Lag en die wêreld lag saam

Daar is ’n spreekwoord wat lui, “Lag en die wêreld lag saam; huil en jy huil alleen.” Dan kyk mens rondom jou en sien net bekommerde en ernstige gesigte raak. Geen grappies, geen glimlagte, net strak gesigte.

Is daar nog in jou huis tyd om vandag se blapse oor te vertel, party so snaaks dat jy sommer huil van die lag?

Ek dink dat as daar nog jonger kinders in ’n huisgesin is, daar nog baie geleenthede is om te lag, al is dit net vir hulle snaakse sêgoed.

Hoe groter die kinders word, hoe meer boer hulle op die foon en voor die rekenaar en soms voor die TV. Daar geniet hulle die “comedy shows” en lê soos hulle lag. In die werklikheid terug, deel hulle maar min hulle staaltjies met jou want wat hulle ervaar word direk op Facebook en Twitter oorvertel aan hulle lyflose vriende. Dan kom hy of sy met so ’n nuwerwetse selfoon uit die kamer sodat hulle die kommentaar van hulle vriende direk kan lees en is daar nie tyd om met ons te gesels nie.

Ma werk as vryskut, so sy het ook nie tyd om grappies te maak nie. Soveel moontlik moet in ’n dag ingepas word. Haar werk behels die ernstige deel van die lewe, naamlik die regte. Wat gebeur daar wat snaaks kan wees? Sy is ook nie in ’n kantoor werksaam nie want daar sou sy darem nog partykeer oor een van die kollegas se stories kon lag. Tussen die werk deur moet sy ook nog dink aan wat ons vanaand gaan eet. Dan is daar kosaankope, bediendeprobleme en Ouma wat deel is van die huishouding en ook gelukkig gehou moet word.

Pa is ’n konsultant en sy werkdag begin al om 5 vm en hou nie op voor 7 nm nie. Ma en Pa sien mekaar net so skraps. Gesels is net beperk tot naweke want in die week hardloop almal rond om die pot aan die kook te hou. So kan ek hulle nie kwalik neem dat daar nie tyd is vir ’n grappie of twee en dat daar net ernstige gesigte rondom jou is nie.

Ek kan dit nie vergelyk met die dae toe ek nog jonger was en werksure van 8 vm tot 4.30 nm geduur het nie. Naweke kon ons die tentjie inpak en as huisgesin saam ’n tydjie iewers gaan geniet. Nou word selfs naweke ingesluk, want onthou daar is spertye.

Ek sou graag soms die horlosie wou terugdraai en sommer sorgeloos kop-agteroor wou lag oor wat oor ons lewenspad gekom het. Al wanneer daar nog gelag word, is wanneer die familie wat ver bly, kom kuier en staaltjies van lank gelede weer oorvertel word. Maar die kuiers word ook al minder, want hulle verpligtinge word ook meer.

Ons oues wat baie tyd het, kan net verlang na tye toe alles nog op ’n stadiger pas gebeur het. Of verbeel ek my? Miskien het dit vir my so gelyk omdat die generasies nie so apart van mekaar gelewe het nie. Ons het alles saam gedoen. Maar nou sien mens dit by elke partytjie, selfs by kerkbyeenkomste. By ons woon die jong mense net die aanddiens by en die oggenddiens word net weer deur die oueres en diegene met klein kindertjies bygewoon. Soms word mens na ’n geleentheid uitgenooi en dan word daar gemeld dat daar nie vir kinders voorsiening gemaak word nie. Met ander woorde die ouer en jonger geslagte meng nie meer nie.

So, ons lewe regtig bymekaar verby. Ons lag nie saam nie want ons het nie meer tyd vir mekaar nie. Ek hoor soms die jonges sê dat ons oues suurstofdiewe is, maar toemaar, gee tyd, jy gaan ook daar kom!

This entry was posted in Familie, Leefstyl, Ratrace and tagged , , . Bookmark the permalink.

5 Responses to Lag en die wêreld lag saam

  1. Son sê:

    Ons lag so min deesdae, sommer net lekker uit mens se maag uit. Ek onthou hoe ek en my ma en suster saans gelê en lag het vir die stupidste goed, terwyl my stiefpa skofte gewerk het. My ma is ‘n regte ou bangbroek en ek en my suster moes dan by haar in die kamer slaap. Maar dit was van die lekkerste tye wat ek uit my kinderdae kan onthou.

    • klippie sê:

      Ek en my klein dogter het ook so gelag oor die stupid stories wat ek vertel het. Mense weet nie meer hoe om so te lag nie, dalk moet hulle op ‘n kursus gaan waar hulle net stupid stories vir mekaar MOET vertel en dan lag. Lag tot jy huil is al wat ek sê.

    • Olga sê:

      Snaaks hoe ons ma’s altyd ons by hulle laat slaap het sodat ons nie moes bang word as ons in die nag wakker word nie. Vandag sit en giggel ek daaroor en wonder wie was bang.

  2. Olga sê:

    Hello Klippie. Ek dink dikwels dat indien ‘n inbreker of boef buite my vensters moet kom luister wat binne aangaan, sal hy of hulle dink dis ‘n mal mens wie hier woon of huis vol mense soos ek vir myself sit en lag. As ek so aan ‘n post sit en tik en dis ‘n onthoustuk, lag ek weer opnuut vir elke stukkie onthou. Ek woon op die oomblik alleen. Meestal.
    Dit is moeilik met die jeug wie op hulle selfone lewe. Ek dink ‘n mens moet ‘n reël daarvan maak dat hulle hulle selfone net in hulle kamers mag gebruik. My Tumi sit ook en tv en dvd ‘s kyk met die foon in die hand.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s