Die sondes van die ouers

Hierdie dag breek aan met ’n grappige sms wat my skoondogter vir my gestuur het. Die sms spreek van hoop maar het ook ’n stertjie wat ’n glimlag ontlok. Dis maklik vir iemand wat ’n dag vol verwagtinge tegemoet gaan, dink ek. Maar in my skoondogter se geval?

My skoondogter se kleinkind wat miv-positief* is, kuier by haar. Hulle speel skool-skool en Meisiekind babbel ouma se ore van haar kop af. Dan, as ouma iets anders wil doen, word sy kort-kort teruggeroep want dit is tyd om mevrou-mevrou te speel. Ek bewonder my skoondogter wat altyd so die blink  blink kant wys al is sy so beswaard oor hierdie kleinkind van haar.

Meisiekind was siek en ’n paar dae in die hospitaal en moes nou eers vir ’n paar dae kom aansterk by ouma waar sy nie met ander kinders in aanraking kan wees nie. Meisiekind se immuniteit is baie laag en ouma-hulle is op die platteland. So kan ouma nou bietjie popspeel en haar lekker pamperlang sonder dat daar gevaar is dat sy dalk een of ander siekte van haar kleuterskoolmaatjies kry. Gelukkig hoef sy ook nie nou vroeg-vroeg al uit haar warm bedjie te klim om kleuterskool toe te gaan nie.

Dank die Vader dat daar iemand was wat empatie en ook simpatie het om om te gee vir ’n klein mensie wat andersins miskien al dood sou gewees het. Die Here se weë is onverstaanbaar.

Feit is dat ek, wat uit die apartheidsera kom, dit maar moeilik gevind het om die situasie te aanvaar. Met Meisiekind was dit vir my aanvanklik onmoontlik om te aanvaar dat iemand oop oë haarself in so ’n situasie sou begewe. Meisiekind se ma het so gedrink dat die vooruitsig van fetale alkoholsindroom nie uitgesluit was nie. Maar met haar nuwe mamma se versorging – die regte kos, liefde en baie aandag – het die situasie toe nie te sleg gelyk nie.

Meisiekind het normaal ontwikkel en ons was seker dat sy geensins enige letsels sou oorhou van haar ma se vergrype nie. Al wat opvallend was, was dat sy maklik siek geword het. Maar toe het sy begin gewig verloor, soveel so dat sy naderhand minder as ’n 18-maande oue baba geweeg het. Sy het ook makliker verkoue gekry en kort-kort ontsteekte ore gehad.

Mettertyd was haar mamma moedeloos en raadop. Met ’n opvolgbesoek dring sy daarop aan dat die dokter haar na ’n pediater verwys. Meisiekind word in die hospitaal opgeneem en daar doen hulle intensiewe toetse wat toe bewys dat sy MIV-positief is. Dit was ’n skok want almal, maar meeste haar mamma, het geglo dat sy nie geïnfekteer was nie. Ons het almal gedink dat as sy gesond eet en nie meer met haar biologiese ma in kontak kom waar sy dalk met verkeerde kos en behandeling in aanraking sou kom nie, sy gesond sou wees.

Nou ontvang sy ARV-behandeling en lyk sommer heelwat beter. Maar haar mamma moet baie versigtig wees dat sy nie een of ander kindersiekte opdoen of verkoue of griep kry nie. Maar hoe hou jy ’n kind wat so graag wil hardloop, spring en swem uit die gevaar? Daarom is haar ouma se hulp nou baie belangrik want by haar ouma kan sy in ’n oop, vrye omgewing herstel na haar kort verblyf in die hospitaal.

By al hierdie swaarkry, is ons meisiekind nou ook met fetale alkoholsindroom gediagnoseer. Al lyk op die oog af heel normaal het die arbeidsterapeut bevind dat haar ontwikkelingsvlak dié van ’n driejarige is en dat sy volgende jaar na ’n spesiale skool sal moet gaan.

Dus probleemvry is sy definitief nie. Daar kom nou die stigma wat kleef aan MIV, miskien nie van ander kinders nie, maar wel van hulle ouers. ’n Kwelpunt vir haar mamma is of sy moet stil bly daaroor of vir ander mense moet vertel. Is dit jou plig om die mense om jou in te lig? En met sulke inligting maak jy ander mense soms heeltemal bevooroordeeld. Kinders kan wreed wees, maar ouers soms nog wreder. Daarby kom die besorgdheid oor wat die toekoms inhou vir ’n kind met ontwikkelingsprobleme en dan is daar nog die normale bekommernis wat ouers met kinders het. Maar miskien loop ek die tyd te ver vooruit en eerder bid dat hulle krag het om elke dag met geloof en hoop aan te pak.

This entry was posted in Familie, Huislewe, MIV and tagged , , . Bookmark the permalink.

One Response to Die sondes van die ouers

  1. Van die wal af dink ek dat die onderwysers in kennis gestel moet word, Veral as daar ‘n knie oopgeval word, dit kan ‘n gevaar vir die onderwyser en ander kinders wees.

    Dit is egter waar dat grootmense baie wreed kan wees. Ek het een keer jare terug van ‘n geval gelees waar ‘n MIV + kind elke keer wat sy geval het, vir almal te skree om weg te bly of hulle sal dood gaan. Dit is hartseer en onnodig.

    In ‘n ideale wêreld behoort versorgers altyd handskoene te dra waar ‘n wond versorg word. Maar party mense is mos verhewe.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s