Skulpies optel

Vanoggend verlang ek om ‘n lang ent op die strand te gaan stap.

Onmoontlik! Maar in my gedagtes kan ek weer voel hoe die brandertjies oor my voete breek. Dit is laagwater. Die see is glad met net ligte kabbelings. Skulpe wat met hoogwater uitgespoel het word elke oggend vroeg deur my en die kleinkinders wat saam met ons vakansie hou, nageloop. Ons  hoop  natuurlik  om ‘n besonderse skulp raak te loop. Die  kleineres  gee nie om wat se soort skulpe hulle optel nie. Vir hulle is alles ‘n skat. Die groteres loop en soek vir iets wat darem nie so alledaags is nie.

Ons het ‘n tyddeelwoonstel aan die suidkus en vroegoggend nadat Archie ons wakker gesing het, “Opstaan dis ‘n heerlike dag”, drink ons net gou ‘n koppie koffie en eet beskuit.  Die klompie trek hulle baaikostuums aan en na ‘n vinnige tandeborsel is hulle gereed om met emmertjies en plastieksakke te gaan skulpe optel.

Gewoonlik is ons eerste op die strand.  Hulle hardloop vooruit en spring baldadig, loop al op die rand waar die branders laasnag hoog opgestoot het want daar lê al die uitgewerkte skulpies. Ouma moet net bontstaan om oral te kyk wat hulle nou ontdek het. Deesdae mag  men’s nie meer skulpe opted nie en vir my is dit ook nie meer beskore nie. Gelukkig het ek nog altyd van die skulpies wat hulle versamel het. Ek kyk nog daarna en onthou van al ons vroegoggend wandelings op die strand met sonsopkoms.

Nou is hulle al self ouers maar vir ouma bly hulle maar die woelige,spelende klompie.

Toe hulle groter word was dit weer ‘n belewenis om in die rotspoele rond te speel en die klein vissies wat daar rondswem dop te hou, sandkastele te bou en mekaar onder die sand te begrawe.

So word die kinders groter en ons ouer. Belangstellings verander. Ons sien mekaar al minder, net by troues, begrafnisse en soms as hulle ‘ntydjie kan afknyp in hulle besige sosiale lewe. Dan maak hulle net ‘n vinnige draai.

Ouma wil nie kla nie, ook nie neul nie. Ek verlang net terug na ‘n tyd lank gelede. Die skulpies herinner my aan ‘n tyd toe ek nog ‘n belangrike deel van hulle lewens was. Ouma wat hulle aan die slaap gesing het en saam speletjies gespeel het is nou ver in die verskiet. Maar vir ‘n oumens voel dit soos gister.

Ek het gister ‘n doodstyding gekry van iemand wat vir ons nogal baie beteken het. Dit laat mens regtig besef dat jy maar net op geleende tyd lewe. Daarom geniet dit wat op jou pad kom en wees dankbaar vir dit wat God jou geskenk het. Laat gly die skulpies deur jou vingers en onthou van al die lekker tye.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

2 Responses to Skulpies optel

  1. Pollie sê:

    Ja, die verlange na daai lekker sorgelose tye raak soms baie erg! Maar gelukkig het ons die mooi herinneringe. En oumense wat ons baie waardeer al vergeet mens soms om dit vir hulle ook te sê!

  2. Olga sê:

    Ek lees en weet dus wat voorlê. Ek het reeds agtergekom ek sien ‘n sekere oom nie meer in die dorp nie en het vandag na die aftree – oord gery om te gaan uitvind hoekom nie. Die tannie is blind. Ek verneem altyd na hulle maar het hulle (tot my skaamte) nie in drie jaar gesien nie. toe ek egter by die deur praat toe sê die tannie: “Kom in Olga.” Sy is 86.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s