Skooldae

Gister se skrywe het my weer laat terugdink aan my skooldae. Dit voel vir my nou of dit soveel verskil het van die hedendaagse skoollewe.

In die laerskool het ons een onderwyser gehad wat al die verskillende vakke aangebied en ons het nooit van klas verwissel soos deesdae die gewoonte is nie. So het ons een onderwyser of onderwyseres vir die hele jaar gehad. As jy gelukkig was en meneer of juffrou het jou so bietjie voorgetrek, was dit altyd lekker om skool toe te gaan. Selfs op koue of nat dae. Niks kon jou dan by die huis hou nie want dit was lekker om op skool te wees.

Ons was op ’n plaasskool en dit was soos ’n uitbreiding van ons huis. Die onderwysers het elke kind se agtergrond geken. Daarom was dit nie snaaks wanneer hulle onverwags smiddae na skool sommer ’n koppie koffie by ons aan huis kom drink het nie.

Wanneer een van die onderwysers nuwe weivelde gesoek het en getrek het, was dit kompleet soos ’n begrafnis. Dan moes ons weer aan ’n nuwe onderwyser gewoond raak. En  voordat hy of sy by ons begins skool hou het, was daar die bespiegelinge: sal hy of sy kwaai of streng wees, sal hy of sy van my hou en dies meer. In my laerskooldae was ons egter gelukkig want ons hoef net ’n paar keer met ’n nuwe onderwyser kennis te gemaak het.

Met die aanbreek van my hoërskooljare moes ek egter aan ’n hele nuwe opset gewoond raak. Toe is ek na ’n skool toe waar ek net maar nog ’n leerling was, en daar was nie die persoonlike belangstelling waaraan ons in die laerskool gewoond was nie.

Ek moes ook aanpas by ’n nuwe roetine: klasse verwissel, meer onderwysers en elke vak deur ’n ander onderwyser aangebied. Dit was niks lekker nie. Daarby het ons plaasjapies maar sleg by die stadskinders afgesteek. Ons moes nou ook skooldrag dra en daarby is niemand ooit kaalvoet skool toe nie.

Nou verkyk ek my aan die kinders wat eintlik nie kinders is nie. Hulle lyk vir my so wêreldwys, so asof die lewe vir hulle niks meer nuuts inhou of iets wat nog ontdek moet word nie. Kinders presteer deesdae in vakke waarvan ons nie eens die name of onderwerpe geken het as skoolkinders nie. Partykeer dink ek hulle praat van iets bonatuurliks, soos ruimtewesens of iets dergeliks.

Al wat ek kan sê, is geniet jou kinderjare en jongmensjare. Dit gaan so gou verby en dan bly net herinneringe agter.

This entry was posted in Herinneringe, Oudword and tagged , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Skooldae

  1. Skool was werklik anders toe ons nog skoolgegaan het. Kinders wil vandag te vinnig grootmense wees. My sus se dogtertjie speel nog pop, weet nie veel van selfone af nie en haar maatjies dink dit is vreeslik vreemd!

  2. MaanKind sê:

    Ek ken ook plaasskole. Ek het ‘n storie wat ek eendag sal opsit. Maar dis ‘n seer een.

    • klippie sê:

      Ek weet ook van hartseer dinge by skole, maar wat ek van my laerskooljare onthou, is byna idillies. Ek sou dit graag in fyn besonderhede vir julle wou beskryf, maar ongelukkig het ek nie daardie gawe nie.

  3. murphy sê:

    Hier by ons in die Vrystaat gaan baie van die boere se kinders nog plaasskool toe. Ek is ngoals betrokke by die plaaslike hoërskool, en hoewel die meisies vreeslik gesofistikeerd voorkom as jy hulle ontmoet, kom jy gou agter dis maar nog kind as jy hulle beter leer ken.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s