Tot die dood ons skei

Nou die dag was daar ’n uitnodiging na ’n troue in die pos. Ons word genooi om ’n nuwe fase saam met die voornemende paartjie te vier. ’n Geleentheid waar daar voor God en gemeente belowe gaan word om mekaar lief te hê en getrou aan mekaar te wees. Mekaar by te staan in alle omstandighede. Vir botter of vir wors.

Toe wonder ek so by myself of die paartjie wat daar voor in die kerk staan en die beloftes maak ooit dink aan wat die toekoms gaan behels. Dink hulle ooit verder as die pragtige onthaal, die eksklusiewe rok en swierige partytjie daarna? Want hoekom misluk so baie huwelike na net ’n jaar of drie? Wat ook al die rede is, is dit nie omdat hulle mekaar nie goed ken nie. In sommige van die huwelike wat in egskeidings eindig na ’n kort tyd, was daar eers ’n baie lang verhouding.

Hoekom verdwyn die sterre uit die bruid se oë en verskyn daar net ’n wrang glimlag op haar gesig as jy vra hoe dit gaan? Voor die huwelik het dit vir jou as buitestaander gelyk asof die paartjie, wanneer hulle wel tot troue kom, ’n sielsgelukkige verbintenis sal hê. Dan is hulle skaars getroud en die groot barste verskyn en kort voor lank hoor jy hulle gaan skei.

Ek wil nou nie te kenne gee dat in my huwelik van oor die 50 jaar alles so glad soos seep verloop het nie. Ons ouers het destyds, na die ouersvraery, jou en jou aanstaande laat luister na wat hulle voorskryf. Dit is nou wat hulle gedink het ’n riglyn vir julle verhouding sou wees. Eerstens is ons vermaan om alle probleme en bekommernisse aan die Here op te dra, mekaar aan die Here op te dra in julle gebede soggens en saans, julle verskille by te lê voor slaaptyd.

Verskille was daar natuurlik want ons het mos nie almal dieselfde geaardhede nie. Hy was bietjie kort van draad en ek bietjie meer geduldig. Hulle sê mos “opposites attract”; so dis maar ’n geskaaf en geskuur totdat die twee klippe lekker saam maal.

Soms is finansies ’n groot struikelblok. In ons dae het ons begin met een bankrekening en een was daarvoor verantwoordelik om die geldjies te beheer. Hy (of sy) moes sorg dat dit wat tot ons beskikking was al die gaatjies moes toemaak. Dan was daar ’n rek en strek party maande veral as iets onvoorsiens gebeur het. As daar gesê is dat daar nie hierdie maand genoeg was vir dit of dat nie, het ons hele huisgesin hulle daarna geskik en dit uitgestel tot volgende maand. Soms moes vleis gerek word met ’n lang sous saam met die rys. Wat ingelê is in volop tye kon weer gebruik word in die maande wanneer dit nie so breed gegaan het nie.

Dan is daar nog kinders wat die huweliksbootjie erg kan laat kantel. Ons het reeds vroeg besluit dat waar dit die kinders aangaan, ons eenstemmig moes wees en ook konsekwent. Jou ja was jou ja en jou nee jou nee. Kinders met verskillende geaardhede wat jy verskillend moes benader het altyd vir ’n uitdaging gesorg. Pa het nie altyd met sus saamgestem nie en dan het die twee lekker dwars getrek.

Siektes wat onverwags toeslaan, moet ook hanteer word, veral as dit die ma of pa is wat geraak word.  Dan is daar baie spanning, bekommernis en soms is raak so ’n siekte maar erg aan die beursie. In ons huwelik het siektes ook ’n groot invloed op ons verhouding gehad. Maar genade en krag van Bo het ons staande gehou.

Wat my die ergste kwel, is die kinders wat uit ’n kortstondige huwelik gebore word. Wat hou die kinders oor as herinnering van so ’n huwelik?

In my eie gesin is daar ook so ’n hartseerstorie te skryf oor die letsels wat sulke kinders dra. Die verdeeldheid, hartseer, onsekerheid en verwerping wat hulle deurmaak het ’n baie groot invloed op hulle lewens. Hoe hanteer mens dit?

Die ergste wat my ooit kon tref, is die kinders uit my seun se eerste huwelik wat ek nou glad nie meer kan sien nie. Ma is kwaad vir Pa en het sommer net uit ons lewens verdwyn. Ek mis hulle en kan net hoop: miskien eendag, wie weet?

This entry was posted in Familie, Huislewe. Bookmark the permalink.

6 Responses to Tot die dood ons skei

  1. Mefri sê:

    Ek lees graag hierdie 80jarigedame se blog op wordpress. Haar siel is soos die verruklike geur van Yesterday today and tomorrow blommetjies.

  2. Ziskia sê:

    Tannie se woorde het my oe oop gemaak en my die geleetheid gegee om met n ander perspektief na my vehouding te kyk en dit meetr te waardeur. Dankie en ek wens Tannie alles van die beste toe.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s