. seegogga sê:

    Ag, die lekkerste is sommer net om in die bosse in te tuur en as mens iets sien isdit groot opgewondenheid. Bly julle kon dit beleef

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s