Vergeet om te vergeet

Nou die dag het ek vergeet om die boodskap oor te dra wat iemand my gevra het om te doen. Dit was nogal belangrik maar ek moes met ’n rooi gesig erken dat ek skoon vergeet het.

Wat doen jy in so ’n situasie?

Met die ouderdom saam kom hierdie probleem al hoe meer voor. Ek begin soggens nou al ’n lysie opstel van wat belangrik is sodat ek tog nie sal vergeet om iets te doen of te sê nie.

My ou vriendin begin my ’n storie vertel en sê dan ewe skielik dat sy vergeet het waaroor die storie nou eintlik gaan. Dan onthou ek van my oupa wat so knaend ’n storie kon herhaal het en ek besef dat hy net vergeet het dat hy dit alreeds vir jou vertel het. Toe het ons altyd verskoning gevra en gesê dat ons nie toe kon luister nie maar eintlik het ons elke detail van die storie al tien keer gehoor. Nou begin ek wonder of ek nie al die spesifieke storie vertel het nie en of die kinders net te bedagsaam is om my daarop te wys.

Partykeer is iets goed om te vergeet, veral as dit ’n seermaakstorie is. Of as dit gaan oor ’n tekortkoming wat jy nie aan die groot klok wil hang nie. Mens kry mos mense wat so graag negatiewe dinge onthou en met smaak oorvertel terwyl jy nie graag daaraan herinner wil word nie.

Soms “vergeet” ons gerieflikheidshalwe van een of ander geleentheid wat vir iemand anders regtig belangrik is maar wat jy eintlik nie wil bywoon nie. Dis net makliker om te sê: “Oeps, jammer, ek het vergeet.”

In menige huishouding was daar al ’n groot baklei oor een of ander verjaarsdag of herdenking wat vergeet is. Hoe ouer ek word, hoe minder maak my eie verjaarsdag vir my saak. So as iemand my verjaarsdag vergeet, sal ek darem nie soos in die ou dae in sak en as gaan sit nie.

Wanneer skoolkinders belangrike boeke by die huis vergeet, dink ek soms dat hulle nie een of ander opdrag gedoen het nie. Dis net makliker om te sê dat jy vergeet het om die boek in jou tas te pak.

Vergeet is seker een van die verskonings wat daagliks die meeste gebruik word. Luister maar so na mens se kinders en familie. “Jong, ek vergeet so maklik deesdae.” “My program is so vol, ek het regtig vergeet om die belangrike afspraak te kanselleer.”

Laurika Rauch se liedjie “Vergeet om (my) te vergeet” en die woorde daarna “onthou om te onthou” klink miskien verspot maar dit is goeie raad. So is daar baie voorbeelde:

Op pad lughawe toe moet jy omdraai omdat jou ID by die huis vergete gebly het. Sleutels word verlê want mens vergeet waar jy dit neergesit het. ’n Belangrike brief wat vandag gepos moes word, het op die tafel bly lê. So is daar talle vergeetstories wat in baie gevalle nogal ernstige gevolge kan hê.

Nou, as ek iewers heen gaan, moet ek nie vergeet om my pille eerste in te pak nie. Sonder pille kan ek nie meer ’n kuier geniet nie want dit moet al die kwinte en kwale onder bedwang hou.

This entry was posted in Geheue, Gewoontes, Oudword and tagged . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s