My dogter

Is dit moontlik om altyd dankbaar te wees? Dit is mos baie makliker om te kla as dit voel asof alles gelyk verkeerd loop en die teespoed sommer blou in die blom staan. Soos wanneer alles op een dag skeefloop.

Die wasmasjien het vanoggend net besluit tot hiertoe en nie verder nie; dit verseg net om aan te skakel. Die kinders is laat vir skool. Pa se karsleutels is verle. Boonop het Angel laat weet sy voel nie so lekker nie; sy sal nie vanoggend inkom nie. Jyself voel asof die berge maar vanoggend op jou kan val maar Ma mag mos niks makeer nie. Alles val mos in duie as Ma nie daar is nie. Pa is nie van die geduldigste nie; hy moet eerste gehelp word. Almal moet skarrel en soek na die verditste sleutels. Eintlik word die sleutels onder die stoelkussing ontdek en kan hy darem sy ry kry. Kinders word in die kar gebondel. Ek hoop net hulle het darem al hulle boeke.

Stilte. Nou kan ek darem die vuil kombuis takel. Ek besef nou eers wat Angel vir ons beteken. Gelukkig kan ek nou maar my tyd vat want almal is mos onder my voete uit. Ek drink ‘n koppie koffie op my tyd want almal wat aandag nodig gehad het is weg. Toe onthou ek van die wasmasjien. Hoop maar in my enigheid dit is maar net ‘n klein foutjie en dat die nutsman beskikbaar is om dit gou reg te tower. Ek bel hom gou en hou duim vas dat dit nie ‘n groot fout is wat weer ‘n groot hap in die huishougeld gaan maak nie. Gelukkig is dit toe darem nie ‘n groot fout nie en kan die bondel wasgoed darem gedoen word. Daarvoor is ek baie dankbaar.

Nou kan ek die kombuis takel. Eers die skottelgoed. Al die oppervlakke skoon gevee en ook die vloer gewas. Gou drink ek nog ‘n koppie koffie voordat ek die slaapkamers takel.

Wat ‘n deurmekaarspul. Om die waarheid te se, kompleet nes muisneste. Dat die kinders nog nie weggedra is deur monsters nie is vir my ‘n wonder. In elke kind se kamer is ‘n warboel van goed waarvan ek nie eens die oorsprong kan onthou nie. Waar kom hulle aan al die gemors? Sus se kamer is bestrooi met klere, boeke, CDs en DVDs. Ek wonder hoe Angel weet waar om alles te bere. Dit kos geduld om plek te kry vir al die goed wat rondle. Iewers het Angel ook ‘n ingeboude rekenaartjie om wanneer iemand iets soek dit op te tower.

Boet se kamer het weer onderdele, stokke en halfgeboude kontrepsies waar hy besig is om iets aanmekaar te flans. Bewaar Angel se siel as sy iets sou verskuif en op ‘n plek sit waar hy dit nie direk kan kry nie. Arme Angel.

Ek kom nou eers agter dat sy regtig ‘n engel moet wees. Sy het net daardie aanslag om in ‘n japtrap die kombuis soos iemand anders se kombuis te laat lyk. Silwerskoon en alles op hulle plek. Ek betaal met dankbaarheid haar maandelikse loon. Koop ook af en toe vir haar ‘n ietsie ekstra om te wys dat sy waardeer word vir wat sy doen sonder om te brom.

Na so ‘n dag alleen in die deurmekaar huis is ek bly dat ‘n nuwe dag more aanbreek. Omdat ek van die huis af werk en nie nodig het om kantoor toe te gaan is ek dubbel dankbaar. Ek hoef nie die verkeer te trotseer nie; ook die feit dat ek by die huis is as die kinders van die skool af kom en partykeer kan ek sorg vir ‘n klein verrassing vir ete. As Pa huistoe kom, probeer ek om nie te kla oor alles wat weer vandag verkeerd gegaan het nie. Ek luister terwyl ons eet, verkieslik aan tafel, na almal se gebabbel oor wat in hulle dag gebeur het. Ek is dankbaar dat ons kan deel in mekaar se wel en wee.

Hierdie is ‘n beskrywing van ‘n dag in my dogter se lewe. Nou is ek maar net ‘n toeskouer. Ek bewonder haar wil om dit wat sy doen met oorgawe aan te pak en boonop na Ouma se mankemente te luister en vriendelik te bly.

This entry was posted in Familie and tagged , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s