Ode aan die pampoen

Ek is baie lief vir pampoen. Jy kan dit vir my in enige vorm voorsit en dit bly ’n wenner.

Vandat botterskorsies so gewild geraak het, is die ou boerpampoen uit die mode. My dogter wat die groente koop sê boerpampoen is haas onverkrygbaar en wanneer dit beskikbaar is, is dit onbekostigbaar.

In die ou dae was “squash” baie gewild. Hoe jonger daardie pampoene is, hoe lekkerder is dit. Ons het selfs die skil as groente gebruik. Of skywe pampoen in die oond gebak met suiker en kaneel. Wat ’n lekkerte.

Gisteraand het my dogter vir ons botterskorsiesop gemaak, een van my gunstelinggeregte. Die sop was ryk en romerig. Vroeër toe my seun met sy Duitse vroutjie getroud is en sy my van pampoensop vertel het, het ek gedink dit is maar net ’n uitlandse gereg en wou nie my mond daaraan sit nie. Nou kan ek nie wag vir ’n koue aand sodat ons pampoensop kan eet nie.

Dan is daar pampoenkoekies wat met ’n kaneelsousie bedien word. Ag, hoe water my mond nou!

Mens kan die jong blaartjies van pampoenranke pluk en ’n heerlike dis daarvan kook. Dan kan mens ook ’n sop maak waarin jy die pampoenblomme gebruik. Vir die plaasmense is hierdie disse nogal algemeen maar vir ons stedelinge is dit eintlik ’n lekkerny. Het jy al pampoenblare of -blomme op ’n mark te koop gesien?

Vroeër jare is pampoen as varkenskos geag maar gelukkig is dit nou ’n gereg wat baie op spyskaarte in verskillende variasies verskyn. Ek dink ook aan Steve Hofmeyr se liedjie “Pampoen” en Anton Goosen wat sing van “Pampoene op die dak”. Mens sien ook gereeld spotprente van platdak-plaashuisies met die pampoene wat die sinkplate moet vashou.

Daar is ook ’n paar spreekwoorde wat met pampoen te doen het. Waar, byvoorbeeld, kom die spreekwoord vandaan: “Ek skrik nie vir koue pampoen nie”. Dan sê ons ook maklik vir  iemand wat nie presteer soos hy moet nie dat hy ’n pampoenkop is. Soms praat mense ook van ’n pampoenspook. Dit is ’n uitgeholde pampoen met ’n kers aan die binnekant. Alhoewel dit nie ’n Suid-Afrikaanse gewoonte is nie, ken ons dit darem.

Wanneer die kinders om my geneul het en gevra het wat ons daardie aand sou eet, het ek sommer gesê: “Pap en pampoen.” Dit het gewoonlik hulle monde stil gemaak want dit het nie geklink na ’n dis waarna mens sou uitsien nie.

Ek kan eintlik nie glo dat daar mense is wat skoon ril as hulle hoor dat daar pampoen gekook word nie. Dis vir my snaaks want in ons huis is daar eintlik niemand wat nie van pampoen hou nie. My kleinseun eet sommer pampoen wat oorgebly het vir nagereg. Vir my is dit lekker om hom te sien weglê aan ’n bord pampoen en dink dan dat hier ook iemand is wat soos sy ouma pampoen as poeding beskou. Wat is lekkerder as ’n skeppie pampoen met ’n klont botter in die middel ingedruk? Heerlik!

Ons het altyd vir die kinders gesê dat hulle hulle pampoen moet eet want dan sou hulle krulhare kry. Dit het niks gehelp nie want meeste van die kinders se hare is so styl soos stokke. En in elk geval dan het ek seker met ’n bos kroeshare gesit van al die pampoeneet!

This entry was posted in Kos and tagged , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Ode aan die pampoen

  1. Olga sê:

    As jy die pampoen koekie deeg in die mugginpan skep met ‘n dik laag kaneel suiker oor en dit bak, is dit koningin’s kos met ‘n skeppie room op. My noolste Nolie het dit kleintyd altyd “sampoem” genoem. Hy is vandag nog gek na pampoen. Arie, ek sit met ‘n wasgoedmandjie vol “blou” boerpampoene uit my tuin.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s