Rugby

My kleinseun kom hierdie naweek kuier. Ons twee kom wonderlik oor die weg en kan nou hierdie naweek heerlik saam rugby kyk sonder om op mekaar se tone te trap. Hy is ’n Sharks ondersteuner en ek ’n Bulls ondersteuner. Gelukkig is hierdie twee spanne nou albei uitgeskakel en kan ons twee saam skree vir die Stormers. Ons kan korswel en kritiseer sonder om ’n seer toon raak te trap.

Toe die Bulls teen die Sharks verloor het, het hy spesiaal gebel om dit in te vryf. Meeste van my familie is Blou Bulle en ons harte is maar seer dat die Bulls dit nie gemaak het nie maar nou kan ons almal op die Stormers konsentreer. My kinders bly ver uitmekaar in die Limpopo, Mpumalanga en Gauteng maar as die Bulls speel, staan hulle bankvas agter hulle span.

Aanvanklik het ek nie so baie vir spesifieke spanne omgegee nie. Namate die kinders groter geword het, het ek meer tyd gehad om na sportprogramme te luister. Onthou, daardie dae het ons nog nie TV gehad nie. Spiekeries se kommentaar oor die radio is al wat daar was, veral as jy ’n duisend kilometer ver van ’n sportveld af was. Vir die duur van die wedstryd was die radio net vir my ou man se ore bedoel. Maar in watter provinsie ons ons ook al bevind het, was hy onwrikbaar Noord-Transvaal. Daardie span kon nie ’n voet verkeerd sit in sy oë nie. As die span verloor het, was my ou man skoon siek. Nogtans was hy nie so fanaties soos die Bulls ondersteuners deesdae is nie: hoede met horings, blou gesigte, ringe deur die neus – noem maar op. Dan ook nog Bulls vlae, T-hemde met allerhande slagspreuke, noem dit en dit is daar.

Ek wonder wat my ou man sou gesê het van al die nuwe reëls. Vars bene was in daardie dae ongeken. As iemand vir ’n span gekies is, moes hy enduit speel, moeë bene of te not. Die nuwe skrumreëls (waarvan ek maar min weet). En male sonder tal sou hy ook die skeidsregter blameer vir die oorsaak van sy span se verloor.

Later, toe ons sportuitsendings op TV gehad het, was my ou man natuurlik in die sewende hemel. Nou kon hy elke beweging dophou en skree soveel as wat hy wou – veral op die skeidsregter om sy oë oop te maak.

My eintlike belangstelling in rugby het eers na sy dood begin. Van pure weet nie wat om te doen nie, het ek maar begin kyk. Ek ken maar min van die reëls, maar kan lekker saam skree as daar ’n drie gedruk word of ’n skop oorgesit word.

So ’n jaar of wat gelede het ons by die hospitaal uitgestap gekom. En alhoewel ons in ’n oorwegend Engelse gemeenskap bly, praat ek altyd eerste Afrikaans met almal wat ek teëkom. ’n Swart man wat buite op die stoep gestaan het, het my en my dogter hoor praat en ons toe voorgekeer met die woorde van Steve Hofmeyr: “Ek is ’n Blou Bul, ek eet nie van die vloer af nie.” Duidelik het hy my as Blou Bul ondersteuner herken en het ons vir ’n wyle lekker saamgesels oor ons span. Of dit net die Afrikaans is wat hom daarvan oortuig het dat ek ’n Bulls ondersteuner is, sal ek nie weet nie.

Vir nou kan ek net sê: Bulls, geniet julle ruskansie en laat ons môre soos een man agter die Stormers staan.

This entry was posted in Rugby, Sport and tagged . Bookmark the permalink.

One Response to Rugby

  1. murphy sê:

    Ek neem maar die rugby op vandag, Stilman werk dwarsdeur die naweek.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s