Dankbaarheid

Hier waar ek in die eetkamer sit kan ek ver uitkyk want die kamer het groot vensters. Reg voor my is ’n groot boom waarin ek die voëls mooi kan dophou. Daar sit drie duiwe bymekaar en ek wonder wat sê hulle vir mekaar. Praat hulle oor die weervooruitsigte soos ons ook soms doen? Dit is koel buite en miskien bespiegel hulle dat dit steeds koud en grou gaan bly of miskien dink hulle dat die weer gaan opklaar en die son gaan skyn.

Hoe lyk dinge vir jou vandag? Het jy hoop vir die toekoms?

Miskien is iemand afgedank by die werk en is daar bekommernis oor waar die geld vandaan gaan kom om huis en haard te behou. Of miskien het jy kinders wat nie ’n vooruitsig het om werk te vind nie. Wat sê ons aan mekaar in sulke omstandighede? Clichés: “Toemaar, alles sal regkom” of, “Môre lyk dinge weer beter.” Maar vir die persoon in daardie posisie lyk dinge maar vaal en mistroostig.

Kyk maar om jou rond en jy sien bekommerde gesigte oral. Baie keer doen mense voor dat dinge goed gaan by die huis maar dit is net ’n masker waaragter hulle skuil. Want mense is bang om te erken dat hulle nie meer in staat is om vir hulle huismense te gee wat hulle nodig het nie. Jy vind dat humeure kort is en dat niemand weet om watter rede dit so is nie. Mense bou skanse waaragter hulle skuil.

Ek sien gereeld op TV hoe dit lyk waar arm mense bly, eintlik nog mense in die fleur van hulle lewens. Dan dink ek hoe dit moet wees om in daardie posisie te wees. Daar is slegs twee kamers waarin ’n gesin moet bly terwyl hulle vir oorlewing afhanklik is van ander se aalmoese.

Dan dink ek aan wat ons alles weggooi. Miskien is dit iets wat iemand nog kon gebruik maar dit is net volgens ons standaarde nie meer geskik nie. Ons het kaste wat so vol is van die klere dat die deure nie behoorlik kan toemaak nie. Soms word ’n kledingstuk net een keer gedra en daarna voel ons dit is uit die mode. Ons spenskaste loop oor en party goed kry miet omdat dit nie gebruik word nie.

In my jong dae het ons ook oorgenoeg gehad om te eet. Die verskil was dat die groente uit ons eie tuin gekom het en ons almal, selfs die jongste kinders, het gehelp om die tuin aan die gang te hou. Daar was nie baie geld of klere nie en daarom het ons ons kerkklere uitgetrek sodra ons by die huis gekom het. Ons huisklere was verbleik en baie gewas terwyl die kerkklere spesiaal vir Sondag gehou is. “Hand me downs” was die norm. Ons het nie ons neuse opgetrek vir die niggies se klere wat te klein geword het nie. Wanneer ons vir mense gaan kuier het, is die kar se kattebak volgepak met groente uit die tuin: pampoen, boontjies, tamaties of sommer ’n paar bottels ingelegde vrugte en blatjang.

Nou nog is dit vir my lekker om uit te deel. Ongelukkig kan ek nie meer self in die tuin vroetel nie, maar daar is darem ’n plantjie of steggie of ’n stukkie klere wat ek nie meer gebruik nie wat ek kan weggee.

Dan dink ek weer aan ons uiteet van Sondag. Die koste daarvan? Genoeg om ’n gesin in so ’n aalmoeshuisie vir ’n maand van kos te voorsien. Ek weet daar word gesê dat mense self moet leer visvang en dat hulle nie alles op ’n skinkbord moet kry nie, maar ek kan nie anders as om te wonder hoe hulle andersins oor die weg sou kom nie.

Die duiwe vlieg op uit die boom en ek dink weer aan wat Jesus gesê het:

Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

En ek besef weer hoe dankbaar ons moet wees vir al ons seëninge.

This entry was posted in Herinneringe, Leefstyl and tagged , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Dankbaarheid

  1. toortsie sê:

    Ja Klippie. Baie dankie dat jy ons herinner. Op die plaas gaan als wat ons nie meer kan of WIL gebruik nie, by die agterdeur uit. Soms is ek skaam omdat ek dink ek beledig die persoon vir wie ek die ding gee, en ALTYD is dit ‘n glimlag van dankbaarheid. Hulle waardeer dit BESLIS, al voel ons soms nie so nie!
    Nou die dag het ek ‘n groot bak drieboneslaai by die deur uitgegee. Die ui het effens swart begin word en ek het geweet dit sal nie meer geëet word nie. Daardie bak slaai is saam met die persoon na ‘n ander huis – seker vir die Sondagmiddagete! Dit maak my skaam!

    • klippie sê:

      Dis wonderlik as mens die dinge nog vir mense in die hand kan gee. My dogter vries gewoonlik oorskietkos wat ons nie verder gaan gebruik nie en sit dit dan Woensdae oggende saam met die vuilgoeddrom uit. Gelukkig is al die honde in ons straat agter toe hekke. Ook ou klere en skoene word so uitgesit. Dit is hartseer om die mense van half sewe af in die sakke te sien krap en te vat wat hulle wil he of nodig het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s