MIV-positief

My kleindogter wat in die Polisiediens is, het so vier jaar gelede besluit om ’n klein weggooi-kleurlingdogtertjie aan te neem. Op daardie stadium was dit vir my nogal ’n skok. Ons oues het mos in die era grootgeword waar ons geglo het dat so iets sommer moeilikheidsoek is.

Die ou dogtertjie was so klein en verwaarloos dat my kleindogter, wat ’n baie sagte hart het, dit nie kon verwerk dat daar niemand was wat haar wou grootmaak nie. Sy het aangebied om na haar om te sien solank as wat daar gesoek is na iemand wat bereid sou wees om haar te neem. Maar daar was niemand nie.

Na ’n ruk het sy natuurlik baie geheg geraak aan die ou kleintjie en toe besluit om haar aan te neem. Dit was nie ’n maklike besluit nie, want dit sou beteken dat sy ’n enkelouer sou wees. Daarby was die outjie regtig klein en tengerig.

Maar met al die liefde wat sy ontvang het, het sy sommer gou-gou begin gedy. By Oupa en Ouma ontvang sy net soveel liefde want vir hulle is sy soos ’n eie kleinkind. Sy word baie bederf en met liefde omvou. Waar Oupa gaan, gaan die klein juffrou. Sy hou veral daarvan om vroegoggend al in die tuin rond te stap en Oupa is die beste maatjie daarvoor. As Oupa en Ouma vir ons kom kuier, kom sy saam. Sy is baie bekkig en vlug van verstand. Sy sê rympies op, spring en dans en op die oog af is sy soos enige ander kind van haar ouderdom.

Daar is natuurlik ook ’n teenkant. Van kleins af was sy maar kort-kort siek met ’n verkoue of ontsteekte ore. Andersins is sy gelukkig en word sy soos enige ander kind behandel.

 Vroeg vanjaar het sy weer siek geword en moes hospitaal toe. Na vele toetse om vas te stel wat verkeerd is, kom die diagnose: VIGS. Sy moet op al die antiretrovirale middels. Volgens voorskrif moet die medisyne stiptelik elke 12 ure toegedien word. Haar immuunstelsel is baie laag en haar ma moet versigtig wees dat sy nie met die gewone verkoues en alledaagse siektes aansteek nie. Hoe nou gemaak met die kleuterskool en hoe verhoed jy so ’n opgewekte, bekkige kleintjie om met al die maatjies te meng?

Vir Oupa en Ouma was die nuus baie erg en het hulle dit moeilik verwerk. Vir hulle was die nuus so erg as ’n doodstyding. Mens kan jou nie indink hoe hulle gevoel het nie. Haar mamma was in ’n nog slegter toestand. Hoekom het die medici so lank gevat om haar toestand vas te stel? Sy was immers gereeld by die dokter, het selfs verlede jaar ’n ooroperasie ondergaan.

Nou, na drie maande se behandeling met die antiretrovirale middels het sy darem al 2 kg gewig opgetel, maar sy weeg steeds net 14 kg. Dis moeilik om te glo veral as mens besef dat ’n baba van 18 maande ongeveer 12-13 kg weeg. So sy is verskriklik maer en klein. Maar sy gedy, dit babbel aanmekaar en as die Here wil sal sy volgende jaar in Graad R wees. Stel jou voor die ou klein mensie met ’n skooltas.

En die ander goeie nuus is dat haar immuunstelsel versterk het en dat sy nou as HIV-positief geklassifiseer word. Ons is almal baie dankbaar; ek veral want sy is mos my eerste agterkleinkind!

This entry was posted in Familie, MIV and tagged , , . Bookmark the permalink.

7 Responses to MIV-positief

  1. Daar is min dinge wat jou hangups oor VIGS nek omdraai as ‘n (geliefde) kind wat daaraan ly. Sy maak julle almal minder bevooroordeeld en meer verdraagsaam met die ander lyers. Sy help ook om die stigma af te breek. Hopelik gee mense haar ‘n regverdige kans om te wys wie sy is ongeag van die virusse wat sy dra.

    • klippie sê:

      Dit is wat my die meeste bekommer. Wanneer sy skool toe gaan, sal die maatjies se ouers haar aanvaar? Want kinders ken nie die verskil nie. Daarby is dit moeilik om so iets geheim te hou, want die onderwysers moet seker weet in geval daar een of ander ongeluk op die skoolterrein plaasvind. Gelukkig het sy so ‘n pragtige persoonlikheid dat sy sommer gou-gou diep in mense se harte inkruip. So ek hoop dit gaan haar staande hou wanneer die aanslae van die groot wereld kom.

  2. Sterkte! Dis seker al wat mens kan se….

  3. seegogga sê:

    Ai, wat kan mens se? geniet haar.

  4. Pingback: Die sondes van die ouers | Klip in die bos

  5. Son sê:

    Ek lees nou eers hierdie. Ek haal my hoed af vir jou kleindogter, en vir julle almal. ‘n Kind het nie gevra om die lewe in te kom nie, nog minder om met VIGS te leef. Alle seëninge vir julle.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s