Orgideë

Een van my orgideeplante se knoppies is op die punt om oop te gaan. Ek kyk elke dag hoe dit stadig besig is om oop te vou. Die ragfyn blomblaartjies kan, as dit eers ten volle oop is, sommer vir drie maande aaneen blom sonder om te verwelk. Dan besef ek al hoe meer die gewag vir die blom was die moeite werd. Ek wonder ook hoekom die orgideë so lank in die blom bly. Ons eie blomsoorte het maar ’n kort lewensduur.

Omdat ek nie meer so mobiel is nie, kry die plante maar die minimum aandag. Ten spyte daarvan kom die blom my verras en laat my elke dag die bevrediging van sy prag geniet. Dan wens ek ons mense kan ook so wees. Soms gee mens iemand die maksimum aandag (veral kinders) en dan is hulle vir so ’n kortstondige oomblik vreugdevol en gelukkig dat jy wonder of jy dalk iets verkeerds gedoen of gesê het.

As die orgideeblom verwelk en jy gee dit net weer ’n bietjie water, is dit weer reg om in al sy glorie verder te blom.

My seun wat in die warm deel van Limpopo bly, kweek ook orgideë en dan kan ons teen mekaar spog oor wie nou weer ’n plant in blom het en hoe lank die spesifieke blomme al hou. Mens sou sweer ons is verantwoordelik vir die duur van die blom.

Een van die kwekerye hier naby ons het ’n orgideeplant wat al 10 jaar of ouer is. Elke jaar dra die plant net meer blomme. Stel jou voor die wonderlike gesig van ’n vrag goudgeel blomme wat jy nie maklik kan vergeet nie. Ook is dit iets wat ek so in my enigheid begeer maar ongelukkig is daardie spesifieke plant net vir vertoon en nie te koop nie. Die kweker is so trots daarop soos ’n pa oor sy baba is. Natuurlik sou ek graag met so iets besonders wou spog.

Die paar soorte orgideeplante wat ek het, is nie van die rare soorte nie maar dit bly steeds ’n belewenis om hulle dop te hou en te sien of daar ’n aanduiding is dat dit gaan blom of nie. Ekstaties wanneer daar, soos nou, ’n blom is wat besig is om oop te gaan. Ek kyk elke bloeisel behoorlik oop. Dan word dit op ’n pertinente plek gesit sodat almal dit kan raaksien. En ek blom behoorlik wanneer iemand anders dit net so mooi vind as ek. Mens sou sweer dis ek self wat die blom vermag het.

Ek voel ook goed omdat ek weet vir die volgende drie maande sal ek elke dag die blomme kan geniet. Met die minimum aandag sal die plant aanhou voortblom. Ek moet net sorg vir water op die regte tyd.

Snaaks dat ’n mens se smaak so verander. Toe ek jonger was, het ek altyd gesê dat malvas my blomme is omdat dit sulke dankbare plante is. Mens hoef dit net ’n bietjie aandag en ’n bietjie water te gee en dan groei dit asof dit betaal word. Lateraan het ek clivias verkies en nou op my oudag is dit orgideë.

So het die lewe ook fasette waaraan jy nooit voorheen gedink het nie.

This entry was posted in Stokperdjies and tagged . Bookmark the permalink.

4 Responses to Orgideë

  1. net n ander iets sê:

    Ja dit is besonderse blomme en die groot verskeidenheid laat my ook dink aan mense en hulle enersheid maar tog ook elkeen se unieke karakter, nes die blomme ook maar plant vir plant verskil. Ek het Cimbidiums 10 van dieselfde maar elke pot se plant is anders en die blomme verskil ook as n mens mooi kyk.

  2. Olga sê:

    Ek het nog nie in orgidieë belê nie. Altyd gedink dat dit “high maintenance” plante was. Ek moet egter erken, elke keer dat ek ‘n “lady’s slipper” in blom sien, is ek in groot versoeking.

    • klippie sê:

      Koop gerus vir jou een. Wanneer jy sien hoe lank daardie blom hou, sal jy besef dit was ‘n belegging. 

      Mense is geneig om die plante te piep, maar hulle het net so een of twee keer ‘n week ‘n bietjie water nodig. Hulle hou van goeie dreinering en daarom bietjie plantvoedsel af en toe. En in ‘n droe klimaat, kan mens so bietjie “mis” om die blare maak.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s