Kombuistee toe en nou

Wanneer laas was jy by iemand se kombuistee? Ek het nog altyd daaraan gedink as ’n onskuldige partytjie waar daar vir die bruid geskenkies gebring word vir haar toekomstige huishouding. Wat was my ontnugtering groot: kondome was die hooftooisel en kondome aan die ore, kondome opgeblaas oral in die vertrek waar die vriendinne bymekaar gekom het.

Dit was vir my as ’n ou vrou nie baie smaakvol nie want wat ek onthou van ’n kombuistee is altyd maar onskuldige pret. Die bruid het potskrapers as oorbelle en vadoeke om die middel gebind gekry. Presentjies was toegedraai in vadoeke en versies vasgespeld aan die pakkie en die voornemende bruid moes raai wat binne-in was. Nou draai alles om seks, versies is dubbelsinnig, en presente het meer met die slaapkamer te doen as die kombuis.

Ag, hoe verlang ek na die tye wat verby is! Ek vind nie die nuwerwetse doen van dinge lagwekkend nie. In die vervolg sal ek maar ’n verskoning uitdink om nie die kombuistee by te woon nie.

Die nuwe neiging waar die voornemende bruid ’n lys laat opstel en die winkel maak geskenkies bymekaar, is miskien ’n beter opsie. Dan hoef sy nie bekommerd te wees dat sy ’n  klomp goed kry wat onnodig is nie. Bruide trou deesdae mos later as in die verlede en meeste het al klaar alles wat hulle nodig het in die huis.

In ons dae was ’n kombuistee veronderstel om ’n geheim te wees. Dan is jy onder voorwendsel van ’n kuier na een van jou vriendinne genooi en wanneer jy daar aangekom het, was die vertrek vol van jou vriendinne en familie.

Ewe seremonieel is daar dan aan jou voorkoms verander: stoflappe, potskuurders, vadoeke is om jou gebind en aan jou gehang en ’n verestoffer in jou hand gestop. Daarna is jy sit gemaak in die middel van die vertrek en almal sing dan vir jou. Nou is die geskenkies een vir een aangedra. Grappies en versies op die geskenke is eers gelees en jy moes raai wat binne in die pakkie is. As jy verkeerd geraai het, het jy iets slegs gekry om te eet of te drink. Almal het gejil en gegil as die raaislag reg was.

Elkeen wat daar was, het ’n bordjie eetgoed en iets om te drink saam gebring. Daar was so ’n gesellige gees dat wanneer die geskenke oopgemaak was, niemand wou huis toe gaan nie. Almal het dan gehelp om die kamer aan die kant te maak en al die geskenke is weer eens bekyk. Daar was ’n  ge-oe en ge-aa en gelag as daar twee blikoopmakers of eierspane was. Alles was ’n groot lekkerte en die bruid kon nie wag om vir haar aanstaande te wys wat hulle nie hoef te koop nie.

Reseppies is ook deur die vriendinne aangegee wat baie gehelp het. Omdat ons met min begin het, en elke sent twee keer omgedraai moes word, was al die geskenke vir ons soos ’n groot skat. Die grootte van die geskenk was nie belangrik nie, wel die liefde waarmee dit gegee was. Die hooftooisels en voorskote van stoflappe en vadoeke was net so waardeer as ’n weelderige handdoek.

Vandag het ek teruggeloop na ’n tyd wat vir party van julle seker eenvoudig klink maar vir ons was dit van onskatbare waarde. ’n Kombuistee was altyd gevul met verrassings.

Deesdae word die partytjie voor die troue mos ’n bachelorette (of so iets) genoem. Daar is nou nie meer ’n verrassingselement nie; drank en ontkleedanse is aan die orde van die dag. Miskien is ek oudmodies, maar ek wens dinge kan weer soos voorheen wees.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

13 Responses to Kombuistee toe en nou

  1. Ek dink dit is dalk ‘n gruwelike veralgemening of ek en my vriendinne is uit die oude doos.

    Baie bruide wat ek ken het twee kombuistee’s – en altwee word geheim gehou. Die eerste een is die een vir die skoonma, oumas en meer konserwatiewe dames. Dit verloop min of meer soos die een wat jy beskryf het.

    Die tweede een is wat ‘n ons ‘n lingerie partytjie noem. Ek was regtig nog nooit by een waar daar kondome was en seksspeletjies gespeel was nie. Toegegee, dit gaan gewoonlik saam drankies en daar kan later die aand uitgegaan word. Die bruid kry onderklere wat sy nooit self sou gekoop het nie, maar dit is nie regtig skandalig nie.

    Goed en wel, daar is soms iets soos ‘n paaldans klas of iets by, maar dit is meer om die girls te vermaak. Die meeste meisies sien ‘n ontkleedanser as af en sal nie sommer een vir ‘n partytjie huur nie. Hulle kan dalk (ek was nog nooit by so ‘n partytjie nie) na ‘n ontkleeklub gaan heelwat later, maar daar word daar net gegiggel. Dit is baie meer onskuldig as ‘n haan partytjie.

    • klippie sê:

      Natuurlik sal die partytjies nie meer wees soos wat ons dit geken het nie, omstandighede het immers verander. Ek beskryf ‘n bepaade partytjie waar ek geskok was omdat alles so kru was. Na die tyd het ek besef dat ek genooi is om die ouma van die bruid, wat my vriendin is, besig te hou. Miskien moes die bruid eerder haar ouma uitgeneem het vir koek en tee ipv om haar ook by die partytjie te he.
      Maar wat jy beskryf klink vir my na gewone jongmens plesierighede.

  2. Ek dink in ‘n mate hang dit dalk baie af waarmee die bruid gemaklik is.

    In elk geval, ek dink die dae van ‘n kombuistee waar kombuisgoed uitgedeel word, is uitgedien. Baie mense, selfs die onskuldigstes onder ons, trek op die laatste in hulle vroeë 20’s uit die huis het. Met die House Warming kry hulle vreemde kombuis goed. Oor die jare skaf hulle verder aan wat hulle benodig – alles jare voordat hulle trou.

    Hulle het dus klaar 3 raspers en nog 3 gaan waarskynlik netso aan iemand anders uitgedeel word.

    • klippie sê:

      Toegegee, baie min mense het deesdae ‘n kombuistee nodig. En “kombuistee” is maar ‘n net ‘n naam wat ek gebruik vir die partytjie voor die troue. Miskien is ek net te oud om jongmensdinge nog te waardeer.

  3. Sannie J van Rensburg sê:

    n Tipiese kombuistee met al die geraai oor naamlose pakkies en dan die slegte goed om te drink, die vreeslike opmaak met potskuurders ens raak vervelig en is uitgedien. So voel ek my ook onthuis by die sogenaamse tee waar dit later so vulger word dat jy asb net wil loop. Is daar dan nie iets styl vol wat van goeie smaak getuig waar ons kan saam kuier, idees kan uitruil met die voornemende bruid, met geskenke wyn, tee, of wat ookal wie wil drink?

    • klippie sê:

      In die ou dae was ‘n kombuistee nuttig omdat meeste mense jonk uit die huis getroud is en regtig baie min vir hulle huise gehad het. Deesdae is ‘n henneparty met ‘n gesellige saam verkeer dalk ‘n beter idee. Wat van al die familie en vriende dra ‘n geliefkoosde resep by wat dan deur die vriendinne in ‘n resepteboek saamgestel word.

  4. annemarie sê:

    Ek is ook totaal uit ” die oude doos ” wat dit betref ! Hou ook meer van die vorige generasie – partytjies !

  5. Hester sê:

    ek stem saam kombuis tee is nie meer soos wat dit was nie, ek en my dogter was so n jaar terug by een en ek het my so geskaam vir wat daar aangegaan het, die bruid was so dronk gemaak, en vieslike goed met haar gedoen, my dogter het my gesmeek asb ma as dit my beurt is ek soek n kombuistee soos wat ma dit kan onthou, n gesellige byeenkoms en hier is ek besig om haar kombuistee te reel sy trou die 19de April 2013, gelukkig is haar groep vriendinne almal soos sy en weet dit is hoe hulle dit ook sou verwag

    • hester sê:

      Ek antw op my eie status ek het my dogter se kombuistee toe gereel dis nou 2 jaar gelede en dit was vet pret en almal kon ni genoeg praat van di lekker geselligheid nie, ek het in di uitnodiging gese ingangsfooi n bra of n g-string vir di bruid en so het my dogter so baie mooi nuwe onderkkere gekry vir haar nuwe begin as n mevrou, tot mooi nagklere natuurlik het ek n lysie gehad wat hulle soek want hul het vir di eerste keer saam ingetrek en vir almal n keuse van goedjies wat hul kort, ek het spesiale hempies laat maak deur my skoonseun bruid, strooimeisie en ma van di bruid en skoonma van di bruid dan soos my dogter n geskenk oopmaak moes di een wat di geskenk gekoop het met lipstiek haar voorletter op my dogter se gesig geskryf het kan regtig met eerlikheid se ek is n trotse ma

  6. Alet Malherbe sê:

    Ons het my skoondogter se kombuis tee die 1ste Maart. Hulle het alreeds huis saam gekoop en woon vir n paar jaar al saam. Sy het gevra dat daar op haar kombuis tee asseblief skoonmaakgoed gebring word. Ek dink dit is n baie goeie idee want dit is nogal n duur storie. Elkeen moet dan n blikkiekos saam bring wat toegedraai is in n iets met n boodskappie op wat sy dan moet raai wat in die blikkie is. Hulle trou die 6de Maart op die strand in Durban en dan gaan ons op die boot en die Saterdagaand het ons die seremonie op die boot.

  7. Sparkle sê:

    Nee, jy is verseker nie oudmodies nie Klippies. So 2 jaar terug was ek ook by een van hierdie “kombuistee’s” en dit was so onsmaaklike storie. Ek kon nie wag om pad te vat huis toe nie.

    As ek mag byvoeg mens kry we’ll nog van daardie ordentlike kombuistee’s waarna jy verwys het, ongelukkig is dit meestal die van kerk\selgroepies.

    Die beste rampartytjie waarvan ek weet is dan elke man vir die bruidegom gereedskap moes bring as ‘n geskenk. Daarna het die ouens paintball gaan speel

  8. Adel sê:

    So met die deurlees, loop my trane weer soos die nag toe ek my hart uitgehuil het oor my kinders se batchelors- en batchelorette-partie [?spelling] Hulle het reeds ‘n seuntjie van ‘n paar maande gehad en ek het,… halfpad deur die vieslike storie, waar van die sogenaamde vriendinne se elke-tweede-woord gedrup het van vloeke, … met hom pad gevat. Agterna het ek aan hulle genoem dat dit allesbehalwe christelik was, maar my skoondogter het gesê ek moet onthou hulle trou net een keer.
    Ek het so vuil gevoel, die hele vloer was vol opgeblaasde kondome en toe van die ander gaste se driejarige dogtertjies met die ‘balonne’ wou speel, is hulle belet en later is hulle buite die sitkamer uitgesluit want toe moes die voornemende bruid ‘n besem vat en en en ….
    Daardie kinders het so gehuil omdat hulle ma’s hulle uitgejaag het. Ek is toe daar weg maar huil vandag nog daaroor as ek net dink hoe ‘n wonderlike geleentheid vir my kinders, vervlak is tot ‘n vieslike vulgêre besigheid. Ek wou op my knieë gaan en God smeek om my kinders te vergewe en hulle nie in hul huwelik, hul deelname aan daardie spul teen hulle te hou nie, maar ek kon dit eers weke later reg kry. Daaardie aand het ek gesukkel om die vuil van my af te was.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s