Skooldae (2)

Môrestond het goud in die mond. Dit was altyd my ma se spreekwoord, want ons moes al vroeg-vroeg wikkel. My pa het met ’n trapfiets werk toe gery. Op daardie stadium het hy in ’n fabriek gewerk waar die oggendskof al om sewe-uur begin het. Ons het so 25 myl  (40 km) ver van sy werk af gebly en hy moes net so na half ses in die pad val om betyds by die werk te kon wees. Daarom was die huishouding al van vyfuur af op spoed.

Die kinders moes per bus skool toe gaan. Ons plotkinders het nogal ver uitmekaar gebly en almal moes op verskillende plekke opgelaai word. Daar was nie tyd om die kombers op ’n koue wintersoggend nog bietjie hoër op te trek nie. Uitspring moes jy uitspring, anders sou jy die bus verpas. Geen genade nie! Ons kon ook nie ons ma flous met ’n verskoning van maagpyn of hoofpyn nie. Skooltoe moes ons gaan. Maar, wanneer jy dan in die bus klim, is al die skete vergete en praat en lag jy lekker saam met al die maats.

Ons het so 18 myl (30 km) per bus skool toe gery. Daar was dus nog baie tyd om vinnig die woorde vir jou dikteetoets te leer of om een van die leervakke, soos gesondheidsleer of aardrykskunde, se feite agtermekaar te kry. Nou praat die kinders van Geografie en Biologie, woorde wat ons eers in die hoërskool gehoor het. Wiskunde het ons nie geken nie, wel Rekenkunde, of sommer net “Somme”.

Daardie tyd kon onderwysers jou sommer met die liniaal oor die kneukels raps as jou handskrif nie netjies was nie. Dit was nou vir die meisies; vir die seuns was dit drie van die bestes. Vir daardie liniaal was mens so bang dat jy te alle tye jou mooiste skoonskrif gebruik het. “Skoonskrif” was die vak genoem wanneer jy met pen en ink begin skryf het. En ons is ’n bepaalde metode geleer om te skryf: oplyntjies moes dun wees en die aflyntjies was dik.

In die beginjare, dis nou Sub A en Sub B, het ons met potlood geskryf en eers in Graad 1 het ons na pen en ink gepromoveer. Op die skoolbank was daar ’n holtetjie waarin die botteltjie ink netjies ingepas het. Jy het dan ook ’n pen gekry.

Elke Vrydag was skoonskrifdag. Dan moes jy sinne maak en dit in jou mooiste skoonskrifstyl neerskryf. As ek nou na die kinders se handskrif kyk, kan ek my nie indink hoeveel houe hulle oor die kneukels sou moes kry om daardie handskrif te verbeter nie.

Met hoofrekene het meneer voor in die klas gestaan en getalle genoem wat jy uit jou kop bymekaar moes tel of van mekaar moes aftrek. Die een wat eerste die antwoorde kon verskaf, is baie geprys. Nou moet kinders ’n sakrekenaar uithaal om net twee eenvoudige getalle bymekaar te tel. Praat nie eens van maal of deel nie!

Tafels moes ons so goed ken dat ons dit in ons slaap kon opsê. Dit is by ons ingedril en ek kan nou nog maklik getalle met mekaar vermenigvuldig sonder om ’n sakrekenaar te gebruik. Wanneer meneer die punte uitgelees het, was jy baie in jou skik as jou punte een van die bestes was.

Resitasies opsê, dis nou gedigte voordra, was altyd ’n nagmerrie. Gewoonlik het speeltyd die vorige dag al my tyd in beslag geneem, sodat ek nie altyd mooi kon onthou nie, veral die Engelse resitasies.

Maar die grootste geskenk vir my was om te kan lees. Ek het elke beskikbare tydjie wat daar was nadat ek my werkies by die huis afgehandel het, iewers iets uitgekrap om te lees. Tot my ma se groot frustrasie want sy het geglo lees is tyd mors en as jy met jou hande werk, kan jy die eindresultaat sien van dit waaraan jy jou tyd bestee het.

My pa was my rolmodel daar. Hy het alles wat leesbaar was verslind. Hy was baie in die “dogbox” want hy het baie keer eerder gelees as gepraat. Nou kan ek sê: Dankie, Pa, vir die wêreld wat jy vir ons met jou stories oopgemaak het.

This entry was posted in Herinneringe, Skooldae and tagged , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s